Titus 2:1-15

Titus 2:1-15 AFR20

Maar jy, verkondig jy wat pas by die gesonde leer. Ouer mans moet nugter wees, waardig, verstandig – gesond in geloof, liefde en standvastigheid. Net so moet ouer vroue se optrede wees soos dit •heiliges betaam. Hulle moet nie kwaadpraters wees, of verslaaf aan wyn nie, maar moet onderrig gee in wat goed is, sodat hulle die jong vroue kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, verstandig, kuis, toegewy aan hulle huishoudings, goedaardig, onderdanig aan hulle mans, sodat die woord van God nie belaster word nie. Vermaan ook so die jonger mans om in alle opsigte verstandig op te tree. Stel jy self in alles 'n voorbeeld deur goeie dade, onvervalste leer en waardigheid, gesonde en onaanvegbare prediking, sodat 'n teenstander beskaamd mag staan, en niks slegs het om oor ons te sê nie. Slawe moet in alles aan hulle eienaars onderdanig wees: hulle tevrede stel, nie teenpraat nie, en nie steel nie, maar toon dat alle betroubaarheid goed is, sodat hulle in alles die leer van God, ons Verlosser, aantreklik maak. Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp, terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons groot God en Verlosser, Jesus •Christus – Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom 'n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen. Praat oor hierdie sake met volle gesag, bemoedig en wys tereg. Moenie dat iemand op jou neersien nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Titus 2:1-15