1 KRONIEKE 29:1-20

1 KRONIEKE 29:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Koning Dawid het die hele vergadering soos volg toegespreek: “My seun Salomo, die één wat deur God gekies is, is jonk en sag, maar die werk is groot. Hierdie paleis is nie vir 'n mens bedoel nie, maar vir God die Here. Met alles in my vermoë het ek vir die huis van my God materiaal gereed gebring: goud vir die goudwerk, silwer vir die silwerwerk, brons vir die bronswerk, yster vir die ysterwerk, hout vir die houtwerk, oniks met die gesteentes om daarrondom in te lê, steentjies vir mosaïekwerk, allerlei edelstene en 'n groot hoeveelheid marmer. Omdat die huis van my God my na aan die hart lê, skenk ek ook nog my besit aan goud en silwer bo en behalwe alles wat ek reeds vir die heiligdom gereedgebring het: honderd en drie ton goud, van Ofir se goud, en twee honderd en veertig ton gesuiwerde silwer om die mure van die vertrekke oor te trek en om die goud vir die goudwerk en die silwer vir die silwerwerk te voorsien, en vir al die werk wat deur die vakmanne gedoen moet word. Wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met 'n gawe aan die Here?” Die familiehoofde, die stamhoofde van Israel, die aanvoerders van duisend en van honderd, en die amptenare in beheer van die koning se dienste was almal gewillig. Hulle het vir die tempeldiens honderd een en sewentig ton goud, drie honderd twee en veertig ton silwer, ses honderd en sestien ton brons en drie duisend vier honderd sewe en twintig ton yster bygedra. Wie edelstene by hom gehad het, het dit aan die Gersoniet Jegiël gegee vir die tempelskat. Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee. Koning Dawid was ook baie bly. Dawid het 'n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: “Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. Net soos al ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan verby. Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om 'n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U. Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en dat U opregtheid wil hê. Ek het in opregtheid van hart al hierdie gawes gebring, en nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, sy gawes aan U bring. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, behou vir altyd hierdie gesindheid in die gemoed van u volk. Rig hulle hart op U. Gee aan my seun Salomo dat hy met volle oorgawe u gebooie, u verordeninge, u voorskrifte sal hou, dat hy dit alles sal doen en die tempel wat ek beplan het, sal bou.” Daarna het Dawid vir die volle vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God.” Die volle vergadering het toe die Here die God van hulle voorvaders geprys. Daarna het hulle voor die Here en die koning gekniel en in huldebetoon neergeval.

1 KRONIEKE 29:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Koning Dawid het vir die hele volksvergadering gesê: “God het een persoon gekies om die tempel te bou, Hy het my seun Salomo gekies. Salomo is jonk en swak. Dit is 'n groot werk, want die paleis wat hy moet bou, is nie vir 'n mens nie, dit is 'n tempel vir God die Here. Ek het gedoen wat ek kon doen om alles gereed te maak vir die tempel van my God: die goud, die silwer, die brons en die hout vir alles wat hulle daarvan moet maak, en ook nog oniks, edelstene om vas te sit teen die mure, klippies wat al die kleure het, en baie marmer. En ek gee ook al die goud en silwer wat ek het vir die tempel van my God, ek wil dit graag doen vir die tempel van my God. Ek gee dit saam met alles wat ek al klaar gereedgemaak het vir die gewyde gebou. Dit is 3 000 talente goud, goud uit die land Ofir, en 7 000 talente silwer. Julle moet dit gebruik om die mure van die geboue toe te maak, en vir die werk wat die ambagsmanne moet doen, hulle moet die goue goed en die silwergoed daarvan maak. En nou vra ek, wie van julle wil nou iets vir die Here gee?” Die familiehoofde wou graag iets gee, en ook die stamhoofde, die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne, en die amptenare wat die werk vir die koning moes laat doen. Hulle het 5 000 talente goud gegee vir die werk by die tempel en ook 10 000 darieke goud, 10 000 talente silwer, 18 000 talente brons en 100 000 talente yster. Almal wat edelstene gehad het, het dit gegee vir die stoorkamers van die tempel. Jegiël van die Gerson-familie het dit daar opgepas. Die mense was bly omdat die leiers al die goed gegee het, want al die leiers wou dit graag vir die Here gee. Koning Dawid was ook baie bly. Dawid het die Here geprys. Die hele volksvergadering het dit gehoor. Dawid het gesê: “Here, God van ons voorvader Israel, almal moet U prys, altyd en altyd. Alles wat belangrik is, alles wat sterk is, al die lig behoort aan U. Almal weet van U, die Koning in die hemel en op die aarde. Here, U is Koning, U is belangriker as almal en alles. U maak mense ryk en U gee vir hulle eer, dit is Ú wat oor alles regeer. U is sterk en U kan alles doen, en dit is U wat 'n mens groot en sterk kan maak. Daarom prys ons U, ons God, ons sing oor u wonderlike Naam. Maar wie is ek en wie is my volk wat hierdie goed vir U kan bring? Ons bring dit vir U, maar alles kom van U, en ons gee weer vir U die goed wat aan U behoort. Want ons is soos ons voorvaders, ons is ook soos vreemdelinge by U. Ons is naby U omdat U sê ons mag naby U wees. Ons lewe op die aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan gou verby. Ons God die Here, ons het al hierdie goed gereedgemaak om 'n tempel te bou vir U, die heilige God, maar al hierdie goed kom van U, alles behoort aan U. My God, ek weet dat U 'n mens se hart toets en dat U wil hê 'n mens moet eerlik wees. Ek het self besluit om al hierdie goed vir U te gee, en ek het nou gesien dat u volk wat hier is, dieselfde gedoen het. Ek is bly daaroor. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, U moet u volk help om altyd so te dink, hulle moet net aan U dink. En help my seun Salomo sodat hy met sy hele hart gehoorsaam sal wees aan u gebooie, aan alles wat U gesê het. Help hom sodat hy dit alles sal doen en sodat hy die paleis vir U sal bou, ek het alles daarvoor gereedgemaak.” Daarna het Dawid vir die hele volksvergadering gesê: “Julle moet nou julle God die Here prys.” Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle voorvaders, geprys. Hulle het voor die Here en voor die koning gekniel en laag gebuig.

1 KRONIEKE 29:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het koning Dawid aan die hele vergadering gesê: My seun Salomo, die een wat God verkies het, is jonk en teer, en die werk is groot, want nie vir 'n mens is die paleis nie, maar vir die HERE God. En uit al my krag het ek gereed gelê vir die huis van my God: goud vir die goue en silwer vir die silwer- en koper vir die koper-, yster vir die yster- en hout vir die houtwerke; oniksstene en stene om in te lê, swart en veelkleurige stene, en allerhande kosbare stene en marmerstene in menigte. Bowendien, omdat ek behae het in die huis van my God, besit ek persoonlik goud en silwer; dit gee ek aan die huis van my God bo en behalwe alles wat ek vir die huis van die heiligdom in gereedheid gebring het: drieduisend talente goud, uit goud van Ofir, en seweduisend talente gelouterde silwer om daarmee die mure van die geboue oor te trek; goud vir die goue en silwer vir die silwervoorwerpe en vir al die werk van kunstenaarshand. Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir 'n offer aan die HERE? Toe het vrywillig gegee: die familie-owerstes en die stamowerstes van Israel en die owerstes oor duisend en oor honderd en ook die owerstes oor die diens van die koning. En hulle het gegee vir die diens van die huis van God: aan goud vyfduisend talente en tienduisend darieke; en aan silwer tienduisend talente; en aan koper agttienduisend talente; en aan yster honderdduisend talente. En by wie edelgesteentes gevind is, hulle het dit gegee vir die skat van die huis van die HERE onder toesig van Jéhiël, die Gersoniet. En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met 'n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly. EN Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam. Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee. Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos 'n skaduwee, en daar is geen verwagting nie. HERE onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir u heilige Naam, 'n huis te bou — dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U. En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het. HERE, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so 'n gesindheid in die gedagtes van die hart van u volk, en rig hulle hart tot U; en gee aan my seun Salomo 'n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te hou, en om alles te doen en om die paleis te bou wat ek voorberei het. Daarna het Dawid aan die hele vergadering gesê: Loof nou die HERE julle God. Toe het die hele vergadering die HERE, die God van hulle vaders, geloof; en hulle het gebuig en voor die HERE en voor die koning neergeval.

1 KRONIEKE 29:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Koning Dawid het toe vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “My seun Salomo, die een wat God uitgekies het, is nog jonk en onervare. Die taak is omvangryk, want dit is nie vir 'n mens wat die vesting bedoel is nie, maar vir die HERE God. Na my beste vermoë het ek vir die huis van my God voorsien: goud vir die goue, silwer vir die silwer-, brons vir die brons-, yster vir die ystervoorwerpe en hout vir die houtwerk; ook •oniksstene en •edelstene as monterings, malagiet en veelkleurige stene, allerlei kosbare stene, en stene van albaster, in oorvloed. Buitendien, uit toegeneentheid teenoor die huis van my God het ek dit wat ek persoonlik besit aan goud en silwer, vir die huis van my God gegee, bo en behalwe alles wat ek vir die •heilige •tempel gereedgekry het: drieduisend kikkar goud, van die goud van Ofir, en seweduisend kikkar gesuiwerde silwer vir die bedekking van die vertrekke se mure – goud vir die goue voorwerpe en silwer vir die silwervoorwerpe, en vir al die werk deur die hand van vakmanne. Wie is bereid om hom vandag so aan die HERE toe te wy?” Toe het die leiers van die families, die leiers van die stamme van Israel, die •aanvoerders van duisend en van honderd en die toesighouers in diens van die koning, vrywillige gawes gegee. Hulle het vir die werk aan die huis van die HERE in goud vyfduisend kikkar en tienduisend dariek gegee, in silwer tienduisend kikkar, in brons agttienduisend kikkar, en in yster honderdduisend kikkar. Die wat edelstene in hulle besit gehad het, het dit gegee vir die skatkamer van die huis van die HERE, onder beheer van Jegiël, die Gersoniet. Die volk was verheug oor die gesaghebbers se bereidwilligheid, want hulle het dit van harte vrywillig vir die HERE gegee. Ook koning Dawid was besonder verheug. Daarop het Dawid die HERE ten aanskoue van die hele geloofsgemeenskap geprys. Dawid het gesê: “U moet geprys word, HERE, God van ons vader Israel, van altyd af en vir ewig. Aan U, HERE, behoort die grootheid, die sterkte, die luister, die roem en die majesteit – ja, alles in die hemel en op die aarde. Aan U, HERE, behoort die koningskap, en U is as hoof verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U, en U regeer oor alles. In u hand is krag en sterkte, en dit is in u hand om enigiemand groot en sterk te maak. Daarom, ons God, prys ons U en loof ons u luisterryke Naam. Want wie is ek, en wie is my volk, dat ons in staat is om vrywillige gawes soos hierdie te gee? Ja, van U kom alles, en uit u hand het ons dit aan U gegee. Want •vreemdelinge is ons voor U, en bywoners, soos al ons voorouers. Soos 'n skaduwee is ons dae op die aarde, en daar is geen sekerheid nie. HERE ons God, al hierdie rykdom wat ons gereedgekry het om vir U 'n huis vir u heilige Naam te bou, is uit u hand en behoort alles aan U. Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee. HERE, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, bewaar dit vir ewig as die gesindheid van die gedagtes in die harte van u volk. Rig hulle harte op U, en gee aan my seun Salomo 'n onverdeelde hart om u gebooie, u bepalings en vaste voorskrifte, na te kom en dit alles uit te voer, en om die vesting te bou waarvoor ek voorbereidings getref het.” Toe het Dawid vir die hele geloofsgemeenskap gesê: “Prys dan die HERE julle God!” Daarop het die hele geloofsgemeenskap die HERE, die God van hulle voorouers, geprys. Hulle het gekniel en in eerbied gebuig voor die HERE en die koning.

1 KRONIEKE 29:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder het koning Dawid aan die hele vergadering gesê: My seun Salomo, wat God alleen uitverkies het, is nog jonk en teer, en die werk is groot, want die paleis is nie vir mense nie, maar vir die HERE God. Nou het ek met al my krag vir die huis van my God berei die goud vir dinge wat van goud gemaak moet word, en die silwer vir dinge van silwer en die koper vir dinge van koper, die yster vir dinge van yster en hout vir dinge van hout; oniksstene en stene om te sit, glinsterende stene en allerhande kleure en allerhande edelstene en marmerstene in menigte. Verder, omdat ek my geneentheid aan die huis van my God gerig het, het ek uit my eie goed, van goud en silwer, wat ek aan die huis van my God gegee het, bo en behalwe alles wat ek vir die heilige berei het. Huis, selfs drie duisend talente goud, van die goud van Ofir, en sewe duisend talente gesuiwerde silwer, om die mure van die huise mee oor te trek; Die goud vir goue dinge en die silwer vir silwergoed en vir allerhande werk wat deur die hande van kunsmanne gemaak moet word. En wie is dan bereid om sy diens vandag aan die HERE te wy? Toe het die owerstes van die vaders en owerstes van die stamme van Israel en die owerstes oor duisend en oor honderd saam met die owerstes van die koning se werk gewillig geoffer, en hy het vir die diens van die huis van God gegee van goud vyf duisend talente en tien duisend drame en tien duisend talente silwer en agttien duisend talente van koper en honderd duisend talente yster. En die by wie edelgesteentes gevind is, het dit aan die skat van die huis van die HERE gegee deur die hand van Jehiël, die Gersoniet. Toe was die volk bly omdat hulle gewillig geoffer het, omdat hulle met volkome hart gewillig aan die HERE geoffer het; en koning Dawid was ook bly met groot blydskap. Daarom het Dawid die HERE voor die hele vergadering geseën, en Dawid het gesê: Geseënd is U, HERE, God van ons vader Israel, tot in alle ewigheid! Aan U, HERE, behoort die grootheid en die krag en die heerlikheid en die oorwinning en die majesteit, want alles wat in die hemel en op die aarde is, is aan U; aan U behoort die koninkryk, o HERE, en U is verhewe as hoof bo alles. Rykdom sowel as eer kom uit U, en U heers oor alles; en in jou hand is krag en sterkte; en in jou hand is dit om groot te maak en aan almal krag te gee. Nou dan, onse God, ons dank U en loof u heerlike Naam. Maar wie is ek, en wat is my volk, dat ons so graag so gewillig sou kan offer? want alles kom van U, en uit U eie het ons aan U gegee. Want ons is vreemdelinge voor jou en bywoners, soos al ons vaders was: ons dae op die aarde is soos 'n skaduwee, en daar is niemand wat bly nie. O HERE onse God, al hierdie voorraad wat ons voorberei het om vir U 'n huis vir u heilige Naam te bou, kom uit u hand en is alles aan u. Ek weet ook, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid. Wat my betref, in die opregtheid van my hart het ek al hierdie dinge gewillig geoffer; en nou het ek met blydskap u volk gesien wat hier teenwoordig is, om gewillig aan u te offer. O HERE, God van Abraham, Isak en van Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig in die verbeelding van die gedagtes van die hart van u volk, en berei hulle hart vir U voor. En gee aan my seun Salomo 'n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te onderhou en al hierdie dinge te doen en die paleis te bou waarvoor ek voorsiening gemaak het. Toe sê Dawid aan die hele vergadering: Loof nou die HERE julle God. En die hele vergadering het die HERE, die God van hulle vaders, geseën en hulle hoofde neergebuig en die HERE en die koning aanbid.

1 KRONIEKE 29:1-20 Die Boodskap (DB)

Koning Dawid het toe vir die hele vergadering gesê: “My seun Salomo, wat deur God self gekies is as volgende koning, is jonk en onervare, maar die werk is groot. Hierdie tempel is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit word vir God die Here gebou. Ek het alles bymekaargemaak wat nodig is vir die bou van die tempel: daar is goud, silwer, brons, yster, hout en oniks met die gesteentes om in te lê, mosaïeksteentjies vir mosaïekwerk, ’n klomp verskillende edelstene en baie marmer. Omdat die huis van my God vir my so belangrik is, gee ek ook al die goud en silwer wat ek het om die bouwerk moontlik te maak. Ek gee 103 ton van Ofir se goud en 240 ton suiwer silwer om die kamers se mure mee oor te trek en vir die ander goud- en silwerwerk wat gedoen moet word. Wie is nog bereid om iets vir die Here te gee?” Al die familiehoofde, die leiers van die stamme van Israel, die hoër en laer offisiere, en die verskillende amptenare van die koning was dadelik bereid om ook by te dra. Hulle het 171 ton goud, 342 ton silwer, 616 ton brons en 3 427 ton yster gegee. Dié wat edelstene by hulle gehad het, het dit aan Jegiël gegee vir die tempelskatte. Dié volk was bly oor al die gawes, want hulle het dit vrywillig en met blydskap vir die Here gegee. Koning Dawid was ook baie bly. Dawid het toe die Here in die teenwoordigheid van die hele vergadering geprys: “Ek loof U, Here, God van ons voorvader Israel, vir altyd en altyd. O Here, die grootheid, krag, glans, roem en majesteit behoort aan U. Ja, alles in die hemel en op aarde is U s’n. Aan U, Here, behoort die leierskap; U is hoër as almal. Van U af kom alle rykdom en eer. U regeer oor alles. U deel mag en krag uit vir wie U wil. U kan enigiemand groot en sterk maak. En nou dank ons U en prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons so ryk is om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af. Ons gee maar net aan U wat U vir ons gegee het. Ons is net vir ’n kort tydjie hier op die aarde, blote besoekers soos ons voorouers voor ons. Ons tydjie op aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan so gou verby. “Here ons God, al die goed wat ons bymekaargemaak het vir die tempel wat ons vir U wil bou, kom van U af en behoort aan U. Ek weet, my God, dat U na opregtheid by mense soek. Ek het in alle opregtheid my bydrae gemaak. Nou het ek met die grootste vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, bereid is om hulle besittings ook vir U te gee. “Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, wil U tog gee dat u volk lief bly vir U. Rig hulle harte altyd op U. Gee dat my seun Salomo hom heeltemal sal hou by u wette, reëls en voorskrifte. Gee dat hy dit alles sal doen en dat hy die tempel waarvoor ek alles voorberei het, sal bou.” Dawid het toe vir almal wat bymekaar was, gesê: “Prys nou die Here, julle God!” Daarop het hulle almal die Here, die God van hulle voorouers, geprys en voor Hom en die koning neergebuig.

1 KRONIEKE 29:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Koning Dawid het toe na die hele vergadering gedraai en vir hulle gesê: “My seun Salomo, wat God as die volgende koning verkies het, is nog maar jonk en onervare. Die werk wat vir hom wag, is groot. Want die tempel wat hy bou, is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit is vir die HERE God self! Ek het elke hulpbron tot my beskikking gebruik en soveel as wat ek kon, bymekaargemaak om die tempel van my God te bou. Daarom is daar nou genoeg goud, silwer, koper, yster en hout, sowel as groot hoeveelhede oniksstene, ander kosbare stene, duur juwele en allerhande stene en marmerstene. “Omdat die tempel van my God my na aan die hart lê, gee ek al my persoonlike skatte van goud en silwer om met die konstruksie daarvan te help. Dit is buiten die boumateriaal wat ek reeds bymekaargemaak het vir sy heilige tempel. “Ek gee nou meer as 102 ton goud van Ofir en meer as 238 ton gesuiwerde silwer om die mure van die geboue oor te trek en vir die ander werk van goud en silwer wat die ambagsmanne moet maak. Wie gaan my voorbeeld volg? Wie is gewillig om vandag geskenke vir die HERE te bring?” Toe het die familieleiers, die stamleiers van Israel, die generaals en kapteins van die leër en die koning se administratiewe personeel gewillig bygedra. Vir die oprigting van die tempel van God het hulle gegee: byna 170 ton goud, 10 000 goue muntstukke, 340 ton silwer, 612 ton koper en 3 400 ton yster. Onder toesig van Jegiël, ’n afstammeling van Gerson, het hulle ook talle edelgesteentes bygedra vir die skatkamers van die huis van die HERE. Die volk het gejuig oor die vrywillige gawes, want hulle het vrywillig en heelhartig bygedra vir die Here. Koning Dawid was ook vol vreugde. Dawid het die HERE geprys waar die hele vergadering teenwoordig was: “O HERE, God van ons voorouer Israel, mag U vir altyd geloof word! Aan U, HERE, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, HERE. Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk. Ons dank U, ons God, en prys u heerlike Naam! “Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het! Net soos ons voorouers is ons vreemdelinge en bywoners in die land. Ons dae op die aarde gaan soos ’n skaduwee verby, sonder enige verwagting. “HERE ons God, selfs hierdie boumateriaal wat ons ingesamel het om vir U ’n tempel te bou om u heilige Naam te eer, kom van U af. Dit behoort alles aan U! “Ek weet, my God, dat U ons harte ondersoek en opregtheid verlang. U weet dat ek dit alles met goeie motiewe geskenk het, en ek het ook gesien hoe u volk vrywillig en vreugdevol hulle geskenke gebring het. “HERE, God van ons voorouers Abraham, Isak en Israel, laat u volk altyd hierdie gesindheid behou. Laat hulle harte altyd getrou wees aan U. Gee my seun Salomo die heelhartige begeerte om al u bevele, gebooie en beginsels te gehoorsaam, en om hierdie tempel te bou, waarvoor ek al hierdie voorbereidings getref het.” Daarna het Dawid vir die hele vergadering gesê: “Prys nou die HERE julle God!” Die hele vergadering het toe die HERE, die God van hulle voorouers, geloof. Hulle het in eerbied voor die HERE en die koning gekniel.