ROMEINE 2:1-11

ROMEINE 2:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Jy sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy, ja jý, is ook skuldig. Jy sê húlle doen verkeerde dinge, maar jý doen dieselfde dinge. As jy sê hulle doen verkeerde dinge, dan beteken dit dat jy ook skuldig is, want jy doen dieselfde verkeerde dinge. Ons weet dit is reg dat God mense straf wat daardie verkeerde dinge doen. Jy, ja jý, sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy doen dieselfde dinge. Jy moet weet dat God jou ook sal straf, jy sal nie kan wegvlug nie. God is baie goed, Hy straf mense nie gou nie, Hy is geduldig, want Hy wil hê jy moet lewe soos Hy sê. Maar dit alles is nie vir jou belangrik nie. Jy luister nie na God nie, jy lewe nie soos God wil hê nie. Daarom sal God jou straf op daardie dag wanneer Hy al die mense sal straf, daardie dag wanneer almal sal kan sien dat sy straf reg is. God weet wat elke mens gedoen het en Hy sal elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Party mense hou aan om goeie dinge te doen, want hulle wil graag hê God moet hulle eendag soos konings maak. Hulle wil hê mense moet hulle respekteer, en hulle wil aanhou lewe. God sal vir hulle die ewige lewe gee. Maar party mense is selfsugtig. Hulle weet wat reg is, maar hulle doen dit nie. Hulle doen graag dinge wat verkeerd is. God sal kwaad bly vir hulle en Hy sal hulle straf. Ja, God sal ál die mense straf wat verkeerd doen. Hy sal hulle laat swaarkry, en dit sal sleg gaan met hulle, met hulle almal, eerste die Jode en dan die mense wat nie Jode is nie. Maar God sal baie goed wees vir die mense wat goeie dinge doen. Hulle sal soos konings wees, almal sal hulle respekteer, en God sal vir hulle vrede gee, eerste vir die Jode en dan vir die mense wat nie Jode is nie. Ja, God dink nie een mens is belangriker as 'n ander mens nie.

ROMEINE 2:1-11 Die Boodskap (DB)

Al hierdie mense is op pad na die doderyk. Maar dit gee jou natuurlik nie die reg om links en regs oor ander te oordeel nie. Op die ou end is jy net so skuldig soos hulle. Jy wat so maklik die vinger na ander mense wys, doen jy nie maar presies dieselfde dinge as hulle nie? God weet wat ons almal doen. Omdat Hy die ware feite tot sy beskikking het, sal Hy eendag die regte uitspraak oor ons almal lewer. Ek sê weer: jy moet baie versigtig wees om nie die vinger na ander mense te wys terwyl jy dieselfde dinge as hulle aanvang nie. Jy sal God se oordeel glad nie vryspring nie. God is baie goed vir ons. Hy is geduldig met ons swakhede. Maar dit beteken glad nie dat Hy jou sondes oorsien omdat Hy so goed is vir jou nie. God is net geduldig met jou omdat Hy wil hê dat jy jou tot Hom moet bekeer. Maar as jy aanhou om in die sonde rond te lê, moet jy geen genade van Hom verwag nie. Hy weet baie goed hoe jy lewe. Jou sondes is teen dié tyd al hemelhoog opgestapel. Dag na dag word dit net meer. Wanneer die groot dag van God aanbreek - daardie dag wanneer Hy sy woede oor die sondes van die wêreld sigbaar kom wys en sy uitspraak oor ons almal kom lewer - sal Hy jou daaroor straf. God se oordeel sal absoluut regverdig wees. Hy kyk na elke ding wat ons doen. Op grond van ons dade sal God dan besluit waar ons die ewigheid gaan deurbring. Die ewige lewe wag op almal wat goed doen en wat aan Hom die eer gee. Mense wat hulle uiterste bes doen om God te gehoorsaam, sál die ewige lewe as ’n geskenk uit sy hand ontvang. Aan die ander kant: mense wat net vir hulleself leef en hulle glad nie aan God steur nie omdat hulle agter elke nuwe sonde aanhardloop, moet niks goeds verwag nie. Vir hulle wag daar net oordeel en straf. Daar lê ’n bitter moeilike tyd voor vir elkeen wat in sonde leef. Dit geld vir alle mense op aarde, Jode sowel as nie-Jode. Aan die ander kant wag daar ’n wonderlike tyd van vrede op almal wat doen wat God vra. Hy sal hulle met groot eer beklee. Dit geld ook vir alle mense, Jode sowel as nie-Jode. Mense se afkoms maak regtig nie vir God saak wanneer Hy oordeel nie. Hy trek niemand voor nie.

ROMEINE 2:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jy sê dalk: “Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!” Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy ’n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging. Ons weet tog dat God ’n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is. Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring? God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie? Maar nee, omdat jy so verhard is en in jou hart weier om tot inkeer te kom, is jy besig om vir jou ’n verskriklike oordeel op die oordeelsdag op te bou – daardie dag wanneer God, die regverdige regter, almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het. Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee. Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf. Daar wag swaarkry en benoudheid vir elke mens wat aanhou kwaad doen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood. Maar daar wag heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat aanhou met goeddoen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid