Markus 2:1-17

Markus 2:1-17 AFR20

Toe Hy ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis was. Baie mense het daar saamgedrom, met die gevolg dat daar nie meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Hy was besig om die woord aan hulle te verkondig. Toe kom daar mense wat 'n verlamde, gedra deur vier van hulle, na Hom bring. Omdat hulle hom vanweë die skare nie tot by Jesus kon bring nie, het hulle 'n deel van die dak bokant waar Hy was, opgelig, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die slaapmat waarop die verlamde gelê het, laat afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “Kind, jou sondes word vergewe. ” Maar sommige van die skrifkenners het daar gesit en in hulle harte geredeneer: “Wie is hy dat hy so praat? Hy laster! Wie is in staat om sondes te vergewe behalwe net Een, en dit is God? ” Jesus het onmiddellik in sy gees geweet dat hulle so by hulleself redeneer, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte hieroor? Wat is makliker, om vir die verlamde te sê, ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” Hy het toe opgestaan, sy slaapmat dadelik opgetel en voor almal uit geloop, sodat almal verbaas was en God geprys en gesê het: “So iets het ons nog nooit gesien nie!” Jesus het weer weggegaan na die see toe. Die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer. In die verbygaan sien Hy Levi, die seun van Alfeus, by die tolhuis sit en sê vir hom: “Volg My!” En hy het opgestaan en Hom gevolg. Terwyl Jesus in Levi se huis aangeleun het vir ete, het baie •tollenaars en sondaars saam met Hom en sy dissipels aangeleun, want daar was baie mense wat Hom gevolg het. Toe die skrifkenners onder die •Fariseërs sien dat Hy saam met die sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gevra: “Waarom eet hy saam met die tollenaars en sondaars?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om •regverdiges te roep nie, maar sondaars.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid