Ek wil nou met julle praat oor ’n groot probleem wat ek al lankal hier binne-in my ronddra. Dit krap my baie om. Die Heilige Gees weet dit. My probleem is Israel. Israel, my broers, my bloedfamilie saam met wie ek grootgeword het. Maar baie van hulle glo nie in Christus nie. Ag, was ék maar deur Christus vervloek in plaas van hulle. Ek sal enige tyd my plek in God se nuwe wêreld aan hulle afstaan. Hulle is tog Israeliete, God se mense. Hulle het God se glorie gesien. Hy het met hulle die een ooreenkoms na die ander gesluit. Ook die wet van Moses, die tempel en al God se wonderlike beloftes is aan hulle gegee. Groot name soos Abraham, Isak en Jakob was hulle voorouers. Boonop het die Messias uit hulle midde gekom. Dit is Hy wat nou as God oor almal heers. Hy moet geloof word. Nou en vir altyd. Vir seker!
Dit wat ek oor Israel se ongeloof gesê het, beteken nie dat God se Woord nou skielik ongeldig is nie, inteendeel. Want al van Abraham se tyd af het God nie alle Israeliete as ware Israeliete beskou nie. God het vir Abraham gesê dat sy nageslag uit sy seun Isak sou voortkom. Dit beteken dus dat ’n mens nie sommer vanself ’n ware Israeliet is net omdat jou ouers Israeliete is nie. Glad nie. God alleen besluit wie regtig Israeliete is, soos Hy aan Abraham belowe het. Julle onthou mos nog hoe Hy vir Abraham gesê het: “Teen hierdie tyd volgende jaar sal Sara ’n seun hê.” Die belofte het kort daarna waar geword. Dit is egter nie al belofte van God wat in daardie tyd waar geword het nie. God het ook ’n ruk daarna uit ’n man (ek praat van ons almal se pa, Isak) vir Rebekka laat verwag. Toe haar kinders nog nie eens gebore was nie en nog nie kon goed doen of kwaad doen nie, is daar aan haar gesê: “Jou kind wat eerste gebore word, sal die een dien wat tweede gebore word.” So het God gewys dat sy besluit om vir Hom ’n volk uit te kies nie afhanklik is van enigiets wat ons doen nie. Nee, Hy roep mense na Hom toe sonder dat Hy eers na al hulle goeie en slegte dade kyk. Daarom staan daar in die profeet Maleagi geskryf:
“Ek het Jakob liefgehad. Ek het Esau gehaat.”
Beteken dit nou dat God onregverdig is? Nee, glad nie! Hy het immers vir Moses gesê: “Ek sal daardie mense jammer kry wat Ek wil jammer kry. Ek sal genade bewys aan wie Ek genade wil bewys.”
God kyk nie eers na wat mense dink en doen voordat Hy besluit om hulle te red nie. Nee, God gee so baie vir mense om dat Hy Hom oor hulle ontferm sonder om hulle dade in ag te neem. Daarom het Hy vir die farao gesê: “Ek het jou ’n baie sterk koning gemaak om ’n bepaalde rede. Ek gaan vir jou wys hoe sterk Ek is. My Naam gaan ook deur jou oor die hele aarde bekendgemaak word.”
Ons sien dus hieruit dat God genadig is oor wie Hy genadig wil wees. Hy maak ook daardie mense wat Hy wil verhard se hart so hard soos klip.
Jy sal dalk nou vir my sê: “Maar waarom blameer God ons dan vir alles wat hier op aarde verkeerd loop? Hy is tog in beheer van alles. Wie kan sy planne dwarsboom?”
Hoor hier, wie dink jy is jy dat jy met God stry en Hom terugantwoord? Jy is maar net soos ’n stuk klei in die pottebakker se hand. Hoe kan jy vir Hom wat jou gemaak het, sê: “Waarom het U my so gemaak?” Die pottebakker kan mos met sy klei maak wat hy wil. Uit dieselfde stuk klei kan hy iets maak waaroor hy baie bly is, en ook iets waarvan hy net mooi niks hou nie. God kan dieselfde met ons doen. Sommige mense hier op aarde is soos kleipotte waarvan God net mooi niks hou nie. Hy staan reg om hulle met sy groot krag te vernietig. Tog verdra Hy hulle geduldig. Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is. Hulle is die kleipotte op wie die hemelse Pottebakker baie trots is. God het vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld voorberei. Daarom stort Hy sy genade in oorvloed oor hulle uit.
God kies gelukkig nie net Jode uit om sy kinders te wees nie. Nee, ook mense uit ander volke word deur Hom geroep om in Hom te glo. Dit is presies net soos God in die profeet Hosea sê:
“Vir mense wat nie my volk is nie, sal Ek sê: ‘Julle is nou my volk.’ Vir haar wat geen liefde ken nie, sal Ek sê: ‘Jy is my beminde.’ Op plekke waar mense vir hulle gesê het: ‘Julle is nie deel van God se volk nie,’ juis daar sal nou gesê word: ‘Julle is kinders van die lewende God!’”
Die profeet Jesaja sê van Israel:
“Al is die Israeliete se getalle so baie soos al die seesand, sal daar slegs ’n klein groepie van hulle gered word. Die Here sal sy plan met groot krag hier op aarde laat waar word.”
Jesaja het ook op ’n ander plek gesê:
“As die Here, die Almagtige, nie vir ons ’n nageslag oorgelaat het wat in Hom bly glo nie, sou ons net soos Sodom geword het, sou ons net soos Gomorra verwoes gewees het.”
Wat is ons gevolgtrekking oor dit wat ons gesê het? Dít: mense uit ander volke wat nie eens probeer het om in die regte verhouding met God te kom nie, leef nou in vrede met Hom. God het hulle van hulle sondes vrygespreek omdat hulle in Hom glo. Aan die ander kant het Israel, wat van vroeg tot laat die wet probeer hou het sodat hulle in die regte verhouding met God kon wees, dit nie reggekry nie. Hoekom? Wel, omdat hulle die wet heeltemal verkeerd gehou het. Hulle het gedink dat God hulle moes beloon vir al hulle goeie dade. Hulle het nie eens die Messias herken toe Hy voor hulle in die pad kom staan het nie. Daarom het hulle oor Christus gestruikel. Dit is waar wat Jesaja oor hulle geskryf het: “Oppas! Ek het ’n groot rots daar op die berg Sion, die plek van verlossing, neergesit. As jy nie mooi kyk nie, gaan jy daaroor val. Hy is ’n rots wat vir baie mense aanstoot gee. Elkeen wat in Hom glo, sal nooit oor Hom struikel of val nie.”