Koning Dawid het vir die hele volksvergadering gesê: “God het een persoon gekies om die tempel te bou, Hy het my seun Salomo gekies. Salomo is jonk en swak. Dit is 'n groot werk, want die paleis wat hy moet bou, is nie vir 'n mens nie, dit is 'n tempel vir God die Here. Ek het gedoen wat ek kon doen om alles gereed te maak vir die tempel van my God: die goud, die silwer, die brons en die hout vir alles wat hulle daarvan moet maak, en ook nog oniks, edelstene om vas te sit teen die mure, klippies wat al die kleure het, en baie marmer. En ek gee ook al die goud en silwer wat ek het vir die tempel van my God, ek wil dit graag doen vir die tempel van my God. Ek gee dit saam met alles wat ek al klaar gereedgemaak het vir die gewyde gebou. Dit is 3 000 talente goud, goud uit die land Ofir, en 7 000 talente silwer. Julle moet dit gebruik om die mure van die geboue toe te maak, en vir die werk wat die ambagsmanne moet doen, hulle moet die goue goed en die silwergoed daarvan maak. En nou vra ek, wie van julle wil nou iets vir die Here gee?”
Die familiehoofde wou graag iets gee, en ook die stamhoofde, die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne, en die amptenare wat die werk vir die koning moes laat doen. Hulle het 5 000 talente goud gegee vir die werk by die tempel en ook 10 000 darieke goud, 10 000 talente silwer, 18 000 talente brons en 100 000 talente yster. Almal wat edelstene gehad het, het dit gegee vir die stoorkamers van die tempel. Jegiël van die Gerson-familie het dit daar opgepas. Die mense was bly omdat die leiers al die goed gegee het, want al die leiers wou dit graag vir die Here gee. Koning Dawid was ook baie bly.
Dawid het die Here geprys. Die hele volksvergadering het dit gehoor. Dawid het gesê: “Here, God van ons voorvader Israel, almal moet U prys, altyd en altyd. Alles wat belangrik is, alles wat sterk is, al die lig behoort aan U. Almal weet van U, die Koning in die hemel en op die aarde. Here, U is Koning, U is belangriker as almal en alles. U maak mense ryk en U gee vir hulle eer, dit is Ú wat oor alles regeer. U is sterk en U kan alles doen, en dit is U wat 'n mens groot en sterk kan maak. Daarom prys ons U, ons God, ons sing oor u wonderlike Naam. Maar wie is ek en wie is my volk wat hierdie goed vir U kan bring? Ons bring dit vir U, maar alles kom van U, en ons gee weer vir U die goed wat aan U behoort. Want ons is soos ons voorvaders, ons is ook soos vreemdelinge by U. Ons is naby U omdat U sê ons mag naby U wees. Ons lewe op die aarde is soos 'n skaduwee, dit gaan gou verby. Ons God die Here, ons het al hierdie goed gereedgemaak om 'n tempel te bou vir U, die heilige God, maar al hierdie goed kom van U, alles behoort aan U. My God, ek weet dat U 'n mens se hart toets en dat U wil hê 'n mens moet eerlik wees. Ek het self besluit om al hierdie goed vir U te gee, en ek het nou gesien dat u volk wat hier is, dieselfde gedoen het. Ek is bly daaroor. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, U moet u volk help om altyd so te dink, hulle moet net aan U dink. En help my seun Salomo sodat hy met sy hele hart gehoorsaam sal wees aan u gebooie, aan alles wat U gesê het. Help hom sodat hy dit alles sal doen en sodat hy die paleis vir U sal bou, ek het alles daarvoor gereedgemaak.”
Daarna het Dawid vir die hele volksvergadering gesê: “Julle moet nou julle God die Here prys.”
Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle voorvaders, geprys. Hulle het voor die Here en voor die koning gekniel en laag gebuig.