Spreuke 17:17-28

Spreuke 17:17-28 DB

Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou. ’n Mooiweersvriend sal jou net ondersteun terwyl dit goed gaan. Pas op vir finansiële risiko’s, vir lenings waaraan jy swaar afbetaal. Moet tog nie vir iemand borg teken nie. Dit is ’n dom ding. Jy gaan aan die kortste ent trek. Wie mense beledig, lok rusie uit. Wie baie van homself dink, word verneder. ’n Mens wat met niks tevrede is nie, sê nooit iets goeds van ander nie. Hy kraak net heeltyd af. Niks is ooit reg nie. Later wil niemand met hom bevriend wees nie. Dit is nie lekker vir ouers as ’n kind die Here verwerp en nie weet hoe om reg te leef nie. Dit maak hulle diep ongelukkig. Vreugde en geluk is goed vir jou gesondheid. Depressie kan jou knak. ’n Slinkse mens kan maklik omgekoop word. Hy sal selfs die waarheid vir ’n paar rand verdraai. Die gelowige wil graag reg leef. Hy soek heeltyd na wysheid. ’n Dwaas stel net in oppervlakkighede belang. ’n Ongelowige kind is vir sy ouers ’n groot hartseer. Partykeer is hy ook ’n groot verleentheid vir hulle. Dit is sleg as onskuldige mense ly, as gerespekteerde mense onbillik behandel word. Wie let op wat hy sê, verstaan wat wysheid is. Wie sy humeur in toom hou, ken die regte lewenstyl. Selfs ’n dwaas tree reg op wanneer hy sy praatlus bedwing. As hy geheime kan hou, is hy slim.