Romeine 2:1-11

Romeine 2:1-11 DB

Al hierdie mense is op pad na die doderyk. Maar dit gee jou natuurlik nie die reg om links en regs oor ander te oordeel nie. Op die ou end is jy net so skuldig soos hulle. Jy wat so maklik die vinger na ander mense wys, doen jy nie maar presies dieselfde dinge as hulle nie? God weet wat ons almal doen. Omdat Hy die ware feite tot sy beskikking het, sal Hy eendag die regte uitspraak oor ons almal lewer. Ek sê weer: jy moet baie versigtig wees om nie die vinger na ander mense te wys terwyl jy dieselfde dinge as hulle aanvang nie. Jy sal God se oordeel glad nie vryspring nie. God is baie goed vir ons. Hy is geduldig met ons swakhede. Maar dit beteken glad nie dat Hy jou sondes oorsien omdat Hy so goed is vir jou nie. God is net geduldig met jou omdat Hy wil hê dat jy jou tot Hom moet bekeer. Maar as jy aanhou om in die sonde rond te lê, moet jy geen genade van Hom verwag nie. Hy weet baie goed hoe jy lewe. Jou sondes is teen dié tyd al hemelhoog opgestapel. Dag na dag word dit net meer. Wanneer die groot dag van God aanbreek - daardie dag wanneer Hy sy woede oor die sondes van die wêreld sigbaar kom wys en sy uitspraak oor ons almal kom lewer - sal Hy jou daaroor straf. God se oordeel sal absoluut regverdig wees. Hy kyk na elke ding wat ons doen. Op grond van ons dade sal God dan besluit waar ons die ewigheid gaan deurbring. Die ewige lewe wag op almal wat goed doen en wat aan Hom die eer gee. Mense wat hulle uiterste bes doen om God te gehoorsaam, sál die ewige lewe as ’n geskenk uit sy hand ontvang. Aan die ander kant: mense wat net vir hulleself leef en hulle glad nie aan God steur nie omdat hulle agter elke nuwe sonde aanhardloop, moet niks goeds verwag nie. Vir hulle wag daar net oordeel en straf. Daar lê ’n bitter moeilike tyd voor vir elkeen wat in sonde leef. Dit geld vir alle mense op aarde, Jode sowel as nie-Jode. Aan die ander kant wag daar ’n wonderlike tyd van vrede op almal wat doen wat God vra. Hy sal hulle met groot eer beklee. Dit geld ook vir alle mense, Jode sowel as nie-Jode. Mense se afkoms maak regtig nie vir God saak wanneer Hy oordeel nie. Hy trek niemand voor nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid