Ek behoort aan Christus, en die Heilige Gees help my om te weet wat reg is en wat verkeerd is. Daarom praat ek die waarheid, ek lieg nie wanneer ek vir julle sê dat ek baie hartseer is en dat ek nooit ophou treur oor my mense nie. Hulle is my broers, my eie mense. As God húlle sal red, dan sal ek tevrede wees as Hy mý vervloek en mý van Christus wegneem. Ja, hulle is Israeliete, God het hulle aangeneem om sy kinders te wees, Hy het vir hulle gewys Hy is Koning, Hy het verbonde gemaak met hulle, Hy het sy wette vir hulle gegee, Hy het vir hulle gesê hoe hulle Hom moet dien, Hy het baie dinge vir hulle belowe. Hulle voorvaders was die belangrike voorvaders, almal weet wie hulle was. Die Christus was ook 'n Israeliet, Christus wat oor alles regeer. Hy is God, en ons moet Hom altyd prys. Amen.
Julle moenie dink dat God iets belowe het en dit het nie gebeur nie. Julle moet weet dat baie Israeliete nie ware Israeliete is nie. En baie mense van die nageslag van Abraham is ook nie ware kinders van Abraham nie. Want in die Ou Testament is geskryf:
Die nageslag van Isak
sal jou nageslag wees.
Dit beteken: Mense is nie kinders van God net omdat hulle die nageslag van Abraham is nie. Mense is kinders van God omdat Hy belowe het dat hulle sy kinders sal wees. Want God het vir Abraham belowe:
Ek sal volgende jaar
dieselfde tyd terugkom
na jou toe.
Dan sal jou vrou Sara 'n seun hê.
Dieselfde het met Rebekka gebeur. Sy het twee kinders verwag, en een man, Isak, was hulle pa. Hy was ons voorvader. God het vir Rebekka gesê:
Die oudste seun sal
die jongste seun dien.
God het dit gesê voordat die twee kinders gebore is en voordat hulle iets gedoen het wat goed of sleg is. Dit wys dat God self besluit wie Hy wil kies om sy kinders te wees. Hy kies hulle nie omdat hulle goeie dinge doen nie, Hy kies hulle omdat Hy besluit Hy wil hulle kies. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is:
Ek was lief vir Jakob,
maar Ek het nie van Esau
gehou nie.
Mag ons nou sê dat God nie reg doen nie? Nee, nooit nie! Want God het vir Moses gesê:
Ek besluit self vir wie Ek
genadig en goed wil wees.
Dit wys vir ons: God kies nie mense omdat hulle goeie dinge doen of wil doen nie. God kies mense omdat Hy goed wil wees vir hulle. Want in die Ou Testament sê God vir die farao:
Ek het jou 'n koning laat word
sodat Ek kan wys
hoe sterk Ek is
en sodat almal op die aarde
kan weet wie Ek is.
Ja, God doen wat Hy wil. Hy is goed vir party mense en Hy maak party mense hardkoppig.
Jy sê nou miskien: “God doen wat Hy wil doen, en mense kan dit nie keer nie. Hoekom is Hy ontevrede met dit wat ek doen?” Maar jy moet onthou jy is net 'n mens en jy kan nie teen God praat nie. Dit is dieselfde wanneer iemand iets maak. Daardie ding kan nie vir die persoon wat hom gemaak het, vra “Hoekom het jy my só gemaak?” nie. Jy kan ook dink aan 'n pottebakker. 'n Pottebakker kan enige iets van sy klei maak, enige iets wat hy wil. Hy kan van dieselfde stuk klei een ding maak wat baie spesiaal is en hy kan 'n ander ding maak wat nie spesiaal is nie. God doen dieselfde: Daar is party mense vir wie God moes gestraf het, en Hy wou hulle straf. God wou wys hoe sterk Hy is. Ja, Hy moes hulle gestraf het, Hy moes hulle vir altyd laat sterf het, maar Hy was geduldig, Hy het hulle nie gestraf nie. Hy het hulle nie gestraf nie, want Hy wou hê almal moet weet dat Hy, die Koning, baie goed is vir die mense wat Hy gereedgemaak het om eendag ook soos konings te wees. Hy het ons ook gereedgemaak. Ja, God het ons gekies om aan Hom te behoort, Hy het ons gekies uit die Jode en ook uit die heidene. Dit is soos God in die boek Hosea sê:
Ek sal vir Nie-My-Volk-Nie sê:
“Julle is my volk,”
en Ek sal vir die mense sê
vir wie niemand lief is nie:
“Ek is lief vir julle.”
God het ook in die boek Hosea gesê:
Ek het vir hulle gesê:
“Julle is nie my volk nie,”
maar op daardie plek waar Ek
dit gesê het,
sal Ek vir hulle sê:
“Julle is kinders van die God
wat lewe.”
En Jesaja skree en sê oor die Israeliete:
Die Israeliete is so baie
soos die sand van die see,
maar die Here sal min
van hulle red,
Hy sal die klein bietjie red
wat oorbly,
want die Here sal die mense
op die aarde straf,
Hy sal dit gou doen.
Dit is ook wat Jesaja gesê het lank voordat dit gebeur het:
Die Here wat oor alles regeer,
het ons nie almal laat sterf nie,
Hy het 'n paar van ons laat oorbly.
As Hy dit nie gedoen het nie,
dan was ons soos Sodom
en Gomorra.
Daarom sê ek: Dit was vir die heidene nie belangrik dat God hulle moet vryspreek nie. Maar God hét hulle vrygespreek omdat hulle in Christus glo. Die Israeliete het probeer doen wat die wette sê sodat God hulle moet vryspreek. Maar hulle het nie regtig gedoen wat die wette sê nie. Hoekom nie? Hulle wou graag hê dat God hulle moet vryspreek, maar hulle wou nie in Christus gló nie, hulle het net gedoen wat die wette sê. Hulle was soos mense wat teen 'n klip gestamp het en geval het. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is