1 Korinthiërs 14:1-25

1 Korinthiërs 14:1-25 AFR20

Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer. Die een wat in tale spreek, praat nie met mense nie, maar met God. Niemand verstaan hom nie; deur die Gees praat hy verborgenhede. Die een wat profeteer, praat egter wel met mense om hulle op te bou, te bemoedig en te vertroos. Die een wat in tale spreek, bou homself op, terwyl die een wat profeteer, die •gemeente opbou. Ek wil hê dat julle almal in tale spreek, maar meer nog dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter waarde as die een wat in tale spreek; tensy hy dit kan uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. Broers, as ek dan nou na julle kom en in tale spreek, watter nut het ek vir julle; tensy ek tot julle voordeel 'n openbaring of 'n insig of 'n profesie of 'n lering meedeel? Dit sal wees soos lewelose dinge wat klank voortbring, 'n fluit of 'n lier. As dit nie onderskeibare klanke voortbring nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of die lier gespeel word? As 'n trompet 'n onduidelike klank voortbring, wie sal gereedmaak vir oorlog? So ook julle – as julle tonge nie 'n duidelik verstaanbare boodskap oordra nie, hoe sal enigiemand verstaan wat daar gesê word? Want julle sal in die wind praat. Daar mag hoeveel verskillende tale in die wêreld wees, en tog is nie een sonder klank nie. As ek nie die betekenis van die klank ken nie, sal ek vir die spreker daarvan 'n vreemdeling wees, en hy vir my. So ook met julle. Aangesien julle julle beywer vir die gawes van die Gees, streef daarna om uit te munt met die oog op die opbou van die gemeente. Daarom moet die een wat in tale spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Want as ek in 'n taal bid, bid my gees wel, maar my verstand is onvrugbaar. Wat is dan die slotsom? Ek sal deur die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid; ek sal deur die gees lofsange sing, maar ek sal ook met die verstand lofsange sing. Want as mens net in die gees 'n lofprysing bring, hoe sal iemand in die posisie van 'n oningeligte “•amen” kan sê op jou danksegging, aangesien hy nie verstaan wat jy sê nie? Jy mag wel goed dank betuig, maar dit dien nie tot opbou van die ander persoon nie. Ek dank God dat ek selfs meer as julle almal in tale spreek. Maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te kan onderrig, as om duisende woorde in 'n onverstaanbare taal te praat. Broers, moenie kinders wees in julle denke nie; wees wel klein kindertjies wat die kwaad betref, maar volwassenes in julle denke. In die Wet staan daar geskryf, “in vreemde tale en deur die lippe van vreemdes sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle nie na My luister nie,” sê die Here. Hiervolgens is die spreek in tale 'n teken, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges, terwyl profesie nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges. As die hele gemeente dan op een plek vergader en almal in tale spreek, en daar kom oningeligtes of ongelowiges binne, sal hulle nie sê, “Julle is van julle sinne beroof” nie? Maar indien almal profeteer en 'n ongelowige of 'n oningeligte persoon kom binne, word hy deur almal tot insig gebring en tot verantwoording geroep. Die geheime van sy hart word blootgelê, en hy sal met sy gesig op die grond val, God aanbid en erken: “Werklik, God is in julle midde.”