ROMEINE 15:13-19
ROMEINE 15:13-19 Bybel vir almal (ABA)
God laat mense aanhou hoop. Ek bid dat Hy vir julle bly sal maak en dat Hy vir julle vrede sal gee, vir julle wat glo. Dan sal die Heilige Gees vir julle krag gee, en julle sal baie seker wees dat die dinge wat julle hoop, sal gebeur. Vriende, ek is baie seker dat julle baie goeie dinge doen vir mekaar, julle weet alles wat julle moet weet en julle kan vir mekaar leer om reg te lewe. Maar ek het op party plekke in hierdie brief baie reguit met julle gepraat. Party van julle sal nie daarvan hou nie, maar ek wil hê julle moet onthou wat God vir julle gedoen het. God was baie goed vir my en Hy het my gekies om vir Christus Jesus te werk. Hy het my na die heidene toe gestuur, en my werk is om vir hulle die goeie boodskap van God te bring. Wanneer die heidene in Christus glo, dan word hulle soos 'n offer wat ek vir God gee, en God sal die offer aanvaar. Die Heilige Gees het hulle aan God gewy. Ek behoort aan Christus Jesus en daarom is ek trots op alles wat ek vir God doen. Ek wil nie spog nie, ek sal net vertel van die dinge wat ek gedoen het omdat Christus vir my die krag gegee het om dit te doen. Hy het my gebruik sodat die heidene gehoorsaam kan word aan Hom. Ek het gedoen en gesê wat Christus wou hê. Die Heilige Gees het vir my krag gegee om tekens en wonderwerke te doen. Ja, ek het klaar die goeie boodskap oor Christus oral vir die mense gebring, van Jerusalem tot by die provinsie Illirikum.
ROMEINE 15:13-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! MAAR ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan. Tog het ek ten dele taamlik gewaag om aan julle te skrywe, broeders, as een wat julle herinner, kragtens die genade wat my deur God gegee is om 'n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, 'n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees. Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God. Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie — om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad, deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum
ROMEINE 15:13-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! My broers, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. God het my immers in sy genade die voorreg gegee om in diens van Christus Jesus onder die heidennasies te werk. Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies 'n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is. In Christus Jesus is ek trots op wat ek in diens van God verrig. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer.
ROMEINE 15:13-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees. My broers, persoonlik is ek daarvan oortuig dat julle ook self vol goedheid is en oor volledige kennis beskik, in dié mate dat julle mekaar ook kan reghelp. Tog het ek oor sekere sake nogal vrymoedig aan julle geskryf om julle daaraan te herinner dat ek, deur die genade wat God my gegee het, 'n bedienaar van •Christus Jesus aan die heidene is. Ek bedien die evangelie van God priesterlik, sodat die heidene 'n aanneemlike offer, geheilig deur die Heilige Gees, kan wees. Dit is dan waarop ek my in Christus Jesus beroem: dat ek hierdie offer aan God kan bring. Ek sal dit inderdaad nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die heidene tot gehoorsaamheid te bring nie – deur woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God. Gevolglik het ek die verkondiging van die evangelie van Christus heeltemal voltooi, van Jerusalem af en rondom, tot sover as Illirikum.
ROMEINE 15:13-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die God van hoop vervul julle met alle blydskap en vrede deur te glo, sodat julle oorvloedig kan wees in hoop deur die krag van die Heilige Gees. En ek self is ook van julle oortuig, my broeders, dat julle ook vol goedheid is, vervul met alle kennis, bekwaam om ook mekaar te vermaan. Nietemin, broeders, het ek op een of ander manier met meer vrymoedigheid aan julle geskryf om julle in gedagte te hou, ter wille van die genade wat deur God aan my gegee is, dat ek die dienaar van Jesus Christus vir die heidene sou wees, wat die evangelie van God bedien, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees. Ek het dan waarvan ek deur Jesus Christus kan roem in die dinge wat God toekom. Want ek sal dit nie waag om te praat van enige van die dinge wat Christus nie deur my bewerk het nie, om die heidene deur woord en daad gehoorsaam te maak, Deur kragtige tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God; sodat ek van Jerusalem af en rondom tot by Illirikum die evangelie van Christus ten volle verkondig het.
ROMEINE 15:13-19 Die Boodskap (DB)
Ek bid dat God in wie julle al julle hoop stel, elke deeltjie van julle geloofslewe sal vol maak met blydskap en vreugde. Dan sal julle, deur die groot krag van die Heilige Gees in julle lewens, altyd oorvloedige hoop hê. Dan sal julle onwrikbaar vashou aan die Here, kom wat wil. My broers en susters, ek weet van al julle goeie eienskappe. Julle is toegewyde mense. Julle het ook baie kennis oor God. Boonop help julle mekaar om te leef soos God dit wil hê. Daarom moet julle tog nie dink dat my brief, wat hier en daar nogal skerp is, as kritiek teen julle bedoel is nie. Glad nie. Ek sê maar net reguit alles wat God deur sy goedheid van my verwag om vir julle te sê. Hy het my aangestel as Christus Jesus se dienaar om onder mense te werk wat nie aan Israel behoort nie. Dit is my taak om soos ’n priester die goeie nuus van God aan hulle te bring. Hulle moet soos ’n offer voor God neergesit word, ’n offer wat God baie bly maak omdat die Heilige Gees hulle lewens nuutgemaak het. Ek is baie trots op alles wat Christus Jesus tot dusver deur my werk vir God bereik het. Natuurlik sal ek dit nooit waag om oor my eie prestasies te praat nie. Nee, ek kan slegs praat oor wat Christus deur my gedoen het. Hy het elke woord en daad van my in sy diens geneem. Oral het mense wat nie aan Israel behoort nie, begin om in God te glo. Groot tekens en wonders het plaasgevind waar ek gepreek het. Dit is omdat die groot krag van die Gees by my is. Daarom kon ek die goeie nuus oor Christus van Jerusalem af tot in die noordweste van Griekeland, daar in Illirikum, uitdra.
ROMEINE 15:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek bid dat dié God wat aan ons ’n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees. My broers en susters, ek is self deeglik bewus van julle goeie kwaliteite. Julle is trouens self so goed op hoogte van dinge dat julle mekaar sou kon onderrig. Ek was vrymoedig genoeg om sekere punte te beklemtoon alhoewel ek besef het dat dit eintlik net nodig was om julle geheue op te skerp. Ek het dit gedoen as iemand wat deur God se genade ’n evangeliedienaar van Christus Jesus onder die nie-Joodse nasies is. Soos ’n priester in die heiligdom bedien ek die Goeie Nuus aan julle, en so word julle ’n offer aan God met ’n lieflike geur, ’n offer wat Hy verwelkom en wat deur die Heilige Gees aan Hom gewy is. Deur Christus Jesus is dit my trots dat ek hierdie offer vir God mag aanbied. Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die nie-Joodse nasies tot gehoorsaamheid aan die evangelie te bring nie. Hy het dit gedoen deur my prediking en my voorbeeld, deur kragtige tekens en wonders – bewerk deur die krag van die Gees van God. Op hierdie manier het ek die Goeie Nuus aangaande Christus uitgedra vanaf Jerusalem en tot by Illirikum.