Matteus 9:1-38

Matteus 9:1-38 DB

Jesus en sy dissipels het maar weer in die boot geklim en is terug huis toe. Hulle was skaars daar of die mense het ’n verlamde man na Hom toe gebring. Daardie groepie mense was so vas oortuig dat Jesus die man kon help dat hulle hom persoonlik soontoe gedra het. Hulle het geweet Jesus kon iets vir hom doen. Toe Jesus die gelowige verwagting op hulle gesigte sien, sê Hy vir die verlamde: “Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te begin glimlag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad gaan wees oor jou sonde nie.” ’n Groepie geleerde Jode het egter alles staan en bekyk. Hulle was glad nie tevrede met wat hulle gehoor het nie. Dit het ’n paar van hulle onder mekaar laat mompel: “Hierdie man het geen respek vir God nie. Kyk net wat sê hy!” Jesus het goed geweet hoe hulle staan en skinder. Sonder om doekies om te draai sê Hy vir hulle: “Wat dink julle gaan julle bereik met al hierdie geskinder? Om te praat is maklik. Enigeen van julle kan mos sy mond oopmaak en sê: ‘Nou het jy nie meer sonde nie!’ of dalk: ‘Kom regop en stap sonder hulp hier weg.’ Dit is mos nie moeilik om so iets te sê nie. Maar om te laat gebeur wat jy sê, is heeltemal ’n ander saak. Julle weet baie goed dat iemand net sonde kan vergewe as hy regtig die mag het om dit te doen. Die Seun van die mens het daardie mag. Kyk mooi, Ek gaan dit nou doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het. “Staan op!” sê Jesus vir die lam man. “Vat jou matras en stap self huis toe.” Die lam man het voor almal opgestaan en huis toe gestap. Die mense kon hulle oë byna nie glo nie. Met groot respek het hulle gesê: “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik en groot God is. Kyk, Hy gee tot vir ’n mens mag om sulke ongelooflike dinge te doen.” Van daar af stap Jesus toe verder tot by ’n tolhuis. Dit is die plek waar reisigers se bagasie deur belastinggaarders (hulle is tollenaars genoem) deursoek is. Dan moes hulle op sekere goed belasting betaal. Hierdie mense was baie ongewild onder die Jode. Om die waarheid te sê, die Jode wou nie eens met hulle meng of selfs met hulle gesels nie. Matteus was so ’n tollenaar. Toe Jesus Matteus in die tolhuis sien sit, sê Hy vir hom: “Los al hierdie goed waarmee jy jou so besig hou en kom saam met My!” Matteus het nie een oomblik op hom laat wag nie. Hy het alles net so gelos en saam met Jesus verder gestap. Hulle is van daar af na Matteus se huis toe. Daar gekom, nooi Matteus ’n groot klomp van sy vriende vir aandete. Saam met Jesus en sy dissipels was daar natuurlik ook ’n hele klomp mense met wie die Jode nooit eens saam aan ’n tafel gesien wou wees nie. Daar was nog tollenaars en dan ook mense wat deur die Jode as sogenaamde sondaars uitgeskel is. Dit was mense wat nie die Joodse wet so streng gehou het as wat party gedink het hulle moes nie. Van die Jode wat die wet baie streng gehou het, het Jesus toe saam met al daardie mense aan die tafel sien sit. Dit het hulle laat wonder of Hy dan soos daardie mense wou word, want ’n mens eet mos net saam met goeie vriende. Hulle het by sy dissipels probeer uitvis: “Wat is Jesus besig om te doen? Wat leer hy julle? Waarom is hy so vriendelik met hierdie slegte mense dat hy selfs saam met hulle eet?” Hulle het die dissipels met vrae gepeper. Jesus hoor dit toe en vra: “Wat dink julle moet ’n dokter doen? Moet hy heeltyd die gesonde mense oppas? Of is sy plek by die siek mense vir wie hy iets kan beteken? Die antwoord op hierdie vraag sal julle help om God se woorde te begryp: ‘Dit help nie julle broei mekaar warm in die kerk en hou mooi eredienste nie. Nee, Ek wil eerder hê julle moet mense help wat julle hulp regtig nodig het.’ “Dink mooi hieroor na; dan sal julle verstaan wanneer Ek sê dat Ek nie hier is om mense wat klaar aan God gehoorsaam is weer na Hom toe te lei nie. Nee, dit is die mense wat nie van Hom weet nie wie se oë Ek graag vir God wil oopmaak.” Johannes se volgelinge het ook begin wonder waarom Jesus-hulle so anders optree wanneer dit by godsdienstige gebruike kom. Hulle vra toe vir Jesus: “Kyk hoe getrou hou ons en die ander godsdienstige Jode die vastye. Vir lang tye sonder ons ons vir God af en eet niks nie. Waarom steur jou dissipels hulle glad nie daaraan nie?” Jesus antwoord: “Wel, omdat nuwe dinge in hierdie wêreld aan die gebeur is. Op ’n troue staan mense mos nie en huil nie. Allesbehalwe! Terwyl die troue aan die gang is, hou almal mos fees. As die fees eers verby en die bruidspaar weg is, kan hulle weer met hulle gewone lewe aangaan en huil as hulle wil. “Laat Ek dit so verduidelik: as iemand ’n gat in ’n ou rok regmaak, lap sy dit nie met nuwe materiaal wat kwaai sal krimp nie. Met die eerste was sal daardie nuwe lap mos krimp en ’n yslike gat in die ou rok skeur. “Nog ’n voorbeeld: julle weet goed dat die leer van sakke waarin wyn ’n lang ruk gehou word, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sagte sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Dan loop al julle wyn uit. Nee, nuwe wyn gooi ’n mens in sterk, nuwe sakke. Die sakke sal dan nie skeur nie en jou wyn sal ook nie uitloop nie. “Dus, as God se nuwe wêreld hier is, word nuwe optrede van mense verwag.” ’n Vername leier uit daardie omgewing kom val toe voor Jesus neer: “Kom, asseblief! My dogter is nou net dood! Kom vat net aan haar en ek weet sy sal weer begin leef. Asseblief!” smeek hy. Sonder om te huiwer staan Jesus en sy dissipels op om saam met hom te gaan. Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. Niks wou help nie en sy het geredeneer: “As ek net aan Jesus kan raak, weet ek ek sal gesond word.” Toe Jesus dus opstaan, kry sy haar kans. Sy kom van agter af en vat aan Hom. Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond. Daarna is Jesus-hulle saam met die vername man. By sy huis kry hulle mense wat vreeslik huil en rou. Dit het ’n groot lawaai afgegee. Jesus skreeu toe bo die geraas uit: “Gaan asseblief uit die huis uit. Die dogtertjie is nie regtig dood nie. Sy slaap net.” Toe die mense Hom dit hoor sê, was daar ’n beroering. Hulle kon hulle lag nie hou nie en het Hom begin koggel. Eers toe almal uit was, het Jesus by die huis ingegaan. Hy het die meisie se hand gevat en dit styf vasgehou. Die meisie het haar oë oopgemaak en opgestaan. Die nuus van wat daar gebeur het, het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei. Net toe Jesus by die huis uitkom, skreeu twee blindes hard vir Hom: “Seun van koning Dawid, help ons, asseblief! Ons het u hulp bitter nodig!” Jesus vra hulle: “Is julle heeltemal seker dat Ek julle kan help?” Vinnig antwoord hulle: “Natuurlik, Here.” Jesus vat toe aan hulle oë en sê: “Mag dít gebeur waarop julle so hoop.” En dit het gebeur - hulle kon weer sien. Jesus vra hulle toe baie mooi, maar tog ernstig: “Asseblief, moenie dat iemand agterkom wat hier gebeur het nie.” Maar hulle was kwalik by die deur uit of hulle het daaroor begin praat. Hulle kon dit net nie vir hulleself hou nie. Almal het later daarvan geweet. Net daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van ’n bose gees was. Die bose gees het gekeer dat hy ’n woord kon uitkry. Jesus het die bose gees verwilder en dadelik het die man begin praat. Die mense was skoon uit die veld geslaan. “Nog nooit het ons so iets in Israel gesien nie!” het hulle vir mekaar gesê. “Nee wat,” het die Fariseërs verskoning probeer soek, “hierdie man werk vir die duiwel. Daarom luister die bose geeste so vir hom!” Jesus het by al die dorpies en klein plekkies langs gegaan. By hulle byeenkomste het Hy lank met die mense gesels oor hoe hulle die Joodse Bybel moes verstaan. Hy het veral vir hulle die goeie nuus van God se nuwe wêreld vertel. Met Jesus se koms kon die mense ook al hoe meer agterkom hoe God se nuwe wêreld lyk. Daarom het Hy mense met allerhande siektes en kwale gesond gemaak. Jesus het na al hierdie mense om Hom gekyk. Hulle het vir Hom gelyk soos skape wat sonder ’n herder ronddwaal. Dit was of hulle nie meer krag oorgehad het om aan te gaan nie en sommer net daar wou bly lê. Daarom wou Jesus hulle regtig graag help. Hy sê toe vir sy dissipels: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes in te samel. Vra God, die Boer wie se oes dit is, om nog ekstra arbeiders te stuur. Daarvoor moet julle ernstig bid!”