Spreuke 6:4-11

Spreuke 6:4-11 DB

Moenie eens gaan slaap nie. Steek jou trots in jou sak en gaan praat dadelik met daardie mense. Pleit. Soebat. Veg. Hou aan soos ’n wildsbok in ’n strik en ’n voëltjie in ’n voëlvanger se net, totdat jy vry is. Luiaard, gaan leer by die mier hoe om te werk. Sonder ’n baas wat hom moet dryf, ’n toesighouer wat sy vordering moet dophou of ’n bestuurder wat sy program moet reël, werk hy dag en nag. Sonder enige druk begin die miertjie al in die somer kos vir die winter opgaar. Tydens oestyd werk hy dag en nag om kos in die landerye te versamel en huis toe te dra. Luiaard, hoe lank gaan jy nog so sit en niksdoen? Of tot watter tyd in die oggend lê en slaap? Jy sal nog laat by die werk aankom, daar rondsit of lyf wegsteek, dan roep die baas jou. Jy kan jou werk verloor. Dan sluip die armoede jou lewe so ongemerk binne soos ’n skelm. Jy sal nie ’n verhoging kry nie. Dan sal armoede jou lewe so ernstig bedreig soos ’n gewapende man.