Matteus 13:24-46

Matteus 13:24-46 DB

“Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’ Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’ “‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’” Jesus het voortgegaan met nog ’n verhaal: “God se nuwe wêreld kan met ’n baie klein saadjie, ’n mosterdsaadjie, vergelyk word. Iemand vat daardie klein saadjie en plant dit buite. Uit hierdie piepklein saadjie groei so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dit is so groot dat voëls selfs daarin nes kan maak.” Jesus het verder gepreek: “Luister nou na die verhaal oor die suurdeeg. God se nuwe wêreld werk net so. ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit goed in ’n groot skottel deeg in. Na ’n ruk sal die suurdeeg elke stukkie deeg in daardie skottel laat rys.” So het Jesus die een verhaal na die ander vertel. Die profete het mos al voorspel: “Ek sal verhale gebruik as Ek preek. So sal Ek julle dinge vertel wat niemand nog ooit gehoor het nie.” Daarna is Jesus en sy getrouste volgelinge alleen huis toe. Daar gekom, vra hulle Hom: “Ons verstaan nie mooi wat U met die verhaal van die onkruid bedoel het nie. Verduidelik dit asseblief vir ons.” Jesus het begin verduidelik: “Die boer wat die skoon saad saai, is die Seun. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier. “Neem hierdie dinge ernstig op. “Luister mooi na wat Ek sê.” “Luister ook hierna. Om God as jou Here te hê is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. Die skat het in die veld gelê. Toevallig ontdek iemand dit toe eendag, maar hy kon dit nie vat nie omdat dit nie sy grond was nie. Hy maak die skat toe weer mooi toe. Hy was so opgewonde daaroor dat hy al sy besittings gaan verkoop het. Met die geld het hy toe daardie stuk grond gaan koop. “Die vergelykings met ’n juwelier en ’n visnet kan julle ook help om te verstaan wat God se nuwe wêreld vir mense kan beteken. “’n Juwelier het die wêreld vol gereis op soek na goeie pêrels. Skielik loop hy ’n uitsonderlike en baie waardevolle pêrel raak. Hy wou dit vreeslik graag hê. Daarom gaan verkoop hy toe alles wat hy het en koop die pêrel.