1 Kronieke 29:10-20

1 Kronieke 29:10-20 DB

Dawid het toe die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering geprys: “Ek loof U, Here, God van ons voorvader Israel, vir altyd en altyd. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons so ryk is om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het. Ons is net vir ’n kort tydjie hier op die aarde, blote besoekers soos ons voorouers voor ons. Ons tydjie op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan so gou verby. “Here ons God, al die goed wat ons bymekaargemaak het vir die tempel wat ons vir U wil bou, kom van U af en behoort aan U. Ek weet, my God, dat U na opregtheid by mense soek. Ek het in alle opregtheid my bydrae gemaak. Nou het ek met die grootste vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, bereid is om hulle besittings ook vir U te gee. “Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, wil U tog gee dat u volk lief bly vir U. Rig hulle harte altyd op U. Gee dat my seun Salomo hom heeltemal sal hou by u wette, reëls en voorskrifte. Gee dat hy dit alles sal doen en dat hy die tempel waarvoor ek alles voorberei het, sal bou.” Dawid het toe vir almal wat bymekaar was, gesê: “Prys nou die Here, julle God!” Daarop het hulle almal die Here, die God van hulle voorouers, geprys en voor Hom en die koning neergebuig.