Lukas 4:31-44

Lukas 4:31-44 DB

Hierna het Jesus na Kapernaum toe gegaan, ’n dorp in Galilea. Toe die sabbat aanbreek, het Hy die inwoners in die Joodse aanbiddingsplek gaan leer wat God van hulle vra. Almal was verstom oor wat Hy gesê het. Daar was soveel gesag in sy woorde. In die sinagoge was daar ’n man wat in die mag van ’n duiwel was. Toe hy naby Jesus kom, het die duiwel hom skielik hard laat skree: “Wat het ons met Jou te doen, Jesus van Nasaret? Los ons uit! Dink Jy miskien dat Jy ons kan kom vernietig? Ek weet baie goed wie Jy is: Jy is daardie man wat van God af kom!” Jesus het die duiwel dadelik stilgemaak: “Bly stil! Gee pad uit die man uit!” Die duiwel het die man toe op die grond neergegooi en padgegee. Gelukkig het hy nie seergekry nie. Almal wat dit gesien het, was uitermate verbaas. Hulle het onder mekaar begin praat en gesê: “Wie is hierdie man dat hy met ’n enkele woord sulke groot dinge kan laat gebeur? Hy sê net vir die duiwels om pad te gee, dan doen hulle dit!” Kort voor lank was Jesus groot nuus. Almal in daardie omgewing het van Hom gehoor. Almal was aan die praat oor al die groot dinge wat Jesus doen. Nadat Jesus uit die sinagoge gestap het, het Hy na Simon se huis toe gegaan. Daar aangekom, het Hy gehoor dat Simon se skoonma baie siek geword het. Sy het in die bed gelê, vuurwarm van die koors. Haar familie was baie bekommerd oor haar. “Kan U nie iets vir haar doen nie?” het hulle vir Jesus gevra. Hy het toe by haar bed gaan staan en vir die koors gesê: “Gee pad uit haar liggaam uit. Nou dadelik!” Daar op die plek het Simon se skoonma gesond geword. Sy het dadelik uit die bed opgestaan en vir almal kos gemaak. Toe dit aand word, het baie mense hulle siekes na Jesus toe gebring. Jesus het hulle een vir een aangeraak. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle almal gesond gemaak. Jesus het ook ’n hele klomp duiwels uit mense verdryf. Wanneer hierdie duiwels die mense verlaat het, het hulle hard geskree: “U is die Seun van God, U is die Seun van God!” Maar Jesus het hulle beveel om stil te bly. Die bose magte het baie goed geweet dat Hy die Messias is, die Een wat deur God gestuur is om mense te kom verlos. Maar Jesus wou nie hê dat die duiwels moes sê wie Hy is nie. Hy wou dit self doen, op sy eie manier. Die volgende oggend toe dit lig word, het Jesus na ’n verlate plek toe vertrek om ’n bietjie alleen te wees. Die skare het agtergekom dat Hy weg is. Hulle het oral in die omgewing na Hom begin soek. Uiteindelik het hulle Jesus opgespoor. ’n Groot klomp mense het op Hom toegesak. Jesus kon amper nie beweeg nie, so baie mense was daar. Hy het vir hulle gesê: “Ek kan nie net vir julle preek nie. Ek moet die goeie nuus oor God se nuwe wêreld nog in baie ander plekke gaan bekendmaak. Dit is waarvoor God My gestuur het.” Jesus het in die verskillende sinagoges van die Jode gepreek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 4:31-44

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid