SPREUKE 17:17-28
SPREUKE 17:17-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood. Dit is 'n mens sonder insig wat borg staan, wat instaan vir die skuld van sy naaste. Wie hou van aanstoot gee, hou van rusie; wie homself hoog aanslaan, soek sy eie ondergang. 'n Vals mens sal nie voorspoed hê nie; wie die waarheid verdraai, sal ondergaan. Daar wag hartseer vir die vader van 'n dwaas; wie 'n ongemanierde seun het, het geen vreugde nie. 'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput. 'n Goddelose mens bied omkoopgeskenke aan en verdraai die reg. 'n Verstandige mens hou hom besig met wysheid, maar 'n dwaas se gedagte dwaal doelloos rond. 'n Onverstandige seun is vir sy ouers 'n ergernis, hy is vir hulle 'n bitter verdriet. Selfs al beboet jy 'n onskuldige mens net, is dit verkeerd, en om 'n man van aansien te laat slaan, druis in teen die reg. Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees; 'n mens met insig bly kalm. As 'n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir 'n wyse, en as hy sy mond toehou, vir 'n verstandige mens.
SPREUKE 17:17-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Vriend betoon te alle tye liefde, en 'n broer is gebore vir tye van nood. 'n Mens sonder verstand gee hand; hy staan borg vir sy medemens. Wie van oortreding hou, hou van rusie; wie sy ingang hoog bou, vra vir ineenstorting. Wie 'n valse hart het, vind nie die goeie nie, en wie bedrieglik met sy tong is, beland in die moeilikheid. Wie 'n dwaas verwek – tot verdriet is dit vir hom; en die vader van 'n nikswerd sal geen blydskap ervaar nie. 'n Vrolike hart is goed vir herstel, maar 'n neerslagtige gees sal die gebeente uitdroog. 'n Omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed – 'n goddelose aanvaar dit om die reg te dwarsboom. Iemand met insig hou wysheid voor oë, maar die oë van 'n dwaas is gerig op die eindes van die aarde. 'n Dwase seun is 'n ergernis vir sy vader, en 'n bitterheid vir haar wat hom in die wêreld gebring het. Om 'n regverdige 'n boete op te lê, is alreeds nie goed nie; om vooraanstaandes te slaan, druis in teen wat reg is. Wie sy woorde terughou is vertroud met kennis, en wie grootmoedig van gees is, is 'n skerpsinnige mens. Selfs 'n sot wat stilbly, word as wys beskou, as verstandig, wanneer hy sy lippe dig hou.
SPREUKE 17:17-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is. Iemand wat borg staan, het nie verstand nie. Net só ’n persoon sal instaan vir die skuld van sy naaste. Iemand wat bakleierig is, hou van sonde. Iemand wat arrogant is, soek sy eie ondergang. ’n Huigelagtige mens sal nie voorspoed hê nie. Hy wat die waarheid verdraai, stort homself in die ongeluk. Die pa van ’n dwaas ervaar baie hartseer. Daar is geen vreugde vir ’n pa as sy seun ’n dwaas is nie. ’n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ’n Neerslagtige mens tap jou krag. ’n Goddelose mens aanvaar omkoopgeskenke en verdraai so die reg. ’n Verstandige mens hou wysheid goed in die oog. ’n Dwase mens se gedagtes dwaal doelloos rond. ’n Onverstandige seun is vir sy pa ’n ergernis. Vir sy ma is hy ’n bitter verdriet. Dis verkeerd om ’n onskuldige ’n boete op te lê, of om ’n persoon van aansien te straf omdat hy eerlik is. Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm. Wanneer ’n dwaas stilbly, kan dit lyk of hy wys is; en as hy sy mond toehou, lyk hy soos iemand met insig.
SPREUKE 17:17-28 Bybel vir almal (ABA)
Jy kan altyd weet dat 'n vriend lief sal wees vir jou en dat 'n broer daar is om te help wanneer dit sleg gaan met jou. 'n Mens wat nie verstand het nie, sal borg staan en sê dat hy sy vriend se skuld sal betaal. Iemand wat graag ander mense kwaad maak, hou van twis. Wanneer iemand dink dat hy beter is as ander mense, dan sal dit gou sleg gaan met hom. Dit sal nie goed gaan met 'n mens wat vals is nie. As hy ander mense wil bedrieg, dan sal dit sleg gaan met hom. 'n Mens is hartseer wanneer jou kind 'n dwaas is, jy het dan niks waaroor jy bly kan wees nie. 'n Gelukkige mens is ook 'n gesonde mens, maar 'n mens wat moedeloos is, word siek. 'n Mens wat verkeerd doen, neem geld wat iemand skelm vir hom gee, en dan oordeel hy nie reg nie. 'n Verstandige mens dink hoe hy wysheid kan kry, maar 'n dwaas dink hoe hy die hele aarde kan kry. Wanneer ouers 'n kind het wat 'n dwaas is, dan is hulle hartseer en teleurgesteld. Dit is verkeerd wanneer 'n onskuldige persoon boete moet betaal, dit is ook verkeerd om 'n belangrike persoon te laat slaan wanneer hy eerlik is. Iemand wat baie weet, praat nie baie nie, 'n verstandige persoon word nie gou kwaad nie. Mense dink iemand het wysheid wanneer hy nie praat nie, hulle dink hy is verstandig wanneer hy stilbly, hulle dink dit ook wanneer hy 'n dwaas is.
SPREUKE 17:17-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood. Dit is 'n verstandelose mens wat handslag gee, wat borg staan vir sy naaste. Wie twis liefhet, het oortreding lief; hy wat sy deur hoog maak, soek verbreking. Wie verkeerd van hart is, vind die goeie nie; en hy wat vals is met sy tong, val in die ongeluk. Hy wat 'n dwaas verwek, vir hom sal dit 'n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie. 'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog. Die goddelose neem 'n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig. Die verstandige hou die wysheid voor oë, maar die oë van die dwaas is by die einde van die aarde. 'n Dwase seun is 'n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het. Is dit alreeds nie goed om die regverdige te beboet nie — om edeles te slaan is onbetaamlik. Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand. Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.
SPREUKE 17:17-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Vriend het te alle tye lief, en 'n broer word vir teëspoed gebore. 'n Man sonder verstand slaan die hand en word borg in die teenwoordigheid van sy vriend. Hy het oortreding lief wat twis liefhet, en hy wat sy poort verhef, soek verderf. Hy wat 'n verkeerde hart het, vind niks goeds nie; en hy wat 'n verkeerde tong het, val in onheil. Hy wat 'n dwaas verwek, doen dit tot sy smart, en die vader van 'n dwaas het geen vreugde nie. 'n Vrolike hart doen goed soos 'n geneesmiddel, maar 'n gebroke gees laat die gebeente droog word. 'n Bose neem 'n gawe uit die boesem om die weë van oordeel te verdraai. Wysheid is voor hom wat verstand het; maar die oë van 'n dwaas is aan die eindes van die aarde. 'n Dwase seun is 'n droefheid vir sy vader en bitterheid vir haar wat hom gebaar het. Ook om die regverdige te straf, is nie goed nie, en ook nie om vorste vir billikheid te verslaan nie. Wie kennis het, spaar sy woorde, en 'n man van verstand is van 'n voortreflike gees. Selfs 'n dwaas, as hy swyg, word as wys geag; en hy wat sy lippe toehou, word beskou as 'n man van verstand.
SPREUKE 17:17-28 Die Boodskap (DB)
Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou. ’n Mooiweersvriend sal jou net ondersteun terwyl dit goed gaan. Pas op vir finansiële risiko’s, vir lenings waaraan jy swaar afbetaal. Moet tog nie vir iemand borg teken nie. Dit is ’n dom ding. Jy gaan aan die kortste ent trek. Wie mense beledig, lok rusie uit. Wie baie van homself dink, word verneder. ’n Mens wat met niks tevrede is nie, sê nooit iets goeds van ander nie. Hy kraak net heeltyd af. Niks is ooit reg nie. Later wil niemand met hom bevriend wees nie. Dit is nie lekker vir ouers as ’n kind die Here verwerp en nie weet hoe om reg te leef nie. Dit maak hulle diep ongelukkig. Vreugde en geluk is goed vir jou gesondheid. Depressie kan jou knak. ’n Slinkse mens kan maklik omgekoop word. Hy sal selfs die waarheid vir ’n paar rand verdraai. Die gelowige wil graag reg leef. Hy soek heeltyd na wysheid. ’n Dwaas stel net in oppervlakkighede belang. ’n Ongelowige kind is vir sy ouers ’n groot hartseer. Partykeer is hy ook ’n groot verleentheid vir hulle. Dit is sleg as onskuldige mense ly, as gerespekteerde mense onbillik behandel word. Wie let op wat hy sê, verstaan wat wysheid is. Wie sy humeur in toom hou, ken die regte lewenstyl. Selfs ’n dwaas tree reg op wanneer hy sy praatlus bedwing. As hy geheime kan hou, is hy slim.