Daarna het die Here vir Moses gesê: “Verdeel nou die land onder die verskillende stamme. Gee aan elke stam die grond wat hulle toekom volgens die grootte van die stam. Jy moet lootjies trek om te bepaal watter stam watter gedeelte van die land kry. Jy moet die grond volgens die grootte van die verskillende stamme verdeel. Laat die stamme saam lootjies trek. Elke stam moet ’n stuk grond kry.” Die families van die stam van Levi wat getel is, was dié van Gerson, Kehat en Merari en ook dié van Libni, Hebron, Magli, Musi en Korag. Kehat was die oupa van Amram, en Amram se vrou was Jogebed, ook uit die nageslag van Levi. Sy is in Egipte gebore en haar en Amram se kinders was Aäron en Moses en hulle suster Mirjam. Aäron was die pa van Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar. Nadab en Abihu is mos dood toe hulle vuur en offers na die altaar toe gebring het waarvoor die Here nie gevra het nie. Die Leviete van ’n maand en ouer was altesaam 23 000 man. Hulle is nie saam met die ander Israeliete in die sensus getel nie, want hulle het mos nie grond as eiendom gekry nie. Moses en Eleasar het hierdie sensus opgeneem in die vlakte van Moab waar die volk langs die Jordaanrivier regoor Jerigo gekamp het. Toe hulle na die lyste kyk, was daar nie een van die mans se name daarin wat in die vorige sensus in die Sinaiwoestyn getel is nie. Hulle was reeds almal dood, soos die Here belowe het. Die enigste twee wat oorgebly het, was Jefunne se seun Kaleb en Nun se seun Josua.
Lees Numeri 26
Deel
Vergelyk alle weergawes: Numeri 26:52-65
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's