In die middel van die lente in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het, het die Here met Moses in die tabernakel, die spesiale tent waar Hy hom ontmoet het, gepraat en vir hom gesê: “Jy en Aäron moet ’n sensusopname van die hele volk volgens hulle familiegroepe en stamme hou. Skryf die name op van al die mans van twintig en ouer wat militêre diens kan doen. Kry een hoof uit elke stam om julle hiermee te help. Hier is die name van die mense wat julle moet help: uit die stam Ruben: Sedeür se seun Elisur; uit Simeon: Suri-Saddai se seun Selumiël; uit Juda: Amminadab se seun Nagson; uit Issaskar: Suar se seun Netanel; uit Sebulon: Gelon se seun Eliab; uit die nageslag van Josef, uit Efraim: Ammihud se seun Elisama, en uit Manasse: Pedasur se seun Gamliël; uit die stam Benjamin: Gidoni se seun Abidan; uit Dan: Ammi-Saddai se seun Agiëser; uit Aser: Okran se seun Pagiël; uit Gad: Reüel se seun Eljasaf; uit Naftali: Enan se seun Agira.” Hierdie stamhoofde, wat almal leiers in hulle eie families is, is die mense wat toe deur die volksvergadering aangewys is. Moses en Aäron het saam met hierdie leiers toe die volk op daardie dag bymekaar laat kom om hulle te laat registreer volgens hulle familiegroepe en stamme. Al die mans van twintig en ouer se name is een vir een opgeskryf, volgens die Here se opdrag aan Moses. Dit het in die Sinaiwoestyn gebeur. Die weerbare manne se getalle volgens hulle stamme was: van Israel se oudste seun Ruben 46 500 van Simeon 59 300 van Gad 45 650 van Juda 74 600 van Issaskar 54 400 van Sebulon 57 400 van Josef se seuns: Efraim 40 500 Manasse 32 200 van Benjamin 35 400 van Dan 62 700 van Aser 41 500 van Naftali 53 400 Daar was altesaam 603 550 weerbare manne wat twintig jaar en ouer was. Hulle getalle is bereken volgens hulle families.
Lees Numeri 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: Numeri 1:1-46
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's