Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ”
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. ”
Hy het nog 'n gelykenis vir hulle vertel: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het, totdat dit heeltemal deursuur is. ”
Dit alles het Jesus deur gelykenisse aan die skare vertel, en sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is:
“Ek sal deur gelykenisse spreek;
Ek sal uitbasuin wat van die grondlegging van die wêreld af verborge was.”
Toe het Jesus die skare weggestuur en die huis binnegegaan. Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: “Verklaar vir ons die gelykenis van die drabok in die saailand.” Hy het geantwoord: “Die een wat die goeie saad saai, is die •Seun van die Mens; die saailand is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die •koninkryk; die drabok is die kinders van die Bose; die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel; die oes is die voleinding van die tyd; en dié wat oes, is engele. Net soos die drabok dan bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, so sal dit wees by die voleinding van die tyd. Die Seun van die Mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk al die struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf, bymekaarmaak en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Dan sal die •regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister! ”
“Die •koninkryk van die hemele is soos 'n skat wat in die veld begrawe lê. 'n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond.
“Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n handelaar op soek na goeie pêrels. Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop.