MATTEUS 25:1-30

MATTEUS 25:1-30 NLV

“In daardie tyd sal dit met die koninkryk van God gaan soos met tien meisies wat met hulle lampe die bruidegom gaan inwag het. Vyf van hulle was dwaas, maar die ander vyf was verstandig. Die vyf dwase meisies het wel hulle lampe saamgeneem, maar geen ekstra olie nie. Die ander vyf daarenteen was verstandig genoeg om, afgesien van hulle lampe, ook nog ekstra olie in houers saam te vat. Toe die bruidegom lank wegbly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. Dit was al teen middernag toe ’n geroep hulle wakker maak: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!’ “Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry. Die dwases vra toe vir die verstandiges: ‘Help ons asseblief met ’n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.’ Maar die verstandiges het geantwoord: ‘Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.’ “Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit. Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’ Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’ “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.” “Verder is God se koningsheerskappy soos iemand wat op reis wou gaan. Hy roep toe sy slawe bymekaar en vertrou sy geld aan hulle toe om daarmee te woeker terwyl hy weg is. Vir die eerste slaaf het hy vyf kosbare goue muntstukke gegee, vir die tweede slaaf twee, en vir die derde slaaf een – vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid – en toe het hy vertrek. Dadelik het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel. Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel. Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Na ’n lang tyd het daardie slawe se eienaar van sy reis teruggekeer en hulle gevra om te rapporteer wat hulle met sy geld gedoen het. Die slaaf wat die vyf goue muntstukke ontvang het, verskyn toe voor hom en bring die vyf ekstra goue muntstukke saam. ‘Meneer,’ sê hy, ‘u het vir my vyf goue muntstukke gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’ “Die een wat die twee goue muntstukke ontvang het, verskyn toe ook voor hom en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’ “Daarna verskyn die een wat die een goue muntstuk ontvang het ook voor hom en sê: ‘Meneer, ek het besef dat u ’n veeleisende persoon is wat wil oes waar u nie self gesaai het nie en wil insamel waar u niks ingesit het nie. Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek. Hier is u geld nou.’ “Maar sy eienaar het hom geantwoord: ‘Jou slegte slaaf! Jou lamsak! So, jy het geweet dat ek ’n veeleisende mens is wat wil oes waar ek nie self gesaai het nie en wil insamel waar ek niks ingesit het nie? Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’ “Hy sê toe vir die ander: ‘Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word. En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.’”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 25:1-30