Dawid het 'n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby. Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om 'n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U. Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê. Ek het in opregtheid van hart al hierdie gawes gebring, en nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, sy gawes aan U bring. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, behou vir altyd hierdie gesindheid in die gemoed van u volk. Rig hulle hart op U. Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou.”
Daarna het Dawid vir die volle vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God.” Die volle vergadering het toe die Here die God van hulle voorvaders geprys. Daarna het hulle voor die Here en die koning gekniel en in huldebetoon neergeval.