Titus, gebruik elke kans wat jy het om die regte feite oor God aan ander bekend te maak. Verduidelik vir die ouer mans dat hulle nie mag toelaat dat die sonde hulle aan die slaap sus nie. Hulle moet so leef dat ander mense groot respek vir hulle het. Hulle moet met wysheid optree. Hulle moet onwankelbaar in die Here glo, sy liefde uitleef en volhard op die regte pad. Praat ook met die vroue in die kerk wat al ouer is. Sê vir hulle dat hulle lewe moet wys dat hulle die Here ken. Hulle mag niks leliks van ander mense sê nie. Hulle mag ook nie te veel drink nie. Hulle moet ander gelowiges leer wat God van hulle verwag, veral vir die jonger vroue. Hulle moet vir hierdie vroue sê dat hulle baie lief vir hulle mans en kinders moet wees. Verder moet hulle ook vir hulle leer om met wysheid op te tree en om hulle nie aan buitehuwelikse verhoudings skuldig te maak nie. Hulle moet ook vir jonger vroue sê om goed na hul gesinne se behoeftes om te sien en om in liefde op te kyk na hul mans. Dan sal God se Woord nie bespotlik gemaak word nie. Titus, jy moet ook met die jonger mans in die kerk praat. Sê vir hulle om met wysheid op te tree. Wat jou betref, jy moet in alles wat jy sê en doen ’n voorbeeld stel van hoe ’n Christen behoort te leef. Doen goed aan ander mense. Maak God se wil op die regte manier bekend. Tree altyd met integriteit op. As jy sorg dat alles wat jy sê in ooreenstemming is met God se wil, sal selfs jou vyande niks leliks teen ons geloof kan sê nie. Praat ook met werkers en diensknegte wat vir ’n eienaar werk. Sê vir hulle hulle moet respek vir hulle eienaars hê. Hulle moet al die opdragte uitvoer wat aan hulle gegee word. Hulle moenie teëpraat nie. Ook moet hulle nie dinge steel nie sodat ander moet kan sien dat hulle in alles eerlik en betroubaar is. Dan wys hulle dat hulle geloof nie net ’n klomp dooie reëls op papier is nie. So word die leer oor ons wonderlike God en Verlosser nog meer aantreklik. God het sy goedheid aan alle mense bekendgemaak. Almal het nou die kans om sy verlossing te beleef. Nou wys Hy vir ons hoe om ’n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef. Hy laat ons elke dag tot sy eer in die wêreld leef. Daarom sien ons baie uit na daardie wonderlike dag wanneer ons wonderlike God en Verlosser, Jesus Christus, terugkom. Ons kan nie meer wag dat dit moet aanbreek nie! Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons net aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen! Nou wil ons net doen wat Hy sê! Titus, al hierdie dinge wat ek vir jou in dié brief skryf, moet jy aan die ander gelowiges meedeel. Doen dit met die gesag wat die Here aan jou as geestelike leier gegee het. Praat mooi met hulle. Wanneer dit nodig is, moet jy ook streng wees. Vat die sondaars vas. Moenie toelaat dat mense met jou spot of op jou neersien nie.
Lees Titus 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: Titus 2:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's