MATTEUS 9:1-38

MATTEUS 9:1-38 NLV

Jesus het in ’n skuit geklim en oor die see teruggevaar. En Hy het in sy tuisdorp aangekom. Hulle bring toe vir Hom ’n verlamde man wat bedlêend was. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Jongman, skep moed! Jou sondes word jou vergewe.” Party van die skrifkenners dink toe by hulleself: “Dit is absolute laster!” Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vra toe: “Waarom dink julle sulke slegte dinge in julle harte? Want wat is makliker – om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of: ‘Staan op en loop’? Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om op aarde sondes te vergewe.” Daarna sê Hy vir die verlamde man: “Staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.” Hy het opgestaan en huis toe gegaan. Toe die skare dit sien, het ’n eerbiedige vrees oor hulle gekom en hulle het God geprys omdat Hy aan ’n méns soveel gesag gegee het. Toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy ’n man met die naam Matteus by die tolhokkie sit. Hy sê toe vir hom: “Kom! Word my dissipel!” Matteus het opgestaan en Jesus se dissipel geword. Matteus het toe ’n groot ete aangebied en, werklikwaar, baie van sy medetollenaars en ander berugte sondaars het gekom en die tafel met Jesus en sy dissipels gedeel. Toe die Fariseërs dit agterkom, vra hulle vir Jesus se dissipels: “Hoe kan julle leermeester met sulke immorele karakters saameet?” Toe Jesus dit hoor, sê Hy: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie; die siekes wel. Gaan leer wat dit beteken as die Skrifwoord sê: ‘Ontferming is vir My baie belangriker as offerandes.’ Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie.” By geleentheid het die dissipels van Johannes die Doper na Jesus toe gekom en Hom gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?” Jesus het geantwoord: “Dit is tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal treur solank die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Daar kom egter ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, sal die sakke skeur en die wyn uitloop. Dan is die sakke ook nog daarmee heen. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke; dan hou al twee goed.” Jesus was nog besig om met hulle te praat toe daar ’n vername Joodse leier na Hom toe kom en voor Hom neerval met die woorde: “My dogter is nou net dood. Kom tog en sit u hand op haar en sy sal weer lewe.” Jesus het opgestaan en saam met sy dissipels agter die man aan gegaan. Onderweg het ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af na Jesus toe gekom en aan die soom van sy bokleed geraak, want sy het by haarself gedink: “Al kan ek tog maar net aan sy bokleed raak, sal ek gesond word.” Toe Jesus omdraai en haar sien, het Hy vir haar gesê: “Skep moed, my dogter. Omdat jy so vas geglo het, is jy nou gesond.” En die vrou was van daardie oomblik af heeltemal genees. Toe Jesus by die vername man se huis aankom, kry Hy daar mense wat begrafnismusiek maak en ’n hele klomp wat kerm en huil. Daarop sê Hy vir hulle: “Gaan buitentoe; die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.” Maar hulle het Hom uitgelag. Nadat die klomp buitentoe gejaag is, het Jesus in die dogtertjie se kamer gegaan, haar hand gevat, en sy het opgestaan. Hierdie nuus het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei. Toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes agter Hom aan gekom. Hulle het hardop geskreeu: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Nadat Jesus in die huis ingegaan het, kom die blindes na Hom toe. Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?” Hulle sê vir Hom: “Ja, Here, ons glo U kan dit doen.” Hy raak toe hulle oë aan en sê: “Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur.” Daarop kon hulle sien! Jesus het hulle toe ernstig gewaarsku: “Maak seker dat julle niemand hiervan vertel nie.” Ten spyte daarvan het hulle weggegaan en oral gaan vertel hoe wonderlik Jesus is. Die twee wat gesond gemaak is, was nog besig om te vertrek toe mense iemand na Hom toe bring wat stom was omdat ’n bose gees beheer oor hom gehad het. Nadat Jesus die bose gees uit hom gejaag het, het die stom man begin praat. Die skare was oorweldig en het gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie!” Maar die Fariseërs se reaksie was: “Dit is Beëlsebul wat Hom help om bose geeste uit mense uit te jaag.” Jesus het deur al die dorpe en kleiner plekkies rondbeweeg. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid. Hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarop sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien.”