Romeine 15:13-19

Romeine 15:13-19 DB

Ek bid dat God in wie julle al julle hoop stel, elke deeltjie van julle geloofslewe sal vol maak met blydskap en vreugde. Dan sal julle, deur die groot krag van die Heilige Gees in julle lewens, altyd oorvloedige hoop hê. Dan sal julle onwrikbaar vashou aan die Here, kom wat wil. My broers en susters, ek weet van al julle goeie eienskappe. Julle is toegewyde mense. Julle het ook baie kennis oor God. Boonop help julle mekaar om te leef soos God dit wil hê. Daarom moet julle tog nie dink dat my brief, wat hier en daar nogal skerp is, as kritiek teen julle bedoel is nie. Glad nie. Ek sê maar net reguit alles wat God deur sy goedheid van my verwag om vir julle te sê. Hy het my aangestel as Christus Jesus se dienaar om onder mense te werk wat nie aan Israel behoort nie. Dit is my taak om soos ’n priester die goeie nuus van God aan hulle te bring. Hulle moet soos ’n offer voor God neergesit word, ’n offer wat God baie bly maak omdat die Heilige Gees hulle lewens nuutgemaak het. Ek is baie trots op alles wat Christus Jesus tot dusver deur my werk vir God bereik het. Natuurlik sal ek dit nooit waag om oor my eie prestasies te praat nie. Nee, ek kan slegs praat oor wat Christus deur my gedoen het. Hy het elke woord en daad van my in sy diens geneem. Oral het mense wat nie aan Israel behoort nie, begin om in God te glo. Groot tekens en wonders het plaasgevind waar ek gepreek het. Dit is omdat die groot krag van die Gees by my is. Daarom kon ek die goeie nuus oor Christus van Jerusalem af tot in die noordweste van Griekeland, daar in Illirikum, uitdra.

Video for Romeine 15:13-19