ROMEINE 9:1-33
ROMEINE 9:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek praat die waarheid in •Christus – ja, ek lieg nie – en my gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig teenoor my dat ek in my hart 'n ontsaglike droefheid en 'n onophoudelike pyn ervaar. Ek sou inderdaad wou bid om self vervloek te wees, verwyder van Christus, in belang van my broers, my volksgenote na die liggaam. Hulle is Israeliete; aan hulle behoort die aanneming tot kinders, die heerlikheid, die verbonde, die wetgewing, die tempeldiens en die beloftes; aan hulle behoort die voorvaders, en uit hulle het ook die Christus as mens gekom – Hy wat God bo alles is, lofwaardig vir ewig! •Amen. Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou. Want dít is die woord van die belofte: “Teen hierdie tyd sal Ek kom en sal Sara 'n seun hê.” Dit is nie al nie. Ook Rebekka het uit net een man swanger geword, naamlik uit ons voorvader Isak, want nog voordat haar kinders gebore is, of iets goeds of kwaads gedoen het, is vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Dit het gebeur, sodat God se voorneme volgens sy uitverkiesing sou bly staan, nie op grond van mense se dade nie, maar op grond van Hom wat roep. Soos daar geskryf staan: “Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek 'n afkeer gehad.” Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! Vir Moses sê Hy tog: “Ek sal My ontferm oor wie ook al Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie ook al Ek barmhartig wil wees.” Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. Die Skrif sê immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” Hy ontferm Hom dus oor wie Hy wil, en Hy maak hardkoppig wie Hy wil. Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog 'n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?” Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie? Dit is ons wat Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Jode. So sê Hy ook in Hosea: “Hulle wat nie my volk was nie, sal Ek my volk noem, en haar wat nie geliefd was nie, sal Ek my geliefde noem.” En: “Op daardie plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is nie my volk nie,’ juis daar sal hulle kinders van die lewende God genoem word.” Maar Jesaja roep aangaande Israel uit: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, sal net 'n oorblyfsel verlos word; want die Here gaan 'n volledige en spoedige afrekening op die aarde hou.” En soos Jesaja reeds gesê het: “As die HERE, Heerser oor alle magte, nie vir ons 'n nageslag laat oorbly het nie, sou ons soos Sodom geword het, en sou dit met ons soos met Gomorra gegaan het.” Wat sal ons dan sê? Dat die heidene die •geregtigheid wat hulle nie nagejaag het nie, verkry het, naamlik die regverdiging deur die geloof, terwyl Israel, wat geregtigheid deur die wet nagejaag het, die eis van die wet nie kon nakom nie? Waarom nie? Omdat hulle dit nie op grond van geloof wou verkry nie, maar op grond van hulle dade. Hulle het oor die struikelblok gestruikel, soos daar geskryf staan: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”
ROMEINE 9:1-33 Bybel vir almal (ABA)
Ek behoort aan Christus, en die Heilige Gees help my om te weet wat reg is en wat verkeerd is. Daarom praat ek die waarheid, ek lieg nie wanneer ek vir julle sê dat ek baie hartseer is en dat ek nooit ophou treur oor my mense nie. Hulle is my broers, my eie mense. As God húlle sal red, dan sal ek tevrede wees as Hy mý vervloek en mý van Christus wegneem. Ja, hulle is Israeliete, God het hulle aangeneem om sy kinders te wees, Hy het vir hulle gewys Hy is Koning, Hy het verbonde gemaak met hulle, Hy het sy wette vir hulle gegee, Hy het vir hulle gesê hoe hulle Hom moet dien, Hy het baie dinge vir hulle belowe. Hulle voorvaders was die belangrike voorvaders, almal weet wie hulle was. Die Christus was ook 'n Israeliet, Christus wat oor alles regeer. Hy is God, en ons moet Hom altyd prys. Amen. Julle moenie dink dat God iets belowe het en dit het nie gebeur nie. Julle moet weet dat baie Israeliete nie ware Israeliete is nie. En baie mense van die nageslag van Abraham is ook nie ware kinders van Abraham nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Die nageslag van Isak sal jou nageslag wees. Dit beteken: Mense is nie kinders van God net omdat hulle die nageslag van Abraham is nie. Mense is kinders van God omdat Hy belowe het dat hulle sy kinders sal wees. Want God het vir Abraham belowe: Ek sal volgende jaar dieselfde tyd terugkom na jou toe. Dan sal jou vrou Sara 'n seun hê. Dieselfde het met Rebekka gebeur. Sy het twee kinders verwag, en een man, Isak, was hulle pa. Hy was ons voorvader. God het vir Rebekka gesê: Die oudste seun sal die jongste seun dien. God het dit gesê voordat die twee kinders gebore is en voordat hulle iets gedoen het wat goed of sleg is. Dit wys dat God self besluit wie Hy wil kies om sy kinders te wees. Hy kies hulle nie omdat hulle goeie dinge doen nie, Hy kies hulle omdat Hy besluit Hy wil hulle kies. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Ek was lief vir Jakob, maar Ek het nie van Esau gehou nie. Mag ons nou sê dat God nie reg doen nie? Nee, nooit nie! Want God het vir Moses gesê: Ek besluit self vir wie Ek genadig en goed wil wees. Dit wys vir ons: God kies nie mense omdat hulle goeie dinge doen of wil doen nie. God kies mense omdat Hy goed wil wees vir hulle. Want in die Ou Testament sê God vir die farao: Ek het jou 'n koning laat word sodat Ek kan wys hoe sterk Ek is en sodat almal op die aarde kan weet wie Ek is. Ja, God doen wat Hy wil. Hy is goed vir party mense en Hy maak party mense hardkoppig. Jy sê nou miskien: “God doen wat Hy wil doen, en mense kan dit nie keer nie. Hoekom is Hy ontevrede met dit wat ek doen?” Maar jy moet onthou jy is net 'n mens en jy kan nie teen God praat nie. Dit is dieselfde wanneer iemand iets maak. Daardie ding kan nie vir die persoon wat hom gemaak het, vra “Hoekom het jy my só gemaak?” nie. Jy kan ook dink aan 'n pottebakker. 'n Pottebakker kan enige iets van sy klei maak, enige iets wat hy wil. Hy kan van dieselfde stuk klei een ding maak wat baie spesiaal is en hy kan 'n ander ding maak wat nie spesiaal is nie. God doen dieselfde: Daar is party mense vir wie God moes gestraf het, en Hy wou hulle straf. God wou wys hoe sterk Hy is. Ja, Hy moes hulle gestraf het, Hy moes hulle vir altyd laat sterf het, maar Hy was geduldig, Hy het hulle nie gestraf nie. Hy het hulle nie gestraf nie, want Hy wou hê almal moet weet dat Hy, die Koning, baie goed is vir die mense wat Hy gereedgemaak het om eendag ook soos konings te wees. Hy het ons ook gereedgemaak. Ja, God het ons gekies om aan Hom te behoort, Hy het ons gekies uit die Jode en ook uit die heidene. Dit is soos God in die boek Hosea sê: Ek sal vir Nie-My-Volk-Nie sê: “Julle is my volk,” en Ek sal vir die mense sê vir wie niemand lief is nie: “Ek is lief vir julle.” God het ook in die boek Hosea gesê: Ek het vir hulle gesê: “Julle is nie my volk nie,” maar op daardie plek waar Ek dit gesê het, sal Ek vir hulle sê: “Julle is kinders van die God wat lewe.” En Jesaja skree en sê oor die Israeliete: Die Israeliete is so baie soos die sand van die see, maar die Here sal min van hulle red, Hy sal die klein bietjie red wat oorbly, want die Here sal die mense op die aarde straf, Hy sal dit gou doen. Dit is ook wat Jesaja gesê het lank voordat dit gebeur het: Die Here wat oor alles regeer, het ons nie almal laat sterf nie, Hy het 'n paar van ons laat oorbly. As Hy dit nie gedoen het nie, dan was ons soos Sodom en Gomorra. Daarom sê ek: Dit was vir die heidene nie belangrik dat God hulle moet vryspreek nie. Maar God hét hulle vrygespreek omdat hulle in Christus glo. Die Israeliete het probeer doen wat die wette sê sodat God hulle moet vryspreek. Maar hulle het nie regtig gedoen wat die wette sê nie. Hoekom nie? Hulle wou graag hê dat God hulle moet vryspreek, maar hulle wou nie in Christus gló nie, hulle het net gedoen wat die wette sê. Hulle was soos mense wat teen 'n klip gestamp het en geval het. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is
ROMEINE 9:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie — my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees — dat dit vir my 'n groot droefheid is en 'n onophoudelike smart vir my hart. Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, 'n vervloeking te wees, wég van Christus af. Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees — Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen. MAAR ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie. Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal 'n seun hê. En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep — is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God. En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word; want Hy volbring 'n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here 'n saak wat verkort is, op die aarde sal doen. En soos Jesaja tevore gesê het: As die Here van die leërskare vir ons nie 'n nageslag oorgelaat het nie, soos Sodom sou ons geword het en aan Gomorra gelyk gewees het. Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
ROMEINE 9:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen. Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou 'n nageslag kom.” Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara 'n seun hê,” was immers 'n belofte. En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat 'n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Dit hang dus nie af van 'n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.” Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil. Nou sal jy vir my sê: “Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?” Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie? En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê. En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het. So sê Hy dan ook in die boek Hosea: “Hulle wat nie my volk is nie, sal Ek roep om my volk te wees, en haar wat geen liefde ontvang het nie, om my geliefde te wees.” “En in plaas daarvan dat vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ sal hulle geroep word om kinders van die lewende God te wees.” En Jesaja roep van Israel dít uit: “Al was die Israeliete so baie soos die sand van die see, net die handjievol wat oorbly, sal gered word, want die Here gaan eens en vir altyd hier op aarde die saak afhandel.” So het Jesaja trouens al vroeër gesê: “As die Here, die Almagtige, nie vir ons 'n klompie laat oorbly het nie – soos met Sodom sou dit met ons gegaan het, soos Gomorra sou ons uitgewis gewees het.” Wat is nou ons gevolgtrekking? Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof. Israel, daarenteen, het 'n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so 'n wet het hulle nie uitgekom nie. Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel waarvan daar geskrywe staan
ROMEINE 9:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie, my gewete getuig ook van my in die Heilige Gees, Dat ek groot bedroefdheid en voortdurende droefheid in my hart het. Want ek kon wens dat ek van Christus vervloek sou wees vir my broers, my bloedverwante na die vlees. Wie is Israeliete; aan wie behoort die aanneming tot kinders en die heerlikheid en die verbonde en die gee van die wet en die diens van God en die beloftes; aan wie die vaders behoort, en uit wie Christus na die vlees gekom het, wat oor alles is, geseënd deur God tot in ewigheid. Amen. Nie asof die woord van God geen effek het nie. Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie; Ook nie, omdat hulle die nageslag van Abraham is, is hulle almal kinders nie; maar: In Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, hulle wat kinders van die vlees is, dit is nie kinders van God nie, maar die kinders van die belofte word as die saad gereken. Want dit is die woord van die belofte: In hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal 'n seun hê. En nie net dit nie; maar toe Rebekka ook swanger geword het deur een, naamlik ons vader Isak; (Want die kinders wat nog nie gebore is nie en ook nie goed of kwaad gedoen het nie, sodat die voorneme van God volgens die uitverkiesing kon bestaan, nie uit die werke nie, maar van Hom wat roep;) Daar is vir haar gesê: Die oudste moet die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad, maar Esau het Ek gehaat. Wat sal ons dan sê? Is daar ongeregtigheid by God? Die Here behoed. Want hy sê vir Moses: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal medelye hê oor wie Ek My wil ontferm. Dit is dus nie van hom wat wil of van hom wat hardloop nie, maar van God wat barmhartigheid bewys. Want die Skrif sê vir Farao: Vir hierdie selfde doel het Ek jou opgewek, dat Ek my krag in jou kan toon en my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Daarom ontferm hy hom oor wie hy barmhartig wil wees, en verhard wie hy wil. Jy sal dan vir my sê: Waarom vind hy nog skuld? Want wie het sy wil weerstaan? Nee, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Sal die vorm aan hom wat dit gevorm het, sê: Waarom het U my so gemaak? Het die pottebakker nie mag oor die klei, van dieselfde deeg om een voorwerp tot eer te maak en 'n ander tot oneer nie? Wat as God, wat gewillig was om sy toorn te toon en sy krag bekend te maak, met lankmoedigheid die voorwerpe van die toorn verdra het wat geskik was vir vernietiging? En dat Hy die rykdom van sy heerlikheid kon bekend maak op die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy vantevore tot heerlikheid voorberei het, Selfs ons wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos hy ook in Osee sê: Ek sal hulle my volk noem wat nie my volk was nie; en haar beminde, wat nie bemin was nie. En dit sal gebeur dat op die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie; daar sal hulle kinders van die lewende God genoem word. Jesaja roep ook oor Israel: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, 'n oorblyfsel sal gered word. Want hy sal die werk voltooi en dit verkort in geregtigheid, want die Here sal 'n kort werk op die aarde maak. En soos Jesaja vantevore gesê het: As die Here van Sabaot nie vir ons 'n nageslag nagelaat het nie, was ons soos Sodoma en het aan Gomorra gelyk geword. Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid bereik het, ja, die geregtigheid wat uit die geloof is. Maar Israel, wat die wet van geregtigheid nagejaag het, het die wet van geregtigheid nie bereik nie. Waarom? Omdat hulle dit nie uit die geloof gesoek het nie, maar as 't ware uit die werke van die wet. Want hulle het by daardie struikelblok gestruikel; Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.
ROMEINE 9:1-33 Die Boodskap (DB)
Ek wil nou met julle praat oor ’n groot probleem wat ek al lankal hier binne-in my ronddra. Dit krap my baie om. Die Heilige Gees weet dit. My probleem is Israel. Israel, my broers, my bloedfamilie saam met wie ek grootgeword het. Maar baie van hulle glo nie in Christus nie. Ag, was ék maar deur Christus vervloek in plaas van hulle. Ek sal enige tyd my plek in God se nuwe wêreld aan hulle afstaan. Hulle is tog Israeliete, God se mense. Hulle het God se glorie gesien. Hy het met hulle die een ooreenkoms na die ander gesluit. Ook die wet van Moses, die tempel en al God se wonderlike beloftes is aan hulle gegee. Groot name soos Abraham, Isak en Jakob was hulle voorouers. Boonop het die Messias uit hulle midde gekom. Dit is Hy wat nou as God oor almal heers. Hy moet geloof word. Nou en vir altyd. Vir seker! Dit wat ek oor Israel se ongeloof gesê het, beteken nie dat God se Woord nou skielik ongeldig is nie, inteendeel. Want al van Abraham se tyd af het God nie alle Israeliete as ware Israeliete beskou nie. God het vir Abraham gesê dat sy nageslag uit sy seun Isak sou voortkom. Dit beteken dus dat ’n mens nie sommer vanself ’n ware Israeliet is net omdat jou ouers Israeliete is nie. Glad nie. God alleen besluit wie regtig Israeliete is, soos Hy aan Abraham belowe het. Julle onthou mos nog hoe Hy vir Abraham gesê het: “Teen hierdie tyd volgende jaar sal Sara ’n seun hê.” Die belofte het kort daarna waar geword. Dit is egter nie al belofte van God wat in daardie tyd waar geword het nie. God het ook ’n ruk daarna uit ’n man (ek praat van ons almal se pa, Isak) vir Rebekka laat verwag. Toe haar kinders nog nie eens gebore was nie en nog nie kon goed doen of kwaad doen nie, is daar aan haar gesê: “Jou kind wat eerste gebore word, sal die een dien wat tweede gebore word.” So het God gewys dat sy besluit om vir Hom ’n volk uit te kies nie afhanklik is van enigiets wat ons doen nie. Nee, Hy roep mense na Hom toe sonder dat Hy eers na al hulle goeie en slegte dade kyk. Daarom staan daar in die profeet Maleagi geskryf: “Ek het Jakob liefgehad. Ek het Esau gehaat.” Beteken dit nou dat God onregverdig is? Nee, glad nie! Hy het immers vir Moses gesê: “Ek sal daardie mense jammer kry wat Ek wil jammer kry. Ek sal genade bewys aan wie Ek genade wil bewys.” God kyk nie eers na wat mense dink en doen voordat Hy besluit om hulle te red nie. Nee, God gee so baie vir mense om dat Hy Hom oor hulle ontferm sonder om hulle dade in ag te neem. Daarom het Hy vir die farao gesê: “Ek het jou ’n baie sterk koning gemaak om ’n bepaalde rede. Ek gaan vir jou wys hoe sterk Ek is. My Naam gaan ook deur jou oor die hele aarde bekendgemaak word.” Ons sien dus hieruit dat God genadig is oor wie Hy genadig wil wees. Hy maak ook daardie mense wat Hy wil verhard se hart so hard soos klip. Jy sal dalk nou vir my sê: “Maar waarom blameer God ons dan vir alles wat hier op aarde verkeerd loop? Hy is tog in beheer van alles. Wie kan sy planne dwarsboom?” Hoor hier, wie dink jy is jy dat jy met God stry en Hom terugantwoord? Jy is maar net soos ’n stuk klei in die pottebakker se hand. Hoe kan jy vir Hom wat jou gemaak het, sê: “Waarom het U my so gemaak?” Die pottebakker kan mos met sy klei maak wat hy wil. Uit dieselfde stuk klei kan hy iets maak waaroor hy baie bly is, en ook iets waarvan hy net mooi niks hou nie. God kan dieselfde met ons doen. Sommige mense hier op aarde is soos kleipotte waarvan God net mooi niks hou nie. Hy staan reg om hulle met sy groot krag te vernietig. Tog verdra Hy hulle geduldig. Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is. Hulle is die kleipotte op wie die hemelse Pottebakker baie trots is. God het vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld voorberei. Daarom stort Hy sy genade in oorvloed oor hulle uit. God kies gelukkig nie net Jode uit om sy kinders te wees nie. Nee, ook mense uit ander volke word deur Hom geroep om in Hom te glo. Dit is presies net soos God in die profeet Hosea sê: “Vir mense wat nie my volk is nie, sal Ek sê: ‘Julle is nou my volk.’ Vir haar wat geen liefde ken nie, sal Ek sê: ‘Jy is my beminde.’ Op plekke waar mense vir hulle gesê het: ‘Julle is nie deel van God se volk nie,’ juis daar sal nou gesê word: ‘Julle is kinders van die lewende God!’” Die profeet Jesaja sê van Israel: “Al is die Israeliete se getalle so baie soos al die seesand, sal daar slegs ’n klein groepie van hulle gered word. Die Here sal sy plan met groot krag hier op aarde laat waar word.” Jesaja het ook op ’n ander plek gesê: “As die Here, die Almagtige, nie vir ons ’n nageslag oorgelaat het wat in Hom bly glo nie, sou ons net soos Sodom geword het, sou ons net soos Gomorra verwoes gewees het.” Wat is ons gevolgtrekking oor dit wat ons gesê het? Dít: mense uit ander volke wat nie eens probeer het om in die regte verhouding met God te kom nie, leef nou in vrede met Hom. God het hulle van hulle sondes vrygespreek omdat hulle in Hom glo. Aan die ander kant het Israel, wat van vroeg tot laat die wet probeer hou het sodat hulle in die regte verhouding met God kon wees, dit nie reggekry nie. Hoekom? Wel, omdat hulle die wet heeltemal verkeerd gehou het. Hulle het gedink dat God hulle moes beloon vir al hulle goeie dade. Hulle het nie eens die Messias herken toe Hy voor hulle in die pad kom staan het nie. Daarom het hulle oor Christus gestruikel. Dit is waar wat Jesaja oor hulle geskryf het: “Oppas! Ek het ’n groot rots daar op die berg Sion, die plek van verlossing, neergesit. As jy nie mooi kyk nie, gaan jy daaroor val. Hy is ’n rots wat vir baie mense aanstoot gee. Elkeen wat in Hom glo, sal nooit oor Hom struikel of val nie.”
ROMEINE 9:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Voor Christus verklaar ek plegtig – ek vertel nie ’n leuen nie – en my gewete, bekragtig deur die Heilige Gees, bevestig dat wat ek nou gaan sê die waarheid is: Ek beleef ’n ontsaglike hartseer, ja, ek dra ’n permanente pyn in my om oor my broers en susters, my volksgenote. Ek sou selfs ter wille van hulle deur God vervloek wou wees – afgesny van Christus – as dit hulle kon red. Hulle is tog Israeliete, bevoorreg tot kindskap. God het sy heerlikheid aan hulle bekendgemaak. Hy het verbonde met hulle gesluit en sy wet vir hulle gegee. Hulle is bevoorreg om Hom te aanbid en Hy het wonderlike beloftes aan hulle gemaak. Hulle het eerbiedwaardige voorvaders gehad en uit hulle is Christus as mens gebore – Hy wat tegelyk God bo alles is en aan wie die lofprysing vir altyd en altyd toekom! Amen. Dit impliseer egter nie dat God se beloftes aan die Jode nou ongeldig geword het nie. Ons moet in gedagte hou dat nie almal wat uit ’n Israelitiese familie gebore word, ware Israeliete is nie. Die blote feit dat mense afstammelinge van Abraham is, maak hulle nog nie ware kinders van Abraham nie. Want die Skrif sê: “Isak is die seun uit wie jou nageslag sal kom.” Dit beteken dat Abraham se fisiese kinders nie noodwendig ook almal Gód se kinders is nie, maar dit is die kinders van die belofte wat Abraham se ware nageslag is. Want God het soos volg belowe: “Volgende jaar sal Ek terugkom, en dan sal Sara ’n seun hê.” Hierdie seun was ons voorvader Isak. Dis nie al nie. Rebekka was ook net een keer swanger. Sy het ’n tweeling by ons voorvader Isak gehad. Nog voordat hulle gebore is, ja, nog voordat hulle enigiets goeds of slegs gedoen het, het God reeds vir haar ’n boodskap gehad – wat bewys dat God volgens sy eie plan kies, nie volgens ons dade nie. Die boodskap aan haar was: “Die oudste kind sal die jongste een dien.” In die woorde van die Skrif: “Ek het vir Jakob liewer gehad as vir Esau.” Wat moet ons hierop sê? Dat God onbillik is? Beslis nie! Hy sê tog vir Moses: “Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartigheid betoon teenoor wie Ek dit wil doen.” Dit hang dus nie van ons af of ons God se belofte ontvang nie. Ons kan dit nie toe-eien deur dit te begeer of ons daarvoor in te span nie. Dit hang af van God se ontferming. Die Skrif verklaar mos dat God vir Farao gesê het: “Ek het jou juis hiervoor aangehits – Ek wil deur jou optrede my krag bekendmaak sodat my Naam oor die hele wêreld geroem sal word.” Dit is dus duidelik – God ontferm Hom oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil. Jy sou nou kon vra: “Hoe kan God mense nog blameer as hulle nie luister nie? Hulle het tog maar net gedoen waartoe God hulle verplig het. Hulle kan tog nie teen sy besluit ingaan nie.” O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?” As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie? Net so het God ook die volste reg om die voorwerpe van sy oordeel, wat vir ondergang gereedgemaak is, nog met groot geduld te verdra sodat Hy uiteindelik sy oordeel en sy mag bekend kan maak. Net so het Hy die volste reg om sy oorvloedige heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy voorberei het om sy heerlikheid te ontvang. Ons is hierdie voorwerpe – ons vir wie Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Joodse nasies. Oor laasgenoemde sê God in die boek Hosea tereg: “Hulle wat nie my volk was nie, sal Ek nou mý volk noem. En Ek sal haar liefhê wat nie voorheen my geliefde was nie.” En: “Dáár waar vir hulle gesê is: ‘Julle is nie my volk nie,’ juis daar sal hulle kinders van die lewende God genoem word.” Maar wat Israel betref, roep Jesaja uit: “Al was die Israeliete so baie soos die sand op die seestrand, sal net ’n handjievol oorblywendes verlos word. Want die HERE gaan sy saak hier op aarde eens en vir altyd finaliseer.” Jesaja het trouens al vroeër verklaar: “As die HERE, die Almagtige, nie ’n paar van ons laat oorbly het nie, sou ons volledig uitgewis gewees het net soos Sodom en Gomorra.” As ons hieroor nadink, wat is ons slotsom? Dit is dat nie-Joodse nasies die vryspraak deur die geloof verkry het, al het hulle hulle nie daarvoor beywer nie. Terselfdertyd het Israel, wat so hard probeer het om deur nakoming van die wet God se goedkeuring te verkry, nie daarin geslaag nie. Hoekom nie? Juis omdat hulle dit op grond van hulle werke probeer verkry het en nie deur die geloof nie. Dit was die klip waaroor hulle gestruikel het. God het hulle in die Skrif juis hierteen gewaarsku met die woorde: “Let goed op! Ek sit in Jerusalem ’n klip waaroor mense kan struikel, ’n rots wat hulle kan laat val. Maar enigeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”