1 KORINTIËRS 7:1-40
1 KORINTIËRS 7:1-40 Bybel vir almal (ABA)
Ek wil nou praat oor die dinge wat julle vir my geskryf en gevra het. Julle sê dit is goed dat 'n mens nie trou nie. Maar ek sê: Baie mense lewe onsedelik, daarom moet elke man sy eie vrou hê en elke vrou moet haar eie man hê. Wanneer 'n man en 'n vrou getroud is, dan moet hulle altwee saamstem om gereeld seks te hê met mekaar. Die vrou se liggaam behoort nie aan haarself nie, dit behoort aan haar man. En die man se liggaam behoort ook nie aan homself nie, dit behoort aan sy vrou. 'n Man en sy vrou moenie ophou om met mekaar seks te hê nie. Maar hulle mag saam besluit om 'n tyd lank nie seks te hê nie sodat hulle meer tyd kan hê om te bid. Daarna moet hulle weer bymekaarslaap sodat die Satan hulle nie kan verlei nie, want party mense kan nie lank sonder seks bly nie. Maar onthou, ek sê net julle kán ophou om seks te hê wanneer julle meer wil bid, ek sê nie julle móét ophou om seks te hê nie. Ek wens dat alle mense ongetroud was soos ek. Maar God gee vir elke mens sy eie genadegawe. Hy gee vir die een mens een soort gawe, en Hy gee vir die ander mens iets anders. Ek sê vir die mense wat nie meer getroud is nie, spesiaal vir die weduwees: Dit is vir hulle goed dat hulle ongetroud bly soos ek. Maar as dit vir hulle té moeilik word om nie seks te hê nie, dan moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om altyd lus te wees vir seks. En ek sê vir die mense wat getroud is, nee, dit is nie ék wat sê nie, dit is die Hére wat sê: 'n Vrou mag nie van haar man skei nie. Maar as sy skei, dan moet sy ongetroud bly, of sy moet weer teruggaan na haar man toe. Die man mag ook nie van sy vrou skei nie. Daar is ook die probleem van iemand wat getroud is met 'n man of vrou wat nie 'n gelowige is nie. Die Here Jesus het nie iets spesiaal daaroor gesê nie, maar ék wil iets daaroor sê: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is, en die ongelowige vrou is tevrede om saam met haar man te lewe, dan moet die gelowige man nie van sy vrou skei nie. Dit is dieselfde met 'n gelowige vrou: As sy met 'n ongelowige man getroud is, en die ongelowige man is tevrede om saam met sy vrou te lewe, dan moet die gelowige vrou nie van haar man skei nie. Want omdat die ongelowige man getroud is met die gelowige vrou, sal hy miskien ook later aan God behoort. En omdat die ongelowige vrou getroud is met die gelowige man, sal sy miskien ook later aan God behoort. As dit nie so was nie, dan sou hulle kinders nie aan God behoort het nie, maar nou behoort hulle kinders aan God. Maar as die óngelowige man of vrou wil skei, dan moet julle nie vir hulle keer nie, want God wil hê daar moet vrede wees tussen 'n man en sy vrou. Niemand kan sê die gelowige man of vrou móét getroud bly nie. Die gelowige vrou kan nie seker weet dat sy haar ongelowige man vir God sal kan red nie. En die gelowige man kan nie seker weet dat hy sy ongelowige vrou vir God sal kan red nie. Daar sal party mense wees wat skei, maar ek wil vir julle sê wat julle moet doen: Elkeen moet aanhou lewe soos hy of sy is: As hy getroud is, dan moet hy getroud bly, of as hy ongetroud is, dan moet hy ongetroud bly. Jy moet aanvaar wat die Here vir jou in die lewe gegee het. Jy moet bly soos jy was toe God jou gekies het om aan Hom te behoort. So moet elkeen sy of haar werk doen. Dit is wat ek vir al die gemeentes sê. As jy besny was toe God jou gekies het, moenie dan probeer om weg te steek dat jy besny is nie. En as jy nie besny was toe God jou gekies het nie, moenie dan vra dat iemand jou moet besny nie. Dit is nie belangrik om besny te wees of nie besny te wees nie. Maar wat belangrik is, is dat jy gehoorsaam moet wees aan die wette van God. Daarom moet elkeen bly soos hy was toe God hom gekies het. As jy 'n slaaf was toe God jou gekies het, dan moet jy nie daaroor bekommerd wees dat jy 'n slaaf is nie. Maar as jou eienaar jou wil laat gaan om vry te wees, dan kan jy dit aanvaar en jy kan 'n vry man of vrou word. Dit maak nie saak of jy 'n slaaf is en of jy vry is nie, want as jy 'n slaaf is en die Here het jou gekies, dan is jy vry omdat jy aan die Here behoort. En as jy vry is en die Here het jou gekies, dan is jy 'n slaaf van Christus. Christus het baie duur betaal om julle te koop. Daarom moet julle nie slawe van mense wees nie. My vriende, julle moet vir God dien en aanhou lewe soos julle gedoen het toe Hy julle gekies het. Julle moenie iets anders probeer wees nie. Die Here het nie spesiaal iets gesê vir die jongmense wat nog nie getroud is nie. Maar ek wil vir julle sê wat ek dink julle moet doen. Die Here was goed vir my, julle kan nou vir my glo. Die mense sal baie swaar kry in die tyd wat kom. Daarom dink ek dit is goed as iemand bly soos hy is, getroud of nie getroud nie. As hy getroud is, dan moet hy nie skei nie. As hy nie getroud is nie, dan moet hy nie trou nie. Maar as 'n jongman trou, dan doen hy nie sonde nie. En as 'n jongmeisie trou, dan doen sy nie sonde nie. Maar getroude mense sal swaarkry omdat daar so baie dinge is wat mense moet doen wanneer hulle getroud is, en ek wil nie hê julle moet swaarkry nie. My vriende, ek waarsku julle dat die tyd kort is voordat Christus weer kom. Daarom moet die mense wat getroud is, wees soos mense wat nie getroud is nie. Die mense wat huil, moet wees soos mense wat nie huil nie. Die mense wat bly is, moet wees soos mense wat nie bly is nie. Die mense wat dinge kan koop, moet wees soos mense wat niks het nie. En die mense wat baie besig is in die wêreld, moet wees soos mense wat dink die wêreld is nie belangrik nie. Want die wêreld soos dit nou is, sal verdwyn. Ek wil graag hê julle moenie bekommerd wees oor dinge nie. As 'n man nie getroud is nie, dan het hy tyd om besig te wees met die dinge van die Here. Hy probeer dinge doen waarvan die Here hou. Maar as 'n man getroud is, dan is hy besig met die dinge van die wêreld. Hy probeer dinge doen waarvan sy vrou hou. 'n Getroude man kan nie net aan die Here dink nie, want hy moet ook dink aan sy vrou. Dit is dieselfde vir 'n vrou. As 'n vrou nie meer getroud is nie, of as sy nog nooit getrou het nie, dan kan sy besig wees met die dinge van die Here. Sy wil haar hele lewe aan die Here wy. Maar as 'n vrou getroud is, dan is sy besig met die dinge van die wêreld. Sy probeer dinge doen waarvan haar man hou. Ek sê dit omdat ek probeer om julle te help. Ek wil nie hê dat die lewe vir julle moeilik moet wees nie. Nee, ek wil hê julle moet reg lewe en julle moet julleself heeltemal wy aan die Here, julle moenie dat iets of iemand julle laat dink aan ander dinge nie. As 'n jongman verloof is en hy dink hy doen nie reg aan sy verloofde nie, en hy wil baie graag by haar slaap, dan moet hy met haar trou. Hy doen nie sonde as hy met haar trou nie. Hy en sy verloofde moet trou. As 'n jongman verloof is, maar hy besluit dat hy nie by sy verloofde wil slaap nie, en hy glo vas hy moenie met haar trou nie, dan doen hy reg as hy nie met haar trou nie. Maar niemand moet vir hom sê hy mag nie met haar trou nie. Dit beteken dat as 'n jongman met sy verloofde trou, dan is dit goed. Maar as die jongman nie trou nie, dan is dit beter. As 'n vrou met haar man getroud is, dan mag sy hom nie los nie. Maar as die man sterf, dan kan sy weer met enige iemand trou, maar dit moet iemand wees wat ook in die Here Jesus glo. Maar ek dink so 'n weduwee is gelukkiger as sy nie weer trou nie. En ek dink dat die Gees van God my ook lei om vir julle te sê wat julle moet doen.
1 KORINTIËRS 7:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MET betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het — dit is goed vir 'n man om 'n vrou nie aan te raak nie. Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê. Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir 'n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie. Maar dit sê ek by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie. Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders. Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek; maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie; en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie. Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder 'n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie; en as 'n vrou 'n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep. Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red? Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes. Is iemand as 'n besnedene geroep — hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep — hy moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God. Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, 'n slaaf van Christus. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie. Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God. In verband met die maagde het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat deur die barmhartigheid van die Here betroubaar is. Ek meen dat dit goed is vanweë die aanstaande nood — dat dit goed is vir 'n mens om so te bly. Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie; is jy los van 'n vrou, moenie 'n vrou soek nie. Maar as jy tog trou, sondig jy nie; en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar sulke mense sal verdrukking hê vir die vlees, en ek wil julle spaar. Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie; en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie; en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby. En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag. Daar is ook onderskeid tussen 'n vrou en 'n maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man sal behaag. Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie, maar met die oog op 'n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here. Maar as iemand meen dat hy onwelvoeglik met sy maagd handel as sy oor die jeugdige leeftyd is, en dit so moet wees, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig nie. Laat hulle trou. Maar hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy maagd te bewaar, hy doen goed. Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter. 'n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here. Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.
1 KORINTIËRS 7:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie. Dit sê ek as 'n tegemoetkoming, nie as 'n bevel nie. Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dít en die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word. Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag 'n man ook nie van sy vrou skei nie. Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie. Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe. Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red? Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het. Hy moet bly wat hy was toe God hom geroep het. So skryf ek dit ook aan al die gemeentes voor. As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand 'n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie. Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou. In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. As jy 'n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik. 'n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers 'n vrygemaakte van die Here. Net so ook is 'n vry man wat deur die Here geroep is, nou 'n slaaf van Christus. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie. Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is. Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is: as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie. Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as 'n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar. Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan. Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag. Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie. Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy 'n goeie ding. Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter. 'n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met 'n gelowige is. Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.
1 KORINTIËRS 7:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Verder, met verwysing na waaroor julle geskryf het: “Dit is goed vir 'n man om nie met 'n vrou omgang te hê nie.” Maar om onsedelikheid te voorkom, laat elke man sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man. Laat die man sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man. Die getroude vrou het nie seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man wel; net so het die man ook nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou wel. Moet julle nie van mekaar weerhou nie, behalwe as julle ooreenkom om dit vir 'n tyd lank te doen om julle aan gebed te kan wy. En kom dan weer bymekaar, sodat Satan julle nie verlei as gevolg van julle gebrek aan selfbeheersing nie. Dit sê ek as toegewing, nie as voorskrif nie. Ek wens alle mense kon soos ek wees; maar elkeen het 'n eie gawe van God ontvang, die een dit, die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is om ook soos ek te bly. Maar as hulle nie hulleself kan beheer nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. Aan dié wat getroud is, gee ek die opdrag – nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, laat sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. 'n Man mag ook nie van sy vrou skei nie. Maar aan die ander sê ek – nie die Here nie: As 'n broer 'n ongelowige vrou het wat instem om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie, en 'n vrou met 'n ongelowige man wat instem om by haar te bly, moet nie van hom skei nie. Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders •onrein wees, maar nou is hulle heilig. As die ongelowige egter wil skei, laat hy skei; in sulke gevalle is die broer of suster nie gebonde nie. God het julle egter geroep om in vrede te leef. Want hoe weet jy, vrou, of jy nie jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie jou vrou sal red nie? Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het. En so reël ek ook in al die •gemeentes. Iemand wat besny was toe hy geroep is, moet dit nie ongedaan laat maak nie. Iemand wat onbesny was toe hy geroep is, moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis beteken nie iets nie, die onbesnedenheid beteken nie iets nie, maar wel die gehoorsaamheid aan God se gebooie. Laat elkeen bly in die situasie waarin hy was toe hy geroep is. Is jy geroep toe jy 'n slaaf was, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy tog kan vry word, maak ten alle koste daarvan gebruik. Want die slaaf wat deur die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; net so is die een wat as 'n vry mens geroep is, 'n slaaf van •Christus. Julle is duur gekoop; moenie langer slawe van mense wees nie. Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is. Wat maagdelikheid betref, het ek nie 'n voorskrif van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat, as begenadigde van die Here, betroubaar is. Weens die nood wat op hande is, meen ek dat dit vir 'n mens goed is om te bly soos jy is. Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie die band breek nie; is jy nie aan 'n vrou verbonde nie, moenie 'n vrou soek nie. As jy egter trou, sondig jy nie, en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar wie trou, sal in hierdie lewe swaarkry – en dit wil ek julle spaar. Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het. Wie 'n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie 'n vrou het nie; wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie; en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, terwyl die getroude man besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; sy aandag is dus verdeeld. Die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die belange van die Here, sodat sy na liggaam en gees geheilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg oor die dinge van die wêreld, hoe om haar man te behaag. Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand dink dat hy onbehoorlik teenoor sy maagd optree, as sy begeerte te groot word, en hy oordeel dat dit so moet wees, moet hy sy voorneme uitvoer; hy sondig nie – laat hulle trou. Maar iemand wat in sy hart vas oortuig is – nie uit noodsaak nie, maar deur volle beheer oor sy wil – en in sy hart besluit om sy maagd te eerbiedig, tree reg op. Daarom tree hy wat met sy maagd trou reg op, maar hy wat nie trou nie, sal beter optree. 'n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef; maar as haar man ontslaap het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. Tog sal sy, na my mening, gelukkiger wees as sy bly soos sy is. En ek glo dat ook ek die Gees van God het.
1 KORINTIËRS 7:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En oor die dinge waarvan julle aan my geskryf het: Dit is goed vir 'n man om nie aan 'n vrou te raak nie. Maar om hoerery te vermy, moet elke man sy eie vrou hê, en laat elke vrou haar eie man hê. Laat die man die vrou die nodige welwillendheid vergeld, en so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so het die man ook nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Bedrieg julle nie met mekaar nie, behalwe met toestemming vir 'n tyd, sodat julle julle kan oorgee aan vas en gebed; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie verlei oor julle inkontinentheid nie. Maar ek spreek dit met toestemming en nie uit gebod nie. Want ek wil hê dat alle mense net soos ek self moet wees. Maar elkeen het sy eie gawe van God, een op hierdie manier en 'n ander daarna. Ek sê dan vir die ongetroudes en weduwees: Dit is goed vir hulle as hulle net soos ek bly. Maar as hulle nie kan inhou nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om te verbrand. En aan die getroudes beveel ek, maar nie ek nie, maar die Here: Laat die vrou nie van haar man skei nie. Maar as sy weggaan, laat sy ongetroud bly of met haar man versoen; en laat die man nie van sy vrou skei nie. Maar met die ander spreek Ek, nie die Here nie: As enige broer 'n vrou het wat nie glo nie, en sy wil graag by hom woon, laat hy haar nie verstoot nie. En die vrou wat 'n man het wat ongelowig is, en as hy dit goedvind om by haar te woon, moet sy hom nie verlaat nie. Want die ongelowige man word deur die vrou geheilig, en die ongelowige vrou word deur die man geheilig; anders was julle kinders onrein; maar nou is hulle heilig. Maar as die ongelowige weggaan, laat hom weggaan. 'n Broer of 'n suster is in sulke gevalle nie onder slawerny nie, maar God het ons tot vrede geroep. Want wat weet jy, o vrou, of jy jou man sal red? of hoe weet jy, o man, of jy jou vrou sal red? Maar soos God aan elke mens uitgedeel het, soos die Here elkeen geroep het, so laat hy wandel. En so orden ek in alle kerke. Word iemand geroep om besny te word? laat hom nie onbesnede word nie. Is iemand in onbesnedenheid geroep? laat hom nie besny word nie. Die besnydenis is niks, en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God. Laat elkeen in dieselfde roeping bly waarin hy geroep is. Is jy 'n dienskneg genoem? sorg nie daarvoor nie, maar as jy vrygemaak kan word, gebruik dit eerder. Want hy wat in die Here geroep is, wat 'n dienskneg is, is die vryman van die Here; net so is hy wat geroep is, wat vry is, die dienaar van Christus. Julle word duur gekoop; wees nie die mense se diensknegte nie. Broeders, laat elke mens waarin hy geroep is, daarin by God bly. En aangaande maagde het ek geen gebod van die Here nie; tog gee ek my oordeel soos een wat barmhartigheid van die Here verkry het om getrou te wees. Ek dink dan dat dit goed is vir die huidige benoudheid, sê ek, dat dit goed is vir 'n mens om so te wees. Is jy aan 'n vrou gebonde? soek om nie losgemaak te word nie. Is jy losgemaak van 'n vrou? soek nie 'n vrou nie. Maar as jy trou, het jy nie gesondig nie; en as 'n maagd trou, het sy nie gesondig nie. Maar sulke mense sal moeilikheid in die vlees hê, maar Ek spaar julle. Maar dit sê ek, broeders, die tyd is min. En die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie; En die wat hierdie wêreld gebruik, as om dit nie te misbruik nie, want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby. Maar ek wil hê dat jy sonder omsigtigheid moet wees. Hy wat ongetroud is, sorg vir die dinge wat aan die Here behoort, hoe hy die Here kan behaag: Maar hy wat getroud is, sorg vir die dinge wat van die wêreld is, hoe hy sy vrou kan behaag. Daar is ook 'n verskil tussen 'n vrou en 'n maagd. Die ongetroude vrou sorg vir die dinge van die Here, sodat sy heilig kan wees na liggaam en gees; maar die getroude sorg vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man kan behaag. En dit spreek ek vir julle eie gewin; nie dat ek 'n strik oor julle kan gooi nie, maar oor wat mooi is, en dat julle die Here sonder afleiding kan ag gee. Maar as iemand meen dat hy hom onwelvoeglik teenoor sy maagd gedra, as sy die blom van haar ouderdom verbygaan en dit nodig het, laat hom doen wat hy wil, hy sondig nie; laat hulle trou. Maar hy wat in sy hart standvastig staan sonder dat dit nodig is, maar mag het oor sy eie wil, en so in sy hart besluit het dat hy sy maagd sal bewaar, doen goed. Daarom doen hy wat haar in die huwelik gee, goed; maar hy wat haar nie in die huwelik gee nie, doen beter. Die vrou is deur die wet gebonde solank haar man lewe; maar as haar man dood is, is sy vry om te trou met wie sy wil; net in die Here. Maar sy is gelukkiger as sy so bly na my oordeel; en ek dink ook dat ek die Gees van God het.
1 KORINTIËRS 7:1-40 Die Boodskap (DB)
Nou kom ek by die vrae in julle brief. Daar is niks mee verkeerd as iemand nie trou nie. Dit gee egter nie vir so iemand die groen lig om maar seksueel te leef soos hy wil nie. Die versoekings is maar groot. Seks is bedoel vir die huwelik en daarom is dit beter dat mense liewer trou en elkeen so sy eie maat het. Ek bedoel dat hulle werklik seksuele maats vir mekaar moet wees en dit vir mekaar aangenaam moet maak. In die huwelik kan die vrou nie maak asof die man geen sê oor haar liggaam het nie. Dieselfde geld vir die man. Die vrou kan ook aanspraak maak op sy liggaam. Hulle moet vir mekaar beskikbaar wees, veral op seksuele gebied. Hou mekaar op seksuele gebied gelukkig, behalwe as julle saam besluit om ’n rukkie lank nie saam te verkeer nie. Dit kan byvoorbeeld gebeur as julle ’n ruk lank op ’n spesiale manier op gebed wil konsentreer. Kom daarna weer saam. Moenie Satan ’n kans gee om julle uit te vang as julle selfbeheersing op ’n laagtepunt is nie. Ek is nie besig om julle te beveel wat om te doen nie. Dit is maar net goeie raad. Eintlik wens ek dat almal ongetroud kon bly soos ek. Maar ek weet dit is nie vir almal moontlik nie omdat God almal nie eenders gemaak het nie. Elkeen van ons het verskillende vermoëns van Hom gekry. Vir die mense wat nog nie getroud is nie en vir elke vrou wat haar man verloor het, het ek ’n spesiale boodskap: dit sal vir hulle goed wees om soos ek ongetroud te bly. Wanneer dit egter vir hulle moeilik word om hulle begeertes en emosies te beheer, moet hulle liewer maar trou. Ja, as hulle moet kies tussen trou en om heeltyd te veg teen hulle natuurlike seksuele begeertes, is die keuse eenvoudig: hulle moet trou. Bly getrou aan mekaar. Dit bring my by die getroudes. Ek het ook iets om vir hulle te sê. Dit is wat die Here self verwag: getroudes moet getroud bly en mag nie skei nie. As iemand klaar geskei is, moet hy nie weer met iemand anders trou nie. Die ander moontlikheid is natuurlik om weer na sy maat toe terug te gaan. Oor wat verwag word van ’n Christen wat met ’n nie-Christen getroud is, het die Here nie destyds met ons gepraat toe Hy op aarde was nie. Laat ek vir julle sê wat ek dink: as die nie-Christen gewillig is om met die Christen getroud te bly, moet hulle nie skei nie. As ’n nie-Christen met ’n Christen getroud is, beteken dit nie dat die Here daardie huisgesin verwerp nie. Dit sou mos beteken dat Hy die kinders van die huisgesin ook verwerp. Dit doen die Here nie. Die Here aanvaar daardie huisgesin en daardie kinders behoort aan Hom. Maar as die nie-Christen wil skei, laat hy dit doen. Die Christen hoef in so ’n geval nie te voel hy doen iets verkeerds as die nie-Christen sy goed vat en loop nie. Dit is beter so as om in onmin saam te leef, want God wil hê sy kinders moet in vrede leef. As jy sê dat jy in onvrede getroud wil bly om so jou ongelowige huweliksmaat ’n Christen te probeer maak, waag jy ’n groot kans. Hoe weet jy of jou plan sal uitwerk? In alle geval, julle moenie dink dat as julle Christene word, God skielik julle omstandighede verander nie. Elkeen moet sy lewe leef op die plek waar God hom wil hê en daar doen wat God van hom vra. Dit verwag ek oral van al die Christene. Die mense onder julle wat besny is omdat hulle Jode is, hoef nie daaroor skaam te wees noudat hulle Christene geword het nie. As daar van julle is wat nie besny is nie, hoef julle dit ook nie te doen noudat julle Christene geword het nie. Dit maak niks saak of julle nou besny is of nie. Wat eintlik van belang is, is of julle luister na wat God van julle vra. Elkeen van julle moet doodgewoon met sy lewe aangaan, dáár waar hy was toe hy die stem van die Here gehoor het. As jy byvoorbeeld ’n slaaf was toe die Here se pad joune gekruis het, moet jy jou nie vreeslik daaroor bekommer dat jy ’n slaaf is nie. Maar as jy ’n kans kry om vry te word, doen dit. As die Here jou roep as sy kind, is jy werklik vry, of jy nou in die gewone lewe ’n slaaf is of nie. Net so, as jy die Here se kind is, moet jy na Hom luister, of jy nou die belangrikste baas in die gewone lewe is of nie. Net soos iets wat jy gekoop het joune is, net so het die Here julle gekoop en boonop nog baie duur betaal ook. Moet nou nie so lewe asof julle aan mense behoort en asof julle alles moet doen wat hulle sê nie. My liewe vriende, staan julle plek vol juis daar waar julle was toe die Here julle as sy kinders geroep het. God is mos by julle. Julle het ook nog vrae gehad oor die jongmense wat nie getroud is nie. Ook hieroor het die Here nie spesifiek gesê wat ons moet doen nie. Ek gaan maar weer sê wat ek daaroor dink. My opinie is mos nie niks werd nie. Deur die goedheid van die Here kan julle julle maar steur aan wat ek sê. Omdat dit vandag nie so maklik is om ’n Christen te wees nie, is dit beter om nie aan jou situasie te verander nie. Hou dit soos dit is. As jy getroud is, moet jy nie nou skielik wil skei nie. Net so moet jy, as jy ongetroud is, nie nou naarstig na ’n huweliksmaat begin soek nie. Dit beteken natuurlik nie dat as jy wel trou, jy nou ’n groot sonde doen nie. Maar een ding moet jy weet: as jy trou, sal dit net soveel swaarder vir jou wees in hierdie moeilike tye. Ek probeer julle dit maar net spaar. Laat ek dit so stel, my liewe vriende, daar is nie meer baie tyd oor voordat die Here weer kom nie. Die mense wat getroud is, moenie leef asof die huwelik al is wat hulle het om te doen nie, inteendeel. Iemand wat hartseer is, moenie net aan sy hartseer dink nie en wie bly is, moet hom nie daardeur laat voortsleep nie. Dieselfde geld vir jou houding as jy inkopies doen of jou met die alledaagse dinge besig hou. Jy moet nie toelaat dat jou lewe in hierdie soort dinge vasgroei nie. Hierdie wêreld met al die dinge wat ons ken, sal nie vir altyd hou nie. Die einde van die wêreld is naby. Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk. As ’n mens egter ’n gesin het, is dit anders. Dan moet jy tyd afstaan om jou gesin te versorg. Jy moet jou vrou gelukkig hou. Hierdie man moet dan aan baie dinge gelyk dink en dit verdeel sy aandag. ’n Ongetroude vrou kan haar ook lekker toespits op wat vir die Here belangrik is. Haar doel is om met alles wat sy het vir die Here te leef. ’n Getroude vrou kan dit nie doen nie. Sy moet na haar gesin kyk en haar man versorg. Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help. Ek wil graag hê dat julle volstoom vir die Here moet leef en doen wat reg is. Sê nou maar iemand is verloof en omdat hy baie tyd aan die Here se werk wil afstaan, kom hy jare lank nie tot trou nie. Dan begin hy die gevoel kry dat hulle maar moet trou omdat die meisie nie meer gelukkig is om vir so ’n lang tyd net verloof te bly nie. Hy moet gerus maar trou. Dit is nie sonde om dit te doen nie. As die persoon egter besluit het om nie met die meisie te trou nie, en dit pla hom nie om sonder ’n vrou te leef nie, doen hy die regte ding as hy nie trou nie. Laat ek dit so stel: as hy met die meisie trou, doen hy goed; as hy nie met die meisie trou nie, doen hy nog beter. ’n Vrou moet by haar man bly solank hy leef. As haar man egter oorlede is, kan sy trou met wie sy wil. Daar is net een voorwaarde: die nuwe man moet ’n kind van die Here wees. Persoonlik dink ek nog dat dit beter vir haar sal wees om nie weer te trou nie. Dit is nie net ’n persoonlike opinie nie, maar die Gees van God wat in my is, ondersteun my.
1 KORINTIËRS 7:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het. Ja, ’n selibaatlewe is goed. Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie. Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra. Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing. Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie. Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom. Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander. Nou wil ek vir die ongetroudes en die weduwees sê: Dis beter om soos ek ongetroud te bly. Maar as hulle nie selfbeheersing kan toepas nie, is dit beter om te trou as om deur seksuele begeerte verteer te word. Vir die getroudes het ek ’n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self. Dit is dat ’n vrou nie van haar man behoort te skei nie. Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie. Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie ’n direkte opdrag van die Here het nie. As ’n Christenman ’n ongelowige vrou het en sy vind dit goed om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. En as ’n Christenvrou ’n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie. Want die Christenvrou bring ’n atmosfeer van gewydheid oor haar ongelowige man en die Christenman bring ’n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou. Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle. (Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees. In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie. God wil immers hê dat julle in vrede lewe.) Wie weet, dalk help jy as Christenvrou jou man om verlos te word. Of wie weet, dalk help jy as Christenman jou vrou om verlos te word. Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. Dit is my opdrag aan al die gemeentes. As jy byvoorbeeld reeds besny was toe jy geroep is, moet jy nie jou besnydenis ongedaan laat maak nie. As jy onbesnede was toe jy geroep is, moet jy jou nie nou laat besny nie. Of jy besny is of nie – dis heeltemal onbelangrik. Wat wel belangrik is, is om God se opdragte na te kom. Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het. Is jy ’n slaaf? Moet jou nie daaroor verknies nie – maar as jy wel jou vryheid kan verkry, gryp die geleentheid beslis aan. En onthou, alhoewel jy ’n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ’n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ’n slaaf van Christus geword. God het julle teen ’n duur prys gekoop! Moenie slawe van mense word nie. Dus, broers en susters, bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het. Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur. Met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dink ek dis die beste dat julle bly soos julle nou is. As jy aan ’n vrou verbind is, moenie die huwelik probeer beëindig nie. As jy ongetroud is, moenie ’n vrou probeer kry nie. Maar as jy sou trou, doen jy nie sonde nie en as die ongetroude meisie sou trou, doen sy nie sonde nie. Ek wil julle egter die ekstra kwellinge spaar wat die huwelik meebring. Dít wil ek vir julle sê, broers en susters, onthou die tyd wat nog oorbly, is kort. Daarom moet die getroude mans besef dat daar dinge is wat nog belangriker is as hulle huwelik. Om bly of hartseer te wees, of dinge te kan aankoop mag nie in die pad staan van die Here se werk nie. Dié wat gebruik maak van die dinge van hierdie wêreld, moenie daaraan geheg raak nie. Want hierdie bedeling gaan verby. Ek wil hê dat julle in alles wat julle doen, vry moet wees van die kwellinge van hierdie lewe. ’n Ongetroude man is begaan oor die dinge van die Here; oor hoe hy die Here kan gelukkig maak. Maar die getroude man is begaan oor wêreldse dinge, oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak. Sy aandag is verdeeld. Net so kan ’n vrou wat nie langer getroud is nie of nog nooit getroud was nie, haar aandag op die Here toespits om met liggaam en siel aan Hom toegewy te wees. Die getroude vrou is egter oor wêreldse dinge begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak. Ek sê hierdie dinge in julle belang, nie om allerlei beperkings op julle te lê nie. Ek wil hê julle moet, sonder dat iets julle aandag aftrek, fatsoenlik en toegewyd vir die Here lewe. Maar as ’n jong man oordeel dat hy oneerbaar teenoor sy meisie optree as hy nie met haar trou nie, of as hy probleme het om sy passie te beheer, moet hy na sy goeddunke handel. Hy doen nie sonde nie. Laat hulle maar trou. Maar as hy innerlik sterk staan en daar geen noodsaaklikheid bestaan om te trou nie; en as hy goeie selfbeheersing het en in sy hart klaar besluit het om sy meisie in haar ongehude staat te laat bly, doen hy ook goed. Hy wat dus met sy meisie trou, doen goed. Maar hy wat nie trou nie, doen beter. ’n Vrou bly aan haar man verbind vir so lank as wat hy lewe. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vry om met iemand van haar keuse te trou – mits hy ook ’n Christen is. Ek is egter van opinie dat sy gelukkiger sal wees as sy ongetroud bly. En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.