Matteus 17:15-20

Matteus 17:15-20 DB

“Here, help my seun, asseblief,” het hy gesmeek. “Hy ly verskriklik. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan val hy op die grond neer. Hy het al ’n paar keer in ’n vuur of in die water beland wanneer dit gebeur. As dit so aanhou, is hy binnekort dood. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.” Jesus draai om na sy dissipels toe en sê vir hulle: “Julle ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle sal glo? Dit kan nie langer so aangaan nie! Kry julle lewens in orde. My geduld is nou besig om op te raak.” Jesus sê toe vir die man: “Bring gou die seun hier.” Toe die seun by Jesus kom, het Hy die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Die seun was dadelik gesond. Kort daarna, toe hulle alleen was, het die dissipels halfverleë na Jesus toe gekom. “Hoekom kon ons nie daardie duiwel uit die seun verdryf nie?” het hulle Hom gevra. “Omdat julle geloof te klein is,” het Hy reguit geantwoord. “Julle maak nie erns met God nie. Weet julle, as julle geloof in Hom maar net so groot soos ’n klein mosterdsaadjie is, sal julle onmoontlike dinge regkry. Dan sal julle enige struikelblok in julle lewe kan oorkom, hoe groot dit ook al is. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘Skuif uit die pad uit!’ dan sal dit gebeur. Niks is onmoontlik vir mense wat op God vertrou nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 17:15-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid