1 KORINTIËRS 4:1-16
1 KORINTIËRS 4:1-16 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet onthou: Ons bring die goeie boodskap, ons is mense wat vir Christus werk. Ons verduidelik vir julle die dinge van God, niemand het iets geweet van daardie dinge nie. Iemand wat hierdie werk doen, moet altyd doen wat hy moet doen. Maar dit is nie vir my belangrik of ménse miskien sal dink dat ek nie altyd doen wat ek moet doen nie. Dit maak nie saak of daardie mense júlle is of 'n regter nie. Ek sal ook nie self besluit of ek reg gedoen het nie. Ek kan nie onthou dat ek 'n fout gemaak het nie, maar dit is die Here wat sal sê of ek skuldig is of nie skuldig is nie. Daarom moet julle nie oordeel voor dit die regte tyd is nie. Wag eers totdat die Here kom. Hy sal die dinge wat niemand nou weet nie, vir almal vertel. Hy sal sê wat elkeen in sy hart dink. En dan sal God elkeen prys. Vriende, ek en Apollos doen alles waaroor ek nou geskryf het. Ons doen dit vir julle, omdat ons vir julle wil leer. In die Ou Testament is geskryf oor mense wat dink hulle is belangrik. Dit is wat julle ook moet onthou: Niemand mag sê een mens is belangriker as 'n ander mens nie. Hoekom dink jy dat jy beter is as iemand anders? Alles wat jy het, het God vir jou gegee. Hoekom spog jy en maak jy of jy dit self gekry het? Julle dink julle kan baie tevrede wees met julleself. Julle dink julle het genoeg van alles. Julle dink júlle het konings geword, maar óns, die apostels, is nog nie konings nie. Ek wens julle het konings geword, dan was ons nou saam met julle konings. Maar dit is nie so nie. Ons is apostels, maar ek dink God het vir ons die minste belangrik van almal gemaak. Ons is soos mense wat moet sterf omdat 'n regter gesê het ons moet die doodstraf kry. En nou wil die hele wêreld, mense én engele, sien hoe ons sterf. Almal dink nou dat ons, die apostels, baie dom is omdat ons vir Christus werk. En julle dink júlle is nou baie slim omdat julle vir Christus leer ken het. Julle dink óns is die swak mense en júlle is die sterk mense. Julle dink júlle is die belangrike mense en óns is nie belangrik nie. Kyk wat het tot nou toe alles met ons gebeur: Ons is honger en dors, ons dra stukkende klere, mense slaan ons, ons het nie 'n huis waar ons kan woon nie. Ons werk baie hard om kos en klere vir onsself te kry. Wanneer mense ons beledig, dan bid ons dat dit goed sal gaan met hulle. Wanneer hulle slegte dinge doen aan ons, dan bly ons stil. Wanneer hulle skinder van ons, dan sê ons mooi dinge vir hulle. Ons het geword soos die slegste mense in die wêreld, soos vuilgoed. Niemand dink ons is goed nie, en dit hou nooit op nie. Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie. Ek skryf dit om vir julle te leer, want julle is my kinders, ek is baie lief vir julle. Daar is baie mense wat vir julle leer van Christus. Hulle is soos mense wat kinders oppas. Maar julle het nie baie vaders nie, julle het net een vader. Ek het julle vader geword toe ek die goeie boodskap van Christus Jesus vir julle gebring het, en toe julle in Hom begin glo het. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet lewe soos ek lewe.
1 KORINTIËRS 4:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SO moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God. En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie, want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here. Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang. HIERDIE dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen 'n derde nie. Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie? Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers! Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense. Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus. Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer. Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond, en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe. Ek skrywe hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar ek vermaan julle as my geliefde kinders. Want al sou julle tienduisend tugmeesters in Christus hê, dan het julle tog nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die evangelie. Ek vermaan julle dan, word my navolgers.
1 KORINTIËRS 4:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is. Van 'n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, 'n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom. In hierdie uiteensetting, broers, het ek myself en Apollos as voorbeelde gebruik om julle te leer wat die gesegde beteken: “Hou jou binne die perke wat God gestel het.” Dan sal niemand hom belangriker as 'n ander beskou oor sy leermeester nie. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie? Julle het mos klaar alles wat julle begeer! Julle is al klaar ryk! Julle regeer al klaar soos konings! Ons nog nie. As julle tog maar werklik konings was, sodat ons saam met julle kon regeer. Dit lyk vir my God het aan ons, die apostels, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is. Ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense. Ons is dwaas ter wille van Christus, julle is verstandig in Christus; ons is swak, julle is sterk; julle geniet aansien, ons word verag. Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, ons is armoedig aangetrek en word mishandel. Ons swerf rond en werk hard met ons eie hande. Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik. Ons het die uitvaagsels van die wêreld, die skuim van die samelewing geword, en dit is nou nog so. Hierdie dinge skryf ek nie om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys, want al sou julle ook duisende leermeesters in Christus hê, baie vaders het julle nie. Deur die verkondiging van die evangelie is ek in Christus Jesus julle vader. Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld!
1 KORINTIËRS 4:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Só moet mense ons beskou: as diensknegte van •Christus en as bedienaars van die verborgenhede van God. Boonop word van sulke bedienaars verwag dat elkeen van hulle getrou bevind sal word. Vir my is dit nie 'n belangrike saak of ek deur julle of deur enige menslike regbank beoordeel word nie; trouens, ek beoordeel nie eers myself nie. Ek is nie bewus van enigiets teen my nie, maar dit beteken nie dat ek regverdig is nie. Hy wat my beoordeel, is die Here. Gevolglik moet julle nie reeds oordeel voordat die Here kom nie. Hy sal die verborge dinge van die duisternis aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Dan sal elkeen afsonderlik van God lof ontvang. Hierdie dinge, broers, het ek om julle onthalwe op myself en Apollos van toepassing gemaak, sodat julle deur ons kan leer om julle nie te verhef bo wat geskryf is nie, sodat niemand homself belangrik sal ag omdat hy vir die een is en teen 'n ander nie. Want wie ag jou belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom beroem jy jou daarop asof jy dit nie ontvang het nie? Julle is mos reeds versadig! Julle is reeds ryk! Sonder ons het julle soos konings begin regeer. Het julle maar waarlik regeer, sodat ons saam met julle kon regeer! Dit lyk vir my of God ons •apostels as die heel laastes aangewys het, asof ons ter dood veroordeel is, omdat ons 'n skouspel geword het vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense. Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus; ons is swak, maar julle sterk; julle geëerd, maar ons sonder eer. Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is karig geklee, word geslaan, swerf dakloos, en swoeg deur met ons eie hande te werk. Word ons beledig, seën ons; word ons vervolg, verdra ons; word ons belaster, antwoord ons beleefd. Soos die vullis van die wêreld het ons geword, soos die skuim van die samelewing – tot nou toe. Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys. Want selfs al het julle 'n menigte opvoeders in •Christus, het julle nie baie vaders nie. Deur die evangelie het ek in Christus Jesus julle vader geword. Ek doen dus 'n ernstige beroep op julle: Volg my voorbeeld!
1 KORINTIËRS 4:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat 'n man ons so reken as die dienaars van Christus en bestuurders van die verborgenhede van God. Verder word van rentmeesters vereis dat 'n man getrou bevind word. Maar vir my is dit 'n baie geringe ding dat ek deur julle of deur die oordeel van mense geoordeel word; ja, ek oordeel nie myself nie. Want ek weet niks uit myself nie; tog word ek nie hierdeur geregverdig nie, maar hy wat my oordeel, is die Here. Daarom, oordeel niks voor die tyd nie, totdat die Here kom, wat die verborge dinge van die duisternis aan die lig sal bring en die planne van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God hê. En hierdie dinge, broeders, het ek in 'n gestalte oorgedra aan myself en op Apollos ter wille van julle; sodat julle by ons kan leer om nie aan mense te dink bo wat geskrywe is nie, sodat niemand van julle opgeblase word vir mekaar teen mekaar nie. Want wie laat jou van 'n ander verskil? en wat het jy wat jy nie ontvang het nie? nou as jy dit ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie? Nou is julle vol, nou is julle ryk, julle het as konings geregeer sonder ons; Want ek dink dat God vir ons die apostels laaste as 'n dood bestem het aangestel het, want ons is 'n skouspel vir die wêreld en vir engele en vir mense. Ons is dwase ter wille van Christus, maar julle is wys in Christus; ons is swak, maar julle is sterk; julle is eerbaar, maar ons is verag. Tot op hierdie huidige uur honger en dors ons en is ons naak en word met die vuis geslaan en het geen vaste woonplek nie; En arbei en werk met ons eie hande; as ons uitgeskel word, seën ons; as ons vervolg word, ly ons dit: As ons gelaster word, smeek ons: ons is gemaak soos die vuilheid van die wêreld en is die afskuur van alle dinge tot vandag toe. Ek skryf hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar as my geliefde seuns waarsku ek julle. Want al het julle tienduisend leraars in Christus, tog het julle nie baie vaders nie, want in Christus Jesus het ek julle gegenereer deur die evangelie. Daarom smeek ek julle, wees my navolgers.
1 KORINTIËRS 4:1-16 Die Boodskap (DB)
Moenie van ons, wat julle geestelike leiers is, iets maak wat ons nie is nie. Ons is net mense wat vir Jesus werk. God het ons gevra om aan julle die dinge oor Hom te vertel wat julle nie weet nie. Natuurlik word daar van iemand wat so ’n belangrike werk het, verwag om dit deeglik te doen. Maar ek steur my min aan wat ander mense oor my werk kwytraak. Ek self mors ook nie tyd om te sit en tob of ek goed of sleg vaar nie. Ek voel nie sleg oor wat ek doen nie en my gewete pla my ook nie. Dit beteken nie dat ek alles reg doen nie. God sal daaroor besluit. Moet daarom nie te vinnig wees om te sê die een ding is sleg of die ander ding is goed nie. Wag geduldig tot die Here kom. Hy sal nie oppervlakkig oordeel nie. Die dinge wat mense skelm gedoen het, sal dan nie meer in die donker bly nie. Dit sal oop en bloot wees vir almal om te sien. Die motiewe waarmee mense vir die Here gewerk het, sal op dié dag nie meer weggesteek kan word nie. Dit sal daar wees vir almal om te hoor. Dit sal soos ’n prysuitdeling wees: elkeen sal van God die prys kry wat hy verdien. My liewe vriende, ek het myself en Apollos as voorbeeld gebruik om dit vir julle makliker te maak om te verstaan wat die gesegde beteken: “Moenie verder gaan as wat God jou geleer het om te gaan nie.” As julle dit verstaan, sal julle nie die een werker van God prys en die ander een afkraak nie. Wie gee jou miskien die reg om te dink jy is beter as iemand anders? Het jy miskien iets wat jy nie van die Here af gekry het nie? Nou ja, as jy alles van Hom af gekry het, waarom gaan jy so te kere asof dit jy self is wat so goed is? Julle dink mos julle het alles wat julle nodig het, ja, in julle eie oë is julle geestelike miljoenêrs. Julle gedra julle asof julle die belangrikste mense op die aarde is en ons glad nie nodig gehad het nie. Ek wens dat julle régtig so belangrik geword het, want dan sou ons saam met julle net so belangrik kon wees. As ek so na julle kyk, lyk dit vir my of God ons - wat spesiaal deur Hom gestuur is - buite gegooi het om daar in die donker en koue van ellende te vergaan. Almal wat leef en beef - of dit nou hemelse wesens of mense is - kan sien hoe sleg dit met ons gaan. Vir ander lyk ons maar dom, maar ons is dit vir Christus. Julle gaan egter deur as die verstandige Christene. Laat ek aangaan. Ons is maar pateties, maar julle is natuurlik die teenoorgestelde; mense behandel julle ordentlik en met respek, maar vir ons behandel hulle asof ons iewers uitgekruip het. Kyk na ons. Ons het nie altyd genoeg om te eet of te drink nie; ons klere is oud en stukkend; mense behandel ons of ons ’n aansteeklike siekte het. Ons swerf rond sonder ’n dak oor ons kop, en kyk net na ons hande, hulle is hard en skurf soos ons werk om aan die lewe te bly. As mense op ons vloek, sê ons mooi dinge vir hulle terug. As hulle ons wegjaag of die polisie op ons sit, verdra ons dit maar geduldig. Ons bly gaaf, al sê hulle die lelikste dinge van ons. Ons is die skuim van die samelewing. Mense dink niks van ons nie. So gaan dit tot vandag toe nog. Ek skryf nie oor hierdie dinge op hierdie trant om julle sleg te laat voel nie. Ek doen dit eerder om julle reg te help, want ek het julle lief soos iemand sy eie kinders liefhet. Onthou dit, julle kan duisende mense hê wat vir julle baie dinge oor Christus leer, maar julle kan net een geestelike vader hê. Ek is julle geestelike vader. Ek het julle geestelike vader geword toe julle vir die eerste maal by my die wonderlike boodskap oor Jesus Christus gehoor het. Daarom vra ek julle baie mooi om te maak soos ek maak. Neem die voorbeeld wat ek stel ernstig op.
1 KORINTIËRS 4:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit beteken dat julle ons moet beskou as blote diensknegte van Christus. Ja, as mense wat God se diepsinnige planne moet help bestuur. Van bestuurders word verwag dat hulle hulleself as betroubaar sal bewys. Wat van my? Was ek betroubaar? Dis vir my werklik nie belangrik hoe julle of enige menslike regbank my beoordeel nie. Ek vertrou selfs nie eers my eie oordeel in hierdie opsig nie! My gewete is skoon, maar daarmee is ek nog nie noodwendig skotvry nie. Die Hére se oordeel oor my is al wat saak maak. Julle moet dus nie voortydig ’n oordeel vel voordat die Here kom nie. Hý sal sy lig laat skyn op die dinge wat in die donker verborge lê, en Hý sal die motiewe van ons harte aan die lig bring. Dan sal God aan elkeen die lof gee wat hom of haar toekom. Broers en susters, ek het myself en Apollos as voorbeelde gebruik sodat julle van ons kan leer. As julle na die Skrif luister, sal julle nie oor julle leiers teenoor mekaar spog nie. Wat maak jou beter as enige ander gelowige? Wat het jy wat God nie aan jou gegee het nie? En as dit dan aan jou gegee is, hoe spog jy dan asof jy op eie houtjie presteer het? Julle is so absoluut selfvoldaan! Julle dink julle is al klaar skatryk! Sonder ons het julle al klaar konings geword! Ek wens dit was werklik die geval, want dan sou ons al saam met julle op die troon gesit het! Soms lyk dit vir my of God aan ons wat apostels is, die heel agterste plek in die prosessie toegeken het. Ons is soos terdoodveroordeeldes wat in die arena moet sterf, ’n skouspel waarmee die hele wêreld spot – engele sowel as mense. Ons toewyding aan Christus laat ons dwaas lyk, maar julle is mos die Christene wat weet! Ons is broos, maar julle is die sterkes. Julle is die mense van aansien, maar ons is die veragtes. Tot nou toe ly ons honger en dors, ons is skamel aangetrek; ons word geslaan en het geen tuiste nie. Ons moet swoeg deur met ons eie hande te werk. Ons seën dié wat ons uitskel. Ons is geduldig met hulle wat ons vervolg. Ons bly vriendelik wanneer ons beskinder word. Ons het die uitvaagsels van die wêreld geword, almal se sondebokke. En so is dit nog steeds. Wat ek skryf, bedoel ek nie kwetsend nie, maar om julle te vermaan soos ’n mens maak met kinders wat jy liefhet. Want selfs al sou julle tienduisend ander leermeesters hê om julle omtrent Christus te onderrig, het julle net een geestelike vader. Ek het tog julle vader in Jesus Christus geword toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het. Daarom vra ek julle dringend: Volg my voorbeeld!