Openbaring 21:10-21

Openbaring 21:10-21 DB

Hy sê vir my: “Kom, ek wil vir jou die bruid wys, die vrou met wie die Lam gaan trou.” Hy vat my toe in die gees na ’n massiewe, hoë berg toe. Daar wys hy my dit toe: die stad wat God s’n is, Jerusalem, daal voor my oë van die hemel af ondertoe. Dit kom van God self af, en dit kon ’n mens aan die stad self sien. Dit was so oorweldigend en wonderlik! Dit het geskitter soos die wonderlikste edelsteen, helder soos ’n diamant. Rondom die stad was ’n hoë, dik muur. Daar was twaalf poorte in die stad, drie na elke windrigting se kant toe. By elke poort het ’n engel gestaan. Die twaalf name van die stamme van Israel is op die poorte aangebring. Die dik stadsmuur is op twaalf fondamente gebou, met die name van die twaalf apostels van die Lam daarop. Die engel wat met my gepraat het, het ook ’n goue liniaal gehad. Dit was om die stad noukeurig op te meet; ja, die hele stad met sy poorte en mure. Die stad was vierkantig; dit was net so lank as wat dit breed was. Die engel het toe die stad gemeet. Dit was 12 000 kilometer lank. Sy breedte en hoogte was presies dieselfde. Hy het ook die hoogte van die muur gemeet. Dit het volgens menslike mate 144 meter hoog gestaan. Die muur was van die pragtigste edelgesteentes gebou. Die stad self was van die suiwerste goud. Dit het geblink en geskitter, byna asof ’n mens na glas kyk. Die fondamente van die stadsmuur was die ene edelstene. Dit was oortrek met jaspis, saffiere, agaat, smarag, oniks, sardis, chrisoliet, beril, topaas, krisopraas, hiasint en ametis, twaalf soorte altesaam. Die twaalf poorte was elkeen uit ’n soliede pêrel gemaak. Die strate van die stad was van goud, skitterblink soos glas. Dit was of ’n mens daardeur kon sien.

Video for Openbaring 21:10-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor Openbaring 21:10-21