Jesus vertel toe vir hulle nog ’n verhaal oor hoe dit in God se nuwe wêreld gaan wees: “Daar was tien jongmeisies wat ’n troue wou bywoon. Soos die gewoonte is, het hulle hulle lampe gevat en die bruidegom langs die pad gaan inwag. Hy moes sy bruid deur die loop van die aand by haar huis gaan haal. Niemand het egter die presiese tyd geweet wanneer die bruidegom en sy vriende sou kom nie. Hulle was nog by sy huis besig om partytjie te hou. Die helfte van die meisies was slim genoeg om ekstra lampolie saam te vat, ingeval die bruidegom nie gou kom nie.
“Dit was toe ook so. Die bruidegom het nie gou gekom nie. Hulle het gewag en gewag. Later het hulle vaak begin word en aan die slaap geraak. In die middel van die nag skree iemand skielik: ‘Word wakker; die bruidegom kom! Gaan verwelkom hom!’ Die jong- meisies vlieg toe vinnig op en begin hulle lampe regkry. Op daardie oomblik het die vyf wat nie ekstra olie saamgebring het nie, hulle fout agtergekom. Hulle lampe het intussen doodgegaan omdat hulle olie op was. So kon hulle nie die bruidegom gaan verwelkom nie. Dit sou ’n belediging vir hom wees. Hulle bedel toe olie by die vyf wat slim genoeg was om ekstra olie saam te bring. Maar die slimmes sê: ‘Ons is vreeslik jammer, maar ons kan nie vir julle van ons olie gee nie. Daar is te min vir ons almal. Gaan koop gou vir julle.’ Die vyf is toe daar weg, maar helaas, die bruidegom was vinniger as hulle. Terwyl hulle weg was, kom hy toe daar aan. Almal wat met hulle lampe gereed gestaan het, het hom vriendelik verwelkom. Die deur is toegemaak en die onthaal het begin.
“Later daardie aand kom die ander vyf uiteindelik daar aan. Maar die deur was klaar toe. Hulle het probeer roep: ‘Meneer, Meneer, maak die deur vir ons oop!’ Maar die bruidegom sê vir hulle: ‘Julle kan nie my vriende wees nie. Julle het my dan nie kom verwelkom nie.’
“Julle moet nie dieselfde fout maak as hierdie vyf wat nie gereed was nie.
“Wees altyd gereed vir die koms van die Here. Hierdie waarskuwing is belangrik omdat ons nie presies weet wanneer Hy gaan kom nie. Dit bly ’n verrassing.”
“Daar is nog ’n ander verhaal ook waaruit julle iets oor die koninkryk van God kan leer. ’n Ryk man moes vir ’n lang tyd weggaan. Hy roep toe al sy werkers bymekaar. ‘Julle moet asseblief na my goed kyk terwyl ek weg is,’ sê hy en deel sy goed onder hulle uit. Aan die een het hy vyf bondels geld gegee; aan die ander een twee, en aan nog een net een bondel. Hy het hulle goed geken en geweet wat om vir elkeen te gee. Daarna is die ryk man daar weg.
“Dadelik, sonder om op hom te laat wag, het die een met sy vyf bondels geld daarmee aan die werk gespring. Die geld het geleidelik vermeerder en tien bondels geld geword. Die een wat twee bondels gekry het, het net so goed gevaar; hy het ook sy geld verdubbel. Maar met die derde een het dit nie so goed gegaan nie. Hy het ook aan die werk gespring, maar nie soos die ander nie. Hy het ’n gat gaan grawe. Daar het hy die bondel geld wat hy gekry het mooi gaan wegsteek.
“Intussen het die dae verbygegaan en maande geword. Uiteindelik, na ’n lang tyd, kom die ryk man weer daar aan. Hy roep toe die werkers en wou weet wat elkeen met sy geld gedoen het. Die een wat die vyf bondels gekry het, sit trots sy tien bondels op die tafel neer: ‘Meneer, hier is die vyf bondels wat u my gegee het. En kyk, hier is nog vyf bondels wat ek daarmee gemaak het.’ Die ryk man prys hom toe: ‘Uitstekend! Jy is regtig ’n goeie werker op wie ’n mens kan staatmaak. Jy het eintlik maar net ’n bietjie geld gehad om na te kyk, maar jy het dit goed gedoen. Eendag sal ek vir jou baie meer gee om na te kyk. Kom, wees saam met my bly, want jy is ’n ware vriend.’
“Toe is dit die man wat twee bondels gekry het se beurt. Trots sit hy sy vier bondels voor die ryk man neer. ‘Meneer,’ sê hy, ‘hier is die twee bondels wat u my gegee het en hier is nog twee wat ek verdien het.’ Die ryk man sê toe presies dieselfde vir hom as vir die vorige werker.
“Daarna is dit die man met die een bondel se beurt. ‘Meneer,’ begin hy, ‘ek ken u goed. Ek weet u is baie streng en hou nie van foute nie. U verwag baie van ons en wil altyd net ons beste hê. Ek was so bang dat ek u gaan teleurstel of dalk ’n fout gaan maak. Toe begrawe ek maar u bondel geld veilig in ’n gat. Daar kon dit niks oorkom nie. Kyk, hier is dit veilig terug.’ Die ryk man antwoord toe: ‘Jy is nou regtig ’n hopelose werker, ’n nikswerd! Jy weet ek is streng en verwag net die beste van julle. Kon jy nie my geld in ’n bank gesit het nie? Dan kon ek ten minste rente op die geld gekry het. Vat hierdie bondel geld hier weg en gee dit vir die werker met die tien bondels. Hy weet wat om daarmee te doen. Hy wat bereid is om te werk met wat hy het, sal nog meer kry. Wie egter agter allerhande verskonings wegkruip en nie skouer aan die wiel wil sit met wat hulle het nie, sal uiteindelik ook die bietjie verloor wat hulle het. Gooi hierdie betreurenswaardige werker hier uit. Hy hoort nie tussen ons nie. Hy hoort in die hel waar mense op hulle tande kners van pyn en huil van smart.”