Markus 2:1-17

Markus 2:1-17 DB

’n Paar dae later is Jesus Kapernaum toe. Die mense het dadelik daarvan gehoor en het die huis volgepak. Daar was so baie mense dat hulle tot in die straat gestaan het. Jesus het met hulle oor die dinge van God gepraat. Juis toe kom daar vier mans aan wat ’n lam man dra. Hulle kon nie deur die klomp mense by Jesus uitkom nie, want die mense het die hele plek toegestaan. Hulle maak toe ’n ander plan. Hulle klim op die dak, maak ’n gat daarin en laat die verlamde man versigtig op sy bed afsak. Toe Jesus sien hoe hierdie mense Hom vertrou, sê Hy vir die siek man: “My vriend, God vergewe al die verkeerde dinge wat jy gedoen het.” Dit het party van die kenners van die Joodse wet laat wonder: “Hoe op aarde kan hy so praat? Dit is darem te erg, want wie kan sê dat God al die verkeerde dinge vergewe, behalwe God self? Met dié praatjies wys hy dat hy g’n respek vir God het nie.” Hulle kon egter nie al hierdie lelike gedagtes vir Jesus wegsteek nie, want Hy het geweet wat hulle dink. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle so skepties? Wat is die maklikste, om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sondes’ of ‘Vat jou matras en loop’? Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Kyk mooi, die Seun van die mens kan dit hier op aarde doen.” Toe praat Jesus met die lam man: “Luister wat Ek sê. Vat jou matras en gaan huis toe.” Daar gebeur dit toe net so. Die man staan voor almal op en stap huis toe. Die mense was heeltemal uit die veld geslaan. “Ons het nog nooit in ons lewe sulke ongelooflike dinge gesien nie,” het hulle gesê, terwyl hulle vir mekaar vertel hoe groot en wonderlik God is. Toe Jesus weer op ’n dag langs die see gaan stap, het ’n groot groep mense Hom daar gekry. Hy het toe vir hulle van God en sy nuwe wêreld begin vertel. Terwyl hulle nog so loop en praat, sien Hy vir Levi, Alfeus se seun, in die belastingkantoor sit. “Kom saam met My,” sê Jesus vir hom. Hy het opgestaan, sy goed gevat en agter Jesus aangestap. ’n Rukkie later het Levi ’n ete by sy huis gehou. Jesus was ook daar met die mense wat agter Hom aangeloop het. Daar was nogal baie van hulle. Die res van die gaste was mense met wie die godsdienstige Jode niks te doen wou hê nie omdat hulle glo te sondig was. Die streng godsdienstige Jode wat die wet in die fynste besonderhede bestudeer het, het die hele petalje dopgehou. Dink net: Jesus is vriende met die klomp slegte mense en eet selfs saam met hulle! Hulle vra toe vir Jesus se volgelinge: “Hoekom eet hy saam met die klomp sondaars asof hy hulle goeie vriend is?” Jesus hoor dit toe. “As iemand gesond is, wil hy nie ’n dokter hê nie, maar as hy siek word, gaan soek hy gou ’n dokter. Net soos ’n dokter nie heeltyd gesondes dokter nie, net so hou Ek My nie heeltyd besig met die mense wat weet wat God wil hê nie. Ek hou My liewer besig met mense wat ver van God af leef.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid