LUKAS 24:36-43
LUKAS 24:36-43 Bybel vir almal (ABA)
Die apostels was nog besig om oor hierdie dinge te praat, toe het Jesus tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “God sal vir julle vrede gee.” Hulle het groot geskrik, hulle het gedink hulle sien 'n spook. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom skrik julle so? En hoekom glo julle nie wat julle sien nie? Kyk na my hande en my voete. Julle sal sien dit is Ek. Kom raak aan My, julle sal sien Ek het 'n liggaam, 'n spook het nie vleis en been nie.” Jesus het dit gesê, en Hy het sy hande en sy voete vir hulle gewys. Hulle was bly maar hulle kon nie glo wat hulle sien nie en hulle het nie geweet wat om te sê nie. Toe vra Jesus vir hulle: “Het julle hier iets wat Ek kan eet?” Hulle het vir Hom 'n stuk gaar vis gegee. Jesus het dit geneem en hulle het gekyk terwyl Hy dit eet.
LUKAS 24:36-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
LUKAS 24:36-43 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien 'n gees. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! 'n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?” Hulle gee Hom toe 'n stuk gebakte vis. Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.
LUKAS 24:36-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle 'n gees sien. Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk – 'n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: “Het julle iets te ete hier?” En hulle het Hom 'n stuk geroosterde vis gegee. Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet.
LUKAS 24:36-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hulle so spreek, het Jesus self in die midde van hulle gestaan en vir hulle gesê: Vrede vir julle! Maar hulle was verskrik en beangs en het gedink dat hulle 'n gees gesien het. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld? en waarom kom gedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dat dit Ek is; hanteer my en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat ek het nie. En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En terwyl hulle uit blydskap nog nie geglo het nie, en hulle verwonderd het, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? En hulle het vir hom 'n stuk gebraaide vis en 'n heuningkoek gegee. En hy het dit geneem en voor hulle geëet.
LUKAS 24:36-43 Die Boodskap (DB)
Terwyl almal nog opgewonde praat oor wat met Petrus en die twee mans uit Emmaus gebeur het, staan Jesus skielik daar by hulle. “Vrede vir julle,” het Hy vir hulle gesê. Maar die arme klomp het hulle boeglam geskrik. Hulle het gedink dis ’n spook. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Vir wat is julle geloof so klein? Kom staan ’n bietjie nader. Kyk mooi na my hande en na my voete. Sien julle die spykermerke? Dit is Ek, Jesus! Toe, kom vat aan My. Voel my arms en bene. Is julle nou oortuig dat Ek nie ’n spook is nie? ’n Mens kan tog nie aan ’n spook vat nie. Dit het nie vleis en bene nie.” Terwyl Jesus praat, het Hy sy hande en sy voete vir die apostels gewys sodat hulle aan Hom kon vat en kon sien dat dit regtig Hy was. Party van hulle het rondgespring van blydskap terwyl ander Hom net oopmond aangestaar het. Terwyl hulle so verbaas daar rondstaan en nie mooi weet of hulle moet glo wat hulle nou sien nie, sê Jesus vir hulle: “Het julle nie vir My iets om te eet nie?” “Ja, natuurlik,” het hulle geantwoord en dadelik vir Hom gebakte vis voorgesit. Hy het dit daar voor hulle oë opgeëet.
LUKAS 24:36-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op? Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle miskien iets te ete hier?” Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis. Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet.