1 KORINTIËRS 4:1-16

1 KORINTIËRS 4:1-16 AFR83

So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. Van 'n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, 'n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom. In hierdie uiteensetting, broers, het ek myself en Apollos as voorbeelde gebruik om julle te leer wat die gesegde beteken: “Hou jou binne die perke wat God gestel het.” Dan sal niemand hom belangriker as 'n ander beskou oor sy leermeester nie. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? Julle het mos klaar alles wat julle begeer! Julle is al klaar ryk! Julle regeer al klaar soos konings! Ons nog nie. As julle tog maar werklik konings was, sodat ons saam met julle kon regeer. Dit lyk vir my God het aan ons, die apostels, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is. Ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense. Ons is dwaas ter wille van Christus, julle is verstandig in Christus; ons is swak, julle is sterk; julle geniet aansien, ons word verag. Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, ons is armoedig aangetrek en word mishandel. Ons swerf rond en werk hard met ons eie hande. Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik. Ons het die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing geword, en dit is nou nog so. Hierdie dinge skryf ek nie om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys, want al sou julle ook duisende leermeesters in Christus hê, baie vaders het julle nie. Deur die verkondiging van die evangelie is ek in Christus Jesus julle vader. Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld!