LUKAS 4:1-32

LUKAS 4:1-32 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weggegaan van die Jordaan-rivier. Die Heilige Gees was in Jesus en die Gees het Hom na die woestyn gelei. Daar het die duiwel 40 dae lank probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus het niks geëet nie, en toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het vir Jesus gesê: “As Jy die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf: ‘ 'n Mens lewe nie net van brood nie.’ ” Toe het die duiwel vir Jesus na 'n hoë plek geneem. Hy het vir Jesus vinnig al die lande in die wêreld gewys. Die duiwel het vir Jesus gesê: “Ek sal vir Jou al hierdie lande en al hulle goed gee, want God het dit alles vir my gegee, en ek kan dit gee vir wie ek wil. As Jy my aanbid, dan sal Jy dit alles kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf: “ Jy moet jou God die Here aanbid en net vir Hom dien.” Toe het die duiwel vir Jesus na Jerusalem geneem en hy het Jesus op die hoogste plek by die tempel laat staan. Die duiwel sê toe vir Jesus: “As Jy die Seun van God is, spring van hierdie plek af, want in die Ou Testament is geskryf: “ God sal vir sy engele sê hulle moet jou beskerm,” en “hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.” Maar Jesus het vir die duiwel geantwoord: “God het ook in die Ou Testament gesê: ‘ Jy moenie vir jou God die Here iets vra wat jy nie mag vra nie.’ ” Die duiwel het opgehou probeer om Jesus verkeerd te laat doen, en hy het weggegaan van Hom. Later het hy weer gekom. Jesus het teruggegaan na Galilea. Die Heilige Gees het Hom sterk gemaak. In Galilea het al die mense oor Jesus gepraat. Jesus het vir hulle in die sinagoges geleer, en almal het gedink Hy is wonderlik. Jesus het in Nasaret gekom, die stad waar Hy grootgeword het. Hy het altyd op die Sabbatdag na die sinagoge gegaan. Eendag het Hy in die sinagoge opgestaan om vir die mense uit die Bybel te lees. Iemand het die boek van die profeet Jesaja vir Hom gegee. Jesus het die boek oopgemaak en Hy het gelees wat Jesaja geskryf het: Die Gees van die Here lei my. Die Here het my gesalf en gesê ek moet die goeie boodskap vir die arm mense bring. Hy het my gestuur om vir die gevangenes te sê hulle is vry, hulle kan uitgaan. Hy het my gestuur om vir die blinde mense te sê hulle sal weer kan sien. Ek moet almal vrymaak wat swaarkry. Ek moet sê dit is nou die tyd wanneer die Here alles sal regmaak. Daarna het Jesus die boek toegemaak en Hy het dit teruggegee vir die persoon wat dit moes bêre. Jesus het gaan sit en almal in die sinagoge het na Jesus gekyk. Jesus het met die mense begin praat en gesê: “Vandag het God laat gebeur wat Ek uit die Bybel gelees het.” Almal het goed gepraat oor Jesus. Hulle het gedink die dinge wat Hy sê, is wonderlik. Hulle het vir mekaar gesê: “Hy is Josef se seun, en luister watter wonderlike dinge sê hy!” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moenie te gou bly word oor My nie. Julle sal later vir My wil sê: ‘As jy 'n dokter wil wees, dan moet jy eers jouself gesond maak. Ons het gehoor van al die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het. Jy moet dieselfde dinge nou ook hier doen, hier in die stad waar jy grootgeword het.’ ” Jesus het ook gesê: “Maar Ek sê vir julle: Mense hou nie van 'n profeet in die stad waar sy mense woon nie. Luister nou goed: In die tyd toe Elia in die land Israel gelewe het, het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie, en daar was baie min kos op die hele aarde. Daar was baie weduwees in die land Israel, maar die Here het nie vir Elia na een van hulle toe gestuur nie, net na 'n weduwee in die stad Sarepta in Sidon. En in die tyd toe die profeet Elisa gelewe het, was daar baie melaatse mense in die land Israel. Maar die Here het nie een van hulle gesond gemaak nie, net vir Naäman, die Siriër.” Almal in die sinagoge het kwaad geword toe hulle hoor wat Jesus sê. Hulle het opgestaan en vir Jesus weggejaag uit die stad. Hulle stad was op 'n berg, en hulle het Hom gevat tot by die kant van die berg. Hulle wou Hom daar afstamp. Maar Jesus het tussen die mense deur geloop en weggegaan. Jesus het toe na Kapernaum, 'n stad in Galilea, gegaan. Daar het Hy elke Sabbatdag vir die mense geleer. Die mense was baie verbaas oor die dinge wat Hy vir hulle geleer het, want hulle het besef dat wat Hy gesê het, van God gekom het.

LUKAS 4:1-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword. Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word. Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God. Toe bring die duiwel Hom op 'n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in 'n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy 'n tyd lank van Hom gewyk. EN Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan; en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie? En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook. En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie. Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar 'n groot hongersnood gekom het in die hele land, en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na 'n weduwee. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër. En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. En Hy het afgekom na Kapérnaüm, 'n stad van Galiléa, en hulle op die sabbat geleer. En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.

LUKAS 4:1-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was. Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie. ” Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.” Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. ” Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: “As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm, “en ook: “Op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ” Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus 'n tyd lank met rus gelaat. Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat. Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’ Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar 'n groot hongersnood in die hele land gekom het. Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.” Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan. Daarna het Hy na Kapernaum toe gegaan, 'n dorp in Galilea, en die mense gereeld op die sabbatdag geleer. Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat.

LUKAS 4:1-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger. Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die •Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie.’ ” Hierop het die Duiwel Hom na 'n hoë plek geneem, en in 'n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee , en ek gee dit aan wie ek wil. As u my aanbid, sal dit alles u s'n wees.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ” En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf, “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee om jou te beskerm,’ en ook, “ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen 'n klip jou voet stamp nie.’ ” Maar Jesus antwoord hom: “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir 'n tyd lank van Jesus weggebly. Vol van die krag van die Gees, het Jesus na Galilea teruggegaan, en die nuus oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Hy het die mense in hulle •sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat. Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die •sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.” Almal het hulle instemming met Hom betuig, en was verwonderd oor die woorde vol genade wat uit sy mond gevloei het. En hulle het gesê: “Is Hy dan nie die seun van Josef nie?” Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou, ‘Geneesheer, genees jouself. Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen daardie dinge nou ook hier in jou tuisdorp.’ ” En Hy het gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Geen profeet is welkom in sy tuisdorp nie. Wat Ek vir julle sê, is die waarheid: In Elia se tyd, toe die hemel vir drie jaar en ses maande gesluit gebly en 'n groot hongersnood in die land geheers het, was daar baie weduwees in Israel. Tog is Elia nie na een van hulle gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat, in die omgewing van Sidon. Daar was ook in die tyd van die profeet Elisa baie melaatses in Israel. Tog is nie één van hulle gereinig nie, maar wel Naäman, die Siriër.” Toe hulle hierdie dinge hoor, het almal in die sinagoge woedend geword. Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. Hierna het Hy na Kapernaum afgegaan, 'n stad in Galilea, waar Hy die mense gereeld op die Sabbatdag onderrig het. Hulle was verbaas oor sy lering, omdat Hy met gesag gepraat het.

LUKAS 4:1-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Jesus, vol van die Heilige Gees, het van die Jordaan af teruggekeer en is deur die Gees na die woestyn gelei, Omdat hy veertig dae deur die duiwel versoek is. En in dié dae het hy niks geëet nie, en toe hulle verby was, het hy daarna honger gehad. En die duiwel sê vir hom: As U die Seun van God is, beveel hierdie klip dat dit brood moet word. En Jesus antwoord hom en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God. En die duiwel het Hom op 'n hoë berg geneem en aan Hom al die koninkryke van die wêreld in 'n oomblik van tyd gewys. En die duiwel sê vir hom: Ek sal jou al hierdie mag gee en die heerlikheid van hulle, want dit is aan my oorgegee; en aan wie Ek wil, gee Ek dit. As jy dan vir My wil aanbid, sal alles joune wees. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. En hy het hom na Jerusalem gebring en hom op die toppunt van die tempel gestel en vir hom gesê: As U die Seun van God is, werp uself daarvandaan af. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee oor jou om jou te bewaar. En hulle moet jou in hul hande dra, sodat jy nie ooit jou voet teen 'n klip stamp nie. En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. En toe die duiwel al die versoeking beëindig het, het hy 'n tyd lank van hom gewyk. En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n roem van Hom uitgegaan in die hele omtrek. En Hy het in hulle sinagoges geleer, terwyl Hy deur almal verheerlik is. En hy het in Nasaret gekom waar hy grootgeword het; en soos sy gewoonte was, het hy op die sabbatdag in die sinagoge ingegaan en opgestaan om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan hom oorgegee. En toe hy die boek oopmaak, vind hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig; Hy het My gestuur om die gebrokenes van hart te genees, om verlossing aan die gevangenes te verkondig en aan blindes herstel van gesig, om die wat gebroke is in vryheid te laat, Om die aangename jaar van die Here te verkondig. En hy het die boek toegemaak en dit weer aan die bedienaar gegee en gaan sit. En die oë van almal wat in die sinagoge was, was op Hom gevestig. En Hy het vir hulle begin sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. En almal het vir hom getuig en verwonderd oor die vriendelike woorde wat uit sy mond uitgegaan het. En hulle sê: Is dit nie die seun van Josef nie? En Hy sê vir hulle: Julle sal sekerlik vir my hierdie spreekwoord sê: Geneesheer, genees jouself; alles wat ons gehoor het in Kapernaum gedoen, doen ook hier in jou land. En hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet word in sy eie land aanvaar nie. Maar Ek sê voorwaar vir julle, baie weduwees was in Israel in die dae van Elía, toe die hemel drie jaar en ses maande toegesluit was, toe daar groot hongersnood in die hele land was; Maar na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarepta, 'n stad van Sidon, na 'n vrou wat 'n weduwee was. En baie melaatses was in Israel in die tyd van die profeet Eliseus; en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Arameër. En almal wat in die sinagoge was, is vervul met toorn toe hulle dit hoor, En hulle het opgestaan en hom uit die stad uitgedryf en hom gelei na die rand van die heuwel waarop hulle stad gebou is, sodat hulle hom van voor af kon neerwerp. Maar hy wat tussen hulle deur gegaan het, het sy pad gegaan, En hy het afgekom na Kapernaum, 'n stad van Galiléa, en hulle op die sabbatdae geleer. En hulle was verstom oor sy leer, want sy woord was met krag.

LUKAS 4:1-32 Die Boodskap (DB)

Jesus was vol van die krag van die Heilige Gees toe Hy van die Jordaanrivier af teruggekom het. Die Gees het Hom toe na die woestyn toe gelei. Daar het die duiwel Hom ingewag. Veertig dae lank het hy Hom getreiter met allerhande versoekings. Gedurende daardie tyd het Jesus niks te ete gehad nie. Toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het hierdie kans aangegryp en vir Jesus gesê: “Jy sê mos jy is die Seun van God. Wys dit nou ’n slag! Sê ’n bietjie vir hierdie klip om in brood te verander.” Maar Jesus het geantwoord: “Daar staan in die Bybel: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. God se Woord is belangriker as kos.’” Die duiwel het toe ’n ander strategie gebruik. Hy het Jesus teen ’n berg opgevat en in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld aan Hom gewys. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune, met al hulle mag en glorie. Eintlik behoort hulle aan my. Ek kan met al die volke op die aarde maak net wat ek wil. Maar ek het besluit om dit alles vir jou te gee. Daar is net een voorwaarde: buig voor my. Aanbid my as jou god. Dan is die hele wêreld joune.” Jesus het geweier. Hy het die duiwel geantwoord: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘Jy mag net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’” Daarna het die duiwel vir Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar aangekom, het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys nou dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het sy engele beveel om jou te beskerm.’ En: ‘Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’” Daarna het die duiwel moed opgegee. Hy het padgegee en Jesus ’n ruk lank uitgelos. Vol van die krag van die Heilige Gees het Jesus na Galilea toe teruggekeer. Kort voor lank het almal geweet dat Hy terug is. Jesus het oral in die sinagoges gepreek waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid. Die mense het groot respek vir Jesus gehad. Op ’n dag het Jesus na Nasaret toe gegaan waar Hy grootgeword het. Oudergewoonte het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Bybel te lees, het hulle die boekrol van Jesaja vir Hom gegee. Jesus het dit oopgemaak en begin lees: “Die Gees van die Here is op my. Hy het my aangestel om goeie nuus te bring vir daardie mense op wie almal neersien; van nou af is hulle vir God baie spesiaal. God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy groot jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’” Daarna het Jesus die boekrol toegemaak en dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee. Hy het gaan sit terwyl almal se oë op Hom vasgenael was. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.” Almal in die sinagoge was stomgeslaan. Hulle kon nie glo dat Jesus sulke mooi dinge sê nie. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” het hulle onder mekaar gevra. “Is dit nie verstommend dat hy sulke dinge sê nie?” Toe sê Jesus vir die mense: “Julle sal seker nou vir My sê: ‘Dokter, maak jouself gesond.’ Julle weet mos van al die genesings en wonderwerke wat Ek in Kapernaum gedoen het. Nou wil julle seker hê dat Ek dieselfde dinge hier in my tuisdorp, onder my eie mense moet kom doen. Wel, Ek het nuus vir julle. Geen boodskapper van God word ooit deur sy eie mense aanvaar nie. Kyk maar net na julle eie geskiedenis, dan sal julle sien Ek praat die waarheid. Vat nou maar vir Elia. In sy tyd was daar ’n baie groot hongersnood in Israel. ’n Volle drie en ’n half jaar lank het die mense doodgegaan van die honger. Tog het Elia nie na een van die weduwees in Israel toe gegaan nie. Nee, God het hom net na ’n weduwee in Sarfat, daar in die heidense gebied van Sidon, gestuur. En in die tyd van die profeet Elisa was daar ook baie melaatses in Israel. Tog het God net vir Naäman die Siriër gesond laat word van sy melaatsheid.” Toe die mense in die sinagoge hoor wat Jesus sê, het hulle ontplof van woede. Hulle het opgespring en Jesus hardhandig uit die dorp verwilder. Hulle het Hom na ’n kloof toe gevat op die kant van die berg waarop Nasaret gebou was. Daar wou hulle Hom afgooi. Maar Jesus het eenvoudig tussen hulle deurgestap en uit Nasaret padgegee. Hierna het Jesus na Kapernaum toe gegaan, ’n dorp in Galilea. Toe die sabbat aanbreek, het Hy die inwoners in die Joodse aanbiddingsplek gaan leer wat God van hulle vra. Almal was verstom oor wat Hy gesê het. Daar was soveel gesag in sy woorde.

LUKAS 4:1-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het vol van die Heilige Gees die Jordaanrivier verlaat. Hy is deur die Gees na die woestyn toe gelei, waar die duiwel Hom vir 40 dae lank versoek het. Hy het die hele tyd niks geëet nie en aan die einde daarvan was Hy baie honger. Die duiwel het toe vir Hom gesê: “As jy die Seun van God is, verander hierdie klip in ’n brood.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee! Die Skrif sê: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.’” Daarna het die duiwel Hom na ’n hoogte geneem en in ’n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys. Die duiwel het vir Hom gesê: “Ek sal vir jou die glorie en die mag oor al hierdie koninkryke gee, want hulle is myne om vir enigeen te gee vir wie ek wil. Ek sal dit vir jou gee as jy neerbuig en my aanbid.” Jesus het geantwoord: “Die Skrif sê: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’” Toe het die duiwel Hom na Jerusalem geneem, na die hoogste punt van die tempel, en gesê: “As jy die Seun van God is, spring hier af! Want die Skrif sê: ‘God sal aan sy engele opdrag gee om jou te beskerm.’ “En: ‘hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie dalk jou voet teen ’n klip stamp nie.’” Jesus het hom geantwoord: “Die Skrif sê ook: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’” Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid. Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword. Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. Toe Hy kom in sy tuisdorp Nasaret waar Hy grootgeword het, het Hy soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan en opgestaan om die Skrif te lees. Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig. Hy het My gestuur om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers, en dat die tyd van die Here se goedheid gekom het.” Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk. Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!” Almal wat daar was, het goed van Hom gepraat en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. “Hoe is dit moontlik?” het hulle gevra. “Is hy dan nie Josef se seun nie?” Toe het Jesus gesê: “Miskien sal julle die spreekwoord vir My aanhaal: ‘Geneesheer, genees jouself’ met die bedoeling: ‘Waarom doen jy nie hier in jou tuisdorp die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het nie?’ Maar die waarheid is, ’n profeet word nie in sy tuisdorp aanvaar nie. “Daar was sekerlik baie weduwees in Israel wat hulp nodig gehad het in Elia se tyd toe dit drie en ’n half jaar nie gereën het nie en hongersnood in die land geheers het. Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon. Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.” Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend. Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was. Hulle wou Hom oor die krans stoot, maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan. Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer. Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat.