1 KONINGS 10:14-29

1 KONINGS 10:14-29 AFR83

Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop, behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het. Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik. Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat twee kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou. Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk agter was rond. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen. Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie. Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie. Die koning het 'n vloot gehad wat saam met dié van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane. Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid. Die hele wêreld het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor. Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan. Salomo het 'n mag van strydwaens en ruiters bymekaargebring. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend ruiters gehad. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem. Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld. Perde is vir Salomo uit Egipte en Kewé ingevoer. Die handelaars wat deur die koning aangestel is, het hulle daar gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is. Om 'n wa uit Egipte in te voer, het net minder as sewe kilogram silwer gekos, en 'n perd ongeveer een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan die Hetitiese en die Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 KONINGS 10:14-29

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid