Die goeie nuus oor Jesus begin met Johannes wat mense gedoop het. Daaroor het God se boodskapper Jesaja jare gelede al geskryf:
“Ek stuur my boodskapper voor jou uit om alles reg te maak vir jou koms, sê God. In die wildernis skree iemand hard uit: Maak seker dat die pad reg is waarop die Here moet loop. Dit moet mooi gelyk wees.”
Daar in die droë, verlate deel suid van Jerusalem het Johannes mense begin doop. In sy preke het hy mense mooi gevra om terug te draai na God toe. Om te wys hoe ernstig hulle daaroor voel, moes hulle hulle laat doop. Dan sou God nie meer kwaad wees oor hulle sondes nie, maar dit vergewe. Die mense het van alle kante af na hom toe gestroom, of hulle nou op die platteland gebly het of in die groot stad Jerusalem. Hierdie mense was spyt oor hulle sondes en het dit erken. Daarom is hulle deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.
Johannes se klere was gemaak uit materiaal van kameelhare wat hy met ’n breë leerbelt om sy middel vasgemaak het. Hy het aan die lewe gebly van sprinkane en heuning wat hy in die veld kon kry.
Johannes se boodskap was glashelder: “Moenie in my vaskyk asof ek iets is nie. Die Een wat regtig iets is, is op pad. As ek by Hom is, is ek niks. In vergelyking met Hom is ek so onbelangrik dat ek nie eens werd is om die kleinste ou dingetjie vir Hom te doen nie. Ek gebruik gewone water om julle mee te doop, maar Hy sal die Heilige Gees gebruik.”
Op ’n dag kom Jesus ook daar aan. Hy het die hele pad van die noorde af gekom, van Nasaret in die provinsie Galilea. Daar gekom, het Johannes Hom in die Jordaan gedoop. Toe Jesus na sy doop uit die water kom, was dit of die hemel oopskeur. Iets wat soos ’n duif gelyk het, het van bo af op Hom neergesak. Dit was die Heilige Gees. Net toe weerklink ’n stem uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek het Jou lief en Jy maak My bly.”
Die stem was nog nie behoorlik weg nie of die Heilige Gees vat Jesus die woestyn in. Daar het Hy 40 dae gebly. Satan het Hom nie met rus gelaat nie. Satan wou kyk of hy Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie. Jesus was nie alleen nie. Die wilde diere van die veld was by Hom en die engele het gesorg dat Hy alles het wat nodig was.
’n Rukkie daarna is Johannes in die tronk gestop. Jesus is toe terug Galilea toe en het vir mense begin vertel watter goeie nuus God vir hulle het. “Die tyd is nou ryp,” het Hy gesê. “Die nuwe wêreld van God is aan die kom. Almal sal God as die groot Heerser moet erken. Ruk julle reg en draai terug na God toe. Luister na die goeie nuus en maak dit julle eie.”
Op ’n dag het Jesus langs die See van Galilea gestap. Daar kry Hy twee vissermanne wat besig was om hulle nette in die see te gooi. Dit was twee broers, Simon en Andreas.
“Kom saam met My. Ek sal julle wys om op ’n ander manier vissers te wees, nie van vis nie, maar van mense, sê Jesus toe.”
Hulle los toe alles net so en is saam met Hom. ’n Entjie verder sien hulle nog twee broers aan die werk om die nette reg te kry. Hulle was Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus. Jesus nooi hulle toe ook daar en dan saam. Sonder om te huiwer is hulle ook agter Jesus aan. Hulle pa, Sebedeus, en die mense wat vir hom gewerk het, het alleen in die boot agtergebly.
Van daar af is hulle Kapernaum toe. Op die sabbat het Jesus sinagoge toe gegaan en met mense oor godsdienstige dinge begin praat om hulle te help om dit beter te verstaan. Die mense se monde het oopgehang, want sy woorde was so anders. Hulle kon na Jesus luister, want hulle kon sien dat Hy weet waarvan Hy praat. Hulle eie geleerdes wat vir hulle moes verduidelik wat in die wet staan, het nie naastenby soveel gesag en respek afgedwing nie.
Jesus was nog aan die praat, toe gil ’n man hard. Hy was in die greep van ’n bose, duiwelse gees. “Wat kom soek Jy hier, Jesus van Nasaret? Het Jy gekom om vir ons moeilikheid te maak en ons te vernietig? Ek ken Jou; ek weet wie Jy is - Jy is die Heilige van God.”
“Bly stil!” sê Jesus skerp. “Gee pad uit hierdie man uit.” Die man het vreeslik begin ruk soos die duiwelse gees hom rondgepluk het. Toe is die gees skreeuend uit die man uit.
Die mense was toe eers verbaas. Hulle kon byna nie glo wat hulle sien nie en het onder mekaar begin praat. “Wat gaan hier aan? Ons sien en leer hier van dinge waarvan ons niks weet nie. En dit is nie sommer kinderspeletjies nie. Daar is gesag daaragter, want kyk hoe luister die bose geeste na Hom wanneer Hy iets sê.” Hierdie nuus het soos ’n veldbrand versprei. Die mense in die hele provinsie van Galilea was aan die praat daaroor.