Jesus het vol van die Heilige Gees die Jordaanrivier verlaat. Hy is deur die Gees na die woestyn toe gelei, waar die duiwel Hom vir 40 dae lank versoek het. Hy het die hele tyd niks geëet nie en aan die einde daarvan was Hy baie honger.
Die duiwel het toe vir Hom gesê: “As jy die Seun van God is, verander hierdie klip in ’n brood.”
Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee! Die Skrif sê: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.’”
Daarna het die duiwel Hom na ’n hoogte geneem en in ’n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys. Die duiwel het vir Hom gesê: “Ek sal vir jou die glorie en die mag oor al hierdie koninkryke gee, want hulle is myne om vir enigeen te gee vir wie ek wil. Ek sal dit vir jou gee as jy neerbuig en my aanbid.”
Jesus het geantwoord: “Die Skrif sê:
‘Jy moet die Here jou God aanbid
en Hom alleen dien.’”
Toe het die duiwel Hom na Jerusalem geneem, na die hoogste punt van die tempel, en gesê: “As jy die Seun van God is, spring hier af! Want die Skrif sê:
‘God sal aan sy engele
opdrag gee
om jou te beskerm.’
“En:
‘hulle sal jou
op die hande dra
sodat jy nie dalk jou voet
teen ’n klip stamp nie.’”
Jesus het hom geantwoord: “Die Skrif sê ook: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’”
Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid.
Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword. Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.
Toe Hy kom in sy tuisdorp Nasaret waar Hy grootgeword het, het Hy soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan en opgestaan om die Skrif te lees. Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê:
“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My aangestel het
om die Goeie Nuus
vir die armes aan te kondig.
Hy het My gestuur om aan te
kondig
dat gevangenes vrygelaat sal
word,
dat blindes sal sien,
dat onderdruktes bevry sal word
van hulle verdrukkers,
en dat die tyd van die Here
se goedheid gekom het.”
Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk. Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!”
Almal wat daar was, het goed van Hom gepraat en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. “Hoe is dit moontlik?” het hulle gevra. “Is hy dan nie Josef se seun nie?”
Toe het Jesus gesê: “Miskien sal julle die spreekwoord vir My aanhaal: ‘Geneesheer, genees jouself’ met die bedoeling: ‘Waarom doen jy nie hier in jou tuisdorp die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het nie?’ Maar die waarheid is, ’n profeet word nie in sy tuisdorp aanvaar nie.
“Daar was sekerlik baie weduwees in Israel wat hulp nodig gehad het in Elia se tyd toe dit drie en ’n half jaar nie gereën het nie en hongersnood in die land geheers het. Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon. Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.”
Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend. Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was.
Hulle wou Hom oor die krans stoot, maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan.
Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer. Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat.