Hulle kom toe by Betfage aan die voet van die Olyfberg, nie ver van Jerusalem af nie. “Gaan asseblief gou na Betfage toe,” vra Jesus twee van sy volgelinge. “Nes julle in die dorp kom, sal julle ’n donkie met ’n vulletjie by haar kry. Bring hulle al twee vir My. As iemand vra wat julle doen, sê: Die Here het die twee donkies nodig. Sodra Hy klaar is, sal ons hulle terugbring.”
Jesaja het mos lank terug reeds gesê:
“Sê vir die mense van Jerusalem: Word wakker, julle Koning is op pad. Hy kom eenvoudig op ’n donkie aangery, Hy sit op die vul van ’n pakdier.”
Die twee dissipels het gedoen wat Hy gevra het. Toe hulle met die donkies daar aankom, het sy dissipels vir Hom ’n saal van klere gemaak. Toe Jesus begin ry, het baie mense om Hom saamgedrom. Die meeste van hulle het los stukke klere wat hulle by hulle gehad het mooi voor sy donkie oopgevou. Ander het weer boomtakkies op die pad voor Hom gegooi sodat Hy op die groen tapyt kon ry. Hulle het Hom soos ’n koning verwelkom en hard uitgeroep:
“Hoera vir die Seun van Dawid! Prys Hom wat op gesag van die Here self kom. Laat die hemel van ons vrolike hoera’s weergalm!”
So is Jesus met die hele groep mense Jerusalem in. Dit het nogal ’n opskudding in die stad veroorsaak. “Wat gaan aan? Wie is hy?” het die mense in Jerusalem probeer uitvind. “Dit is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea,” het mense in Jesus se groep uitgeroep.
In Jerusalem is Jesus reguit tempel toe. Langs die hoë tempelgebou was daar ’n groot, oop plein. Dit was ommuur en is as deel van die tempel beskou. Op hierdie tempelplein is allerhande offerdiere verkoop aan die dorpsmense wat nie self diere gehad het nie of aan mense wat ver gereis het en nie diere die hele ent kon saambring nie. Jy kon daar ook vreemde geld omruil vir die regte soort geld wat vir tempelbelasting gebruik is. Die plein was die ene bedrywigheid. Jesus het die gedoente so gekyk en toe die spul daar weggejaag. Tot die tafels en stoele het Hy omgekeer. Vir die mense wat verbaas gestaan en kyk het, sê Hy toe: “Gaan lees wat in die Skrif staan:
‘Die bedoeling is dat mense My moet kom aanbid hier waar Ek woon! Julle het dit egter die bymekaarkomplek van skelms en diewe gemaak.’”
Op die tempelplein was daar nou weer plek vir die blindes en lammes. Hulle het na Jesus toe gestroom en Hy het hulle gesond gemaak. Die Joodse godsdienstige leiers het Jesus natuurlik soos valke dopgehou. Niks het hulle oë ontglip nie. Hulle het gesien hoe wonderlik Jesus die mense help. Hulle het ook gehoor hoe die kinders op die plein rondhardloop en skreeu: “Hoera, koning Dawid se Seun is hier!” Dit alles het hulle baie omgekrap. Hulle konfronteer Jesus toe: “Hoor jy wat skreeu hierdie kinders oor jou?”
“Ja,” sê Jesus. “Het julle dan nog nooit geleer nie: as kinders, wat nog nie eens behoorlik kan loop nie, iemand loof, verdien hy regtig daardie lof.”
Jesus was nie lus om verder met hulle te stry nie en is daar weg, Betanië toe. Daar het Hy die nag geslaap.
Die volgende môre is Jesus vroeg terug stad toe. Op pad het Hy honger begin voel. Hy sien toe ’n vyeboom langs die pad en gaan soek ’n paar vye. Die boom was die ene blare, maar daar was nie ’n enkele vy nie. “Een ding is seker: niemand sal ooit weer ’n vy van hierdie boom afpluk nie,” sê Jesus toe. Dadelik het die boom wortel en tak verdroog.
Sy volgelinge was nogal uit die veld geslaan hieroor. “Het julle dit gesien? Hoe op aarde is dit moontlik?” vra hulle.
Jesus antwoord toe: “Luister nou mooi, want Ek wil vir julle iets belangriks sê. As julle op God vertrou, Ek bedoel regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het, na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir ’n berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring - en sowaar te sien hoe dit gebeur!
“Om heeltemal op God te vertrou gee krag aan jou gebed. Bid met daardie vertroue en God sal vir jou gee wat jy vra, of dit iets kleins of iets groots is.”