Lukas 4:31-44

Lukas 4:31-44 AFR20

Hierna het Hy na Kapernaum afgegaan, 'n stad in Galilea, waar Hy die mense gereeld op die Sabbatdag onderrig het. Hulle was verbaas oor sy lering, omdat Hy met gesag gepraat het. In die •sinagoge was daar 'n man in wie daar die gees van 'n •onrein demoon was. Hy het kliphard geskreeu: “Ag, los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God! ” Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die demoon het die man tussen hulle op die grond laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom te beseer. Almal was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Wat is besonders omtrent hierdie man se woorde, dat Hy die onrein geeste met soveel gesag en mag gebied, en hulle dan die mense verlaat?” Die nuus oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei. Nadat Jesus die •sinagoge verlaat het, is Hy na Simon se huis en het daar ingegaan. Simon se skoonmoeder was siek met 'n hoë koors, en daarom het hulle Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het oor haar gebuk en die koors bestraf, en dit het haar verlaat. Sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. Teen sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Daar het ook demone uit baie mense uitgegaan, terwyl hulle skreeu: “U is die •Seun van God!” Maar Hy het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om te praat nie. Hulle het immers geweet dat Hy die Christus is. Teen dagbreek het Hy vertrek en na 'n verlate plek gegaan. Die skares het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, het hulle Hom probeer verhinder om van hulle af weg te gaan. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.” En Hy het voortgegaan om in die •sinagoges van Judea te preek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 4:31-44

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid