Spreuke 8:1-11

Spreuke 8:1-11 DB

Iemand wat reg leef, is ’n getuienis. Om reg te leef is soos ’n goeie vrou. Waar sy gaan, sien mense hoe goed en mooi sy is. Oral vertel sy hoe die wysheid jou kan help. Jy sien haar by opdraandes staan. By stopstrate waar die verkeer stadig vloei. By die ingange van stede waar hordes mense verbygaan. By die deure van huise en woonstelle. Oral sê sy dieselfde dinge: “Mense, hoekom leef julle so dom? Word slim. Kry insig in die lewe. Lewe gelukkig. Luister na die goeie dinge wat ek vir julle wil sê. Dit is woorde wat werklik iets aan jou lewe kan doen. Elke woord is die waarheid, want ek haat leuens. My woorde gee jou ’n goeie kennis van die lewe. Daar is werklik niks kroms of skeefs daaraan nie. Geen geheime agendas, magspeletjies of wat ook al nie. Net egte lewenswaarhede. Gaan vra maar vir hulle wat reeds wys leef en gelukkig is. Hulle sal weet my woorde is waar. “My lewensreëls is baie meer werd as geld. Dit wat ek jou van die lewe wil leer, is baie kosbaarder as aardse skatte. My goeie raad vir ’n gelukkige lewe is baie meer werd as jou peperduur juwele. Dis kosbaarder as enigiets wat jy ooit kan begeer.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 8:1-11