Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God. In die boek van die profeet Jesaja staan geskryf: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Hy is ’n stem wat uitroep in die woestyn: ‘Kry die Here se pad gereed. Maak vir Hom ’n hoofweg.’” Hierdie boodskapper was Johannes die Doper. Hy het in die woestyn opgetree en gepreek dat die mense hulle moes laat doop as teken dat hulle tot inkeer gekom het en so vergifnis van sonde ontvang het. Skares mense van Jerusalem en van oor die hele Judea het na Johannes toe gekom, en nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop. Johannes se klere was van kameelhaar en hy het ’n leerbelt om sy middel gedra. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Hy het aangekondig: “Daar kom Iemand ná my wat belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers werd is om soos ’n slaaf te buk en sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” Ongeveer daardie tyd het Jesus van Nasaret in Galilea af gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop. Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ’n duif na Hom toe afkom. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.” Dadelik hierna het die Heilige Gees Jesus na die woestyn laat gaan. Hy was daar vir 40 dae terwyl Hy deur Satan versoek is. Hy was daar saam met die wilde diere, en engele het Hom versorg. Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!” Op ’n dag terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy hoe Simon en sy broer Andreas hulle visnette in die see uitgooi, want hulle was vissers van beroep. Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!” En hulle het dadelik hulle nette gelos en saam met Hom gegaan. ’n Entjie verder langs die strand het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, in ’n skuit gesien terwyl hulle besig was om hulle nette heel te maak. Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee. Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners. Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep: “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!” Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!” Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan. Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!” Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.
Lees MARKUS 1
Luister na MARKUS 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: MARKUS 1:1-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's