MATTEUS 13:24-46
MATTEUS 13:24-46 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ ‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.” Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.” Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. So moes vervul word wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.” Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.” Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele. “Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. “Wie ore het, moet luister.” “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land. “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.
MATTEUS 13:24-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. ” Hy het nog 'n gelykenis vir hulle vertel: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het, totdat dit heeltemal deursuur is. ” Dit alles het Jesus deur gelykenisse aan die skare vertel, en sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Ek sal deur gelykenisse spreek; Ek sal uitbasuin wat van die grondlegging van die wêreld af verborge was.” Toe het Jesus die skare weggestuur en die huis binnegegaan. Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: “Verklaar vir ons die gelykenis van die drabok in die saailand.” Hy het geantwoord: “Die een wat die goeie saad saai, is die •Seun van die Mens; die saailand is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die •koninkryk; die drabok is die kinders van die Bose; die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel; die oes is die voleinding van die tyd; en dié wat oes, is engele. Net soos die drabok dan bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, so sal dit wees by die voleinding van die tyd. Die Seun van die Mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk al die struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf, bymekaarmaak en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Dan sal die •regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister! ” “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n skat wat in die veld begrawe lê. 'n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n handelaar op soek na goeie pêrels. Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop.
MATTEUS 13:24-46 Die Boodskap (DB)
“Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’ Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’ “‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’” Jesus het voortgegaan met nog ’n verhaal: “God se nuwe wêreld kan met ’n baie klein saadjie, ’n mosterdsaadjie, vergelyk word. Iemand vat daardie klein saadjie en plant dit buite. Uit hierdie piepklein saadjie groei so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dit is so groot dat voëls selfs daarin nes kan maak.” Jesus het verder gepreek: “Luister nou na die verhaal oor die suurdeeg. God se nuwe wêreld werk net so. ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit goed in ’n groot skottel deeg in. Na ’n ruk sal die suurdeeg elke stukkie deeg in daardie skottel laat rys.” So het Jesus die een verhaal na die ander vertel. Die profete het mos al voorspel: “Ek sal verhale gebruik as Ek preek. So sal Ek julle dinge vertel wat niemand nog ooit gehoor het nie.” Daarna is Jesus en sy getrouste volgelinge alleen huis toe. Daar gekom, vra hulle Hom: “Ons verstaan nie mooi wat U met die verhaal van die onkruid bedoel het nie. Verduidelik dit asseblief vir ons.” Jesus het begin verduidelik: “Die boer wat die skoon saad saai, is die Seun. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier. “Neem hierdie dinge ernstig op. “Luister mooi na wat Ek sê.” “Luister ook hierna. Om God as jou Here te hê is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. Die skat het in die veld gelê. Toevallig ontdek iemand dit toe eendag, maar hy kon dit nie vat nie omdat dit nie sy grond was nie. Hy maak die skat toe weer mooi toe. Hy was so opgewonde daaroor dat hy al sy besittings gaan verkoop het. Met die geld het hy toe daardie stuk grond gaan koop. “Die vergelykings met ’n juwelier en ’n visnet kan julle ook help om te verstaan wat God se nuwe wêreld vir mense kan beteken. “’n Juwelier het die wêreld vol gereis op soek na goeie pêrels. Skielik loop hy ’n uitsonderlike en baie waardevolle pêrel raak. Hy wou dit vreeslik graag hê. Daarom gaan verkoop hy toe alles wat hy het en koop die pêrel.
MATTEUS 13:24-46 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ” Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n mosterd-saad in sy grond geplant het. Dit is die kleinste saadjie van al die soorte saad, maar wanneer die plantjie klaar gegroei het, dan is dit groter as die ander plante in die tuin en dit word 'n boom. Dan kom die voëls en hulle maak neste in die boom se takke.” Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n vrou 'n klein stukkie suurdeeg neem en dit meng met drie sea meel. Die meel word dan deeg, en die suurdeeg laat al die deeg rys en groter word.” Jesus het al hierdie dinge vir baie mense gesê. Hy het gelykenisse vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. So het die woorde waar geword wat die profeet in die Ou Testament gesê het. Hy het gesê: “ Ek sal gelykenisse gebruik wanneer Ek met hulle praat. Daar is dinge wat mense nie geweet het nie, dit was 'n geheim. Ek sal dit vir almal vertel.” Jesus het toe weggegaan van die mense en Hy het huis toe gegaan. Sy dissipels het na Hom toe gekom en hulle het gesê: “Verduidelik asseblief vir ons wat beteken die gelykenis van die onkruid in die koringland.” Jesus het vir hulle gesê: “Die Persoon wat die goeie saad saai, is Ek, die Seun van die mens. Die koringland is die wêreld. Die goeie saad is die goeie mense, God regeer oor hulle. Die onkruid is die slegte mense, die slegte een, die duiwel, regeer oor hulle. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die tyd wanneer die koring ryp is en die werkers dit afsny, is die tyd wanneer dit die einde van die wêreld sal wees. Die werkers wat die koring-oes bymekaarmaak, is die engele. Hulle maak die onkruid bymekaar en gooi dit in die vuur. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die Seun van die mens sal dan sy engele stuur, en hulle sal die sondaars bymekaarmaak en wegvat daar waar God regeer. Hulle sal die mense wegvat wat ander mense verlei het om sonde te doen en die mense wat nie gedoen het wat God se wette sê nie. Die engele sal al daardie sondaars in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hulle sal hard op hulle tande byt van pyn. Dan sal die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, blink soos die son. Hulle sal daar wees waar hulle Vader Koning is. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!” Jesus het ook gesê: “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit soos wanneer iemand sy duur goed in die veld begrawe het. Eendag het 'n ander man die goed gekry. Hy het dit dadelik weer toegemaak. Hy was baie bly, en daarom het hy weggegaan en alles verkoop wat hy gehad het. Toe het hy daardie stuk grond gaan koop. “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer 'n man duur pêrels gesoek het en dit wou koop. Toe hy 'n baie duur pêrel sien, het hy alles verkoop wat hy gehad het en toe het hy die pêrel gaan koop.”
MATTEUS 13:24-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: 'n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur. 'N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. 'n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af. NADAT Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. VERDER is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.
MATTEUS 13:24-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel en gesê: Die koninkryk van die hemele is vergelykbaar met 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het. Maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en weggegaan. Maar toe die lem opgespring en vrugte gedra het, het die onkruid ook verskyn. Toe kom die dienaars van die huisheer en sê vir hom: Meneer, het u nie goeie saad in u land gesaai nie? waar kom dit dan onkruid vandaan? Hy sê vir hulle: 'n Vyand het dit gedoen. Die dienaars sê vir hom: Wil jy dan dat ons hulle gaan bymekaarmaak? Maar hy sê: Nee! dat julle nie, terwyl julle die onkruid bymekaarmaak, ook die koring daarmee uitroei nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe; en in die tyd van die oes sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand; maar bring die koring bymekaar in my skuur. 'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man geneem en in sy land gesaai het. Dit is wel die minste van al die saad, maar as dit gegroei het, is dit die grootste onder die kruie en word 'n boom, sodat die voëls van die hemel kom en vernag in die takke daarvan. 'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel; Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie mate meel weggesteek het totdat dit alles gesuur is. Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse aan die skare gesê; en sonder gelykenis het Hy nie met hulle gespreek nie. Sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is deur te sê: Ek sal my mond oopmaak deur gelykenisse; Ek sal dinge uitspreek wat van die grondlegging van die wêreld af geheim gehou is. Toe het Jesus die skare weggestuur en in die huis ingegaan, en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Vertel ons die gelykenis van die onkruid van die veld. Hy antwoord en sê vir hulle: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens; Die veld is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die koninkryk; maar die onkruid is die kinders van die Bose; Die vyand wat hulle gesaai het, is die duiwel; die oes is die einde van die wêreld; en die maaiers is die engele. Daarom word die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand; so sal dit wees aan die einde van hierdie wêreld. Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk versamel alle dinge wat aanstoot gee en die wat ongeregtigheid doen; en sal hulle in 'n vuuroond gooi: daar sal 'n geween en gekners van die tande wees. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. Weereens, die koninkryk van die hemele is soos 'n skat wat in 'n veld verborge is; wat, as iemand dit kry, wegsteek, en uit blydskap daaroor gaan en alles wat hy het verkoop, en daardie stuk grond koop. Weereens, die koninkryk van die hemele is soos 'n handelaar wat mooi pêrels soek. Hy het, toe hy een baie kosbare pêrel gekry het, gegaan en alles wat hy gehad het verkoop en dit gekoop.
MATTEUS 13:24-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ “‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. “‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. “Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’” Hier is nog ’n gelykenis wat Hy vir hulle vertel het: “God se koningsheerskappy is soos ’n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ’n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak.” Hy het ook die volgende gelykenis vir hulle vertel: “God se koningsheerskappy is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik het om brood te bak. Al het sy net ’n bietjie suurdeeg in ’n groot baksel meel ingewerk, het dit uiteindelik alles deursuur.” Jesus het altyd gelykenisse soos hierdie gebruik as Hy met die skare praat. Om die waarheid te sê, Hy het nooit met hulle gepraat sonder om gelykenisse te gebruik nie. So het die uitspraak van die profeet uitgekom: “Ek sal deur middel van gelykenisse met julle praat. Ek sal bekendmaak wat geheim gebly het van die skepping van die wêreld af.” Daarna het Jesus van die skare af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe na Hom toe en vra: “Verduidelik asseblief vir ons die gelykenis van die onkruid op die saailand.” “Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort. Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele. “Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” “God se koninkryk is soos ’n skat wat in ’n stuk grond weggesteek lê. Iemand kry dit daar, maar steek dit dadelik weer weg. Oorstelp van blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie stuk grond.” “God se koninkryk is ook soos ’n pêrelhandelaar op soek na mooi pêrels. As hy een baie kosbare pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie pêrel.”