1 KORINTIËRS 14:1-25

1 KORINTIËRS 14:1-25 AFR83

Julle moet die liefde nastreef. Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer. Iemand wat ongewone tale of klanke gebruik, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie, want deur die Gees sê hy onbegryplike dinge. Iemand wat profeteer, rig hom tot mense en praat woorde wat geestelik opbou en bemoedig en vertroos. Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op. Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik, maar nog liewer dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter betekenis as die een wat ongewone tale of klanke gebruik, tensy hy dit ook uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. En nou, broers, as ek na julle toe kom en ongewone tale of klanke gebruik, van watter nut sal ek vir julle wees? Ek sal vir julle net van nut wees as ek 'n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel. Dit is net soos met lewelose instrumente wat 'n klank afgee, soos 'n fluit of 'n siter. As daar nie klankverskille is nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die siter gespeel word? En as die beuel 'n onduidelike sein gee, wie sal vir die geveg gereed maak? So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie 'n verstaanbare woord praat nie, hoe sal 'n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind! Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en nie een is sonder betekenis nie. Maar as ek 'n taal nie ken nie, sal die een wat dit praat, vir my onverstaanbaar wees en ek vir hom. Dit is ook op julle van toepassing. As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt. Daarom moet hy wat ongewone tale of klanke gebruik, bid om die gawe om dit te kan uitlê, want as ek ongewone tale of klanke gebruik wanneer ek bid, dan bid my gees, maar my verstand is nie daarby betrokke nie. Hoe moet dit dan wees? Só, dat ek met die gees moet bid, maar ook met die verstand. Ek moet met die gees die lof van die Here sing, maar ook met die verstand. Anders, as jy met die gees 'n dankgebed doen, hoe sal 'n gewone mens wat daar teenwoordig is, op jou dankgebed “Amen” kan sê? Hy verstaan mos nie wat jy sê nie. Jou dankgebed is wel goed, maar ander mense word nie daardeur geestelik opgebou nie. Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal. Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke. Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse. In die wet staan daar geskrywe dat die Here sê: “Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle na My nie luister nie.” So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan 'n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. Daarteenoor is die profesie vir gelowiges en nie vir ongelowiges nie. As die hele gemeente dan bymekaar is en almal gebruik ongewone tale of klanke en daar kom buitestaanders of ongelowiges binne, sal hulle nie sê julle is van julle verstand af nie? Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom 'n ongelowige of 'n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek. Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!”