Koning Dawid het die hele vergadering soos volg toegespreek: “My seun Salomo, die één wat deur God gekies is, is jonk en sag, maar die werk is groot. Hierdie paleis is nie vir 'n mens bedoel nie, maar vir God die Here. Met alles in my vermoë het ek vir die huis van my God materiaal gereed gebring: goud vir die goudwerk, silwer vir die silwerwerk, brons vir die bronswerk, yster vir die ysterwerk, hout vir die houtwerk, oniks met die gesteentes om daarrondom in te lê, steentjies vir mosaïekwerk, allerlei edelstene en 'n groot hoeveelheid marmer. Omdat die huis van my God my na aan die hart lê, skenk ek ook nog my besit aan goud en silwer bo en behalwe alles wat ek reeds vir die heiligdom gereedgebring het: honderd en drie ton goud, van Ofir se goud, en twee honderd en veertig ton gesuiwerde silwer om die mure van die vertrekke oor te trek en om die goud vir die goudwerk en die silwer vir die silwerwerk te voorsien, en vir al die werk wat deur die vakmanne gedoen moet word. Wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met 'n gawe aan die Here?”
Die familiehoofde, die stamhoofde van Israel, die aanvoerders van duisend en van honderd, en die amptenare in beheer van die koning se dienste was almal gewillig. Hulle het vir die tempeldiens honderd een en sewentig ton goud, drie honderd twee en veertig ton silwer, ses honderd en sestien ton brons en drie duisend vier honderd sewe en twintig ton yster bygedra. Wie edelstene by hom gehad het, het dit aan die Gersoniet Jegiël gegee vir die tempelskat. Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. Koning Dawid was ook baie bly.
Dawid het 'n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby. Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om 'n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U. Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê. Ek het in opregtheid van hart al hierdie gawes gebring, en nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, sy gawes aan U bring. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, behou vir altyd hierdie gesindheid in die gemoed van u volk. Rig hulle hart op U. Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou.”
Daarna het Dawid vir die volle vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God.” Die volle vergadering het toe die Here die God van hulle voorvaders geprys. Daarna het hulle voor die Here en die koning gekniel en in huldebetoon neergeval.