Toe Jerusalem begin naderkom, het Jesus en sy dissipels die dorpie Betfage, geleë teen die Olyfberg, bereik. Hy het twee dissipels vooruit gestuur met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle, en julle sal ’n donkie daar vasgemaak sien staan met ’n vul by haar. Maak hulle los en bring hulle hier vir My. As iemand protesteer, sê dan: ‘Die Here het hulle nodig. Hy sal hulle nou-nou terugstuur.’” Dit het gebeur om die profesie te laat vervul: “Sê vir die volk van Israel: ‘Kyk, julle Koning kom na julle toe. Hy is saggeaard en Hy ry op ’n donkie, ja, op die vul van ’n pakdier.’” Die twee dissipels het toe gegaan en gemaak soos Jesus hulle beveel het. Hulle het die donkie en haar vul gebring, hulle bo-klere op hulle gesit en Jesus het op die donkie gaan sit. Die grootste deel van die skare het hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi en ander het takke van die bome afgekap en dit oor die pad uitgesprei. Met Jesus in die middel van die optog het die skare uitgeroep: “Prys God vir die Seun van Dawid! Geseënd is die Een wat kom in die Here se Naam! Prys God in die hoogste hemel!” Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in beroering. Hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” Die skare het geantwoord: “Hy is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea.” Jesus het tempel toe gegaan en al die handelaars en hulle kliënte uitgejaag. Hy het die tafels van die bankiers en die hokkies van die duiweverkopers onderstebo gegooi en vir hulle gesê: “Daar staan in die Skrif geskryf: ‘My huis is bedoel om ’n huis van gebed te wees, maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak.’” Blinde en verlamde mense het daar op die tempelterrein na Hom toe gekom en Hy het hulle gesond gemaak. Maar toe die hoofpriesters en die skrifkenners die merkwaardige dinge sien wat Hy doen en hoor hoe selfs die kinders in die tempel uitroep: “Prys God vir die Seun van Dawid,” was hulle bitterlik ontsteld en het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” was Jesus se antwoord. “Het julle nog nooit in die Skrif gelees: ‘U het kinders en babatjies geleer om u lof te besing’ nie?” Toe is Hy weer daar weg en Hy het uit die stad na Betanië toe gegaan, waar Hy oornag het. Vroegdag op pad terug na Jerusalem het Jesus honger geword en ’n enkele vyeboom langs die pad sien staan. Hy gaan toe na die boom, maar al wat Hy daaraan gekry het, was blare. Hy sê toe vir die boom: “Mag jy nooit weer vrugte dra nie!” Die boom het onmiddellik totaal verskrompel. Die dissipels was verstom toe hulle dit sien en het gesê: “Hoe op aarde kon die boom so skielik heeltemal verdroog?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle dat as julle glo en nie twyfel nie, julle nie net dieselfde sal kan doen nie, maar baie meer. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘God sal jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Alles wat julle in die gebed van God vra, sal julle ontvang, mits julle glo.”
Lees MATTEUS 21
Luister na MATTEUS 21
Deel
Vergelyk alle weergawes: MATTEUS 21:1-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's