Lukas 24:36-43

Lukas 24:36-43 DB

Terwyl almal nog opgewonde praat oor wat met Petrus en die twee mans uit Emmaus gebeur het, staan Jesus skielik daar by hulle. “Vrede vir julle,” het Hy vir hulle gesê. Maar die arme klomp het hulle boeglam geskrik. Hulle het gedink dis ’n spook. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Vir wat is julle geloof so klein? Kom staan ’n bietjie nader. Kyk mooi na my hande en na my voete. Sien julle die spykermerke? Dit is Ek, Jesus! Toe, kom vat aan My. Voel my arms en bene. Is julle nou oortuig dat Ek nie ’n spook is nie? ’n Mens kan tog nie aan ’n spook vat nie. Dit het nie vleis en bene nie.” Terwyl Jesus praat, het Hy sy hande en sy voete vir die apostels gewys sodat hulle aan Hom kon vat en kon sien dat dit regtig Hy was. Party van hulle het rondgespring van blydskap terwyl ander Hom net oopmond aangestaar het. Terwyl hulle so verbaas daar rondstaan en nie mooi weet of hulle moet glo wat hulle nou sien nie, sê Jesus vir hulle: “Het julle nie vir My iets om te eet nie?” “Ja, natuurlik,” het hulle geantwoord en dadelik vir Hom gebakte vis voorgesit. Hy het dit daar voor hulle oë opgeëet.