Hy het my toe deur die Gees na 'n groot en hoë berg geneem, en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het. Die stad was vol van die heerlikheid van God – haar glans het net soos dié van 'n baie kosbare edelsteen gelyk, soos kristalhelder •jaspis. Die stad het ook 'n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele. Op die poorte is name gegraveer, die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stadsmuur het twaalf fondamente, en daarop is ook twaalf name. Dit is die name van die twaalf •apostels van die Lam.
Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad, haar poorte en haar muur te meet. Die stad is vierkantig uitgelê, haar lengte is dieselfde as haar breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet, twaalfduisend stadion – die lengte, breedte en die hoogte daarvan is dieselfde. Hy het ook die muur van die stad gemeet – honderd vier-en-veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is. Die boumateriaal van die muur was jaspis, en dié van die stad suiwer goud, so blink soos 'n skoon spieël. Die fondamente van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier:
die eerste fondament met •jaspis,
die tweede met •lasuursteen,
die derde met •chalcedoon,
die vierde met •smarag,
die vyfde met •sardoniks,
die sesde met •karneool,
die sewende met •chrisoliet,
die agtste met •berilsteen,
die negende met •topaas,
die tiende met •chrisopraas,
die elfde met •hiasint
en die twaalfde met •ametis.
En die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, so blink soos deurskynende glas.