1 KORINTIËRS 7:1-40

1 KORINTIËRS 7:1-40 AFR83

Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie. Dit sê ek as 'n tegemoetkoming, nie as 'n bevel nie. Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dít en die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word. Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag 'n man ook nie van sy vrou skei nie. Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie. Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe. Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red? Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het. Hy moet bly wat hy was toe God hom geroep het. So skryf ek dit ook aan al die gemeentes voor. As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand 'n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie. Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou. In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. As jy 'n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik. 'n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers 'n vrygemaakte van die Here. Net so ook is 'n vry man wat deur die Here geroep is, nou 'n slaaf van Christus. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie. Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is. Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is: as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie. Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as 'n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar. Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan. Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag. Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie. Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy 'n goeie ding. Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter. 'n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met 'n gelowige is. Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.