Jesus was vol van die krag van die Heilige Gees toe Hy van die Jordaanrivier af teruggekom het. Die Gees het Hom toe na die woestyn toe gelei. Daar het die duiwel Hom ingewag. Veertig dae lank het hy Hom getreiter met allerhande versoekings. Gedurende daardie tyd het Jesus niks te ete gehad nie. Toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het hierdie kans aangegryp en vir Jesus gesê: “Jy sê mos jy is die Seun van God. Wys dit nou ’n slag! Sê ’n bietjie vir hierdie klip om in brood te verander.” Maar Jesus het geantwoord: “Daar staan in die Bybel: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. God se Woord is belangriker as kos.’” Die duiwel het toe ’n ander strategie gebruik. Hy het Jesus teen ’n berg opgevat en in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld aan Hom gewys. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune, met al hulle mag en glorie. Eintlik behoort hulle aan my. Ek kan met al die volke op die aarde maak net wat ek wil. Maar ek het besluit om dit alles vir jou te gee. Daar is net een voorwaarde: buig voor my. Aanbid my as jou god. Dan is die hele wêreld joune.” Jesus het geweier. Hy het die duiwel geantwoord: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘Jy mag net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’” Daarna het die duiwel vir Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar aangekom, het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys nou dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het sy engele beveel om jou te beskerm.’ En: ‘Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’” Daarna het die duiwel moed opgegee. Hy het padgegee en Jesus ’n ruk lank uitgelos. Vol van die krag van die Heilige Gees het Jesus na Galilea toe teruggekeer. Kort voor lank het almal geweet dat Hy terug is. Jesus het oral in die sinagoges gepreek waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid. Die mense het groot respek vir Jesus gehad. Op ’n dag het Jesus na Nasaret toe gegaan waar Hy grootgeword het. Oudergewoonte het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Bybel te lees, het hulle die boekrol van Jesaja vir Hom gegee. Jesus het dit oopgemaak en begin lees: “Die Gees van die Here is op my. Hy het my aangestel om goeie nuus te bring vir daardie mense op wie almal neersien; van nou af is hulle vir God baie spesiaal. God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy groot jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’” Daarna het Jesus die boekrol toegemaak en dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee. Hy het gaan sit terwyl almal se oë op Hom vasgenael was. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.” Almal in die sinagoge was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat Jesus sulke mooi dinge sê nie. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” het hulle onder mekaar gevra. “Is dit nie verstommend dat hy sulke dinge sê nie?” Toe sê Jesus vir die mense: “Julle sal seker nou vir My sê: ‘Dokter, maak jouself gesond.’ Julle weet mos van al die genesings en wonderwerke wat Ek in Kapernaum gedoen het. Nou wil julle seker hê dat Ek dieselfde dinge hier in my tuisdorp, onder my eie mense moet kom doen. Wel, Ek het nuus vir julle. Geen boodskapper van God word ooit deur sy eie mense aanvaar nie. Kyk maar net na julle eie geskiedenis, dan sal julle sien Ek praat die waarheid. Vat nou maar vir Elia. In sy tyd was daar ’n baie groot hongersnood in Israel. ’n Volle drie en ’n half jaar lank het die mense doodgegaan van die honger. Tog het Elia nie na een van die weduwees in Israel toe gegaan nie. Nee, God het hom net na ’n weduwee in Sarfat, daar in die heidense gebied van Sidon, gestuur. En in die tyd van die profeet Elisa was daar ook baie melaatses in Israel. Tog het God net vir Naäman die Siriër gesond laat word van sy melaatsheid.” Toe die mense in die sinagoge hoor wat Jesus sê, het hulle ontplof van woede. Hulle het opgespring en Jesus hardhandig uit die dorp verwilder. Hulle het Hom na ’n kloof toe gevat op die kant van die berg waarop Nasaret gebou was. Daar wou hulle Hom afgooi. Maar Jesus het eenvoudig tussen hulle deurgestap en uit Nasaret padgegee. Hierna het Jesus na Kapernaum toe gegaan, ’n dorp in Galilea. Toe die sabbat aanbreek, het Hy die inwoners in die Joodse aanbiddingsplek gaan leer wat God van hulle vra. Almal was verstom oor wat Hy gesê het. Daar was soveel gesag in sy woorde.
Lees Lukas 4
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Lukas 4:1-32
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's